Net soos soveel Suid-Afrikaanse besighede – groot én klein – voel ook Bybel-Media (BM) ná weke se grendeltyd die ekonomiese byt van die Koronavirus.
“Verkope van Bybelkor- en Jeugfokusprodukte het in die grendeltyd met 77% afgeneem en die gesamentlike advertensie-inkomste van LiG en Kerkbode het met 40% gedaal,” volgens Hannelie Matthee, wat waarneem as BM se Uitvoerende Hoof. “Ons inkomste uit donasies is tans 25% minder as waarvoor ons begroot het,” het sy bygevoeg.
Maar Matthee is hoopvol: “Die uitdaging waarvoor ons nou staan, is eenvoudig: Ons moet finansieel gesond bly te midde van hierdie pandemie. Die geskiedenis het ons geleer dat dit moontlik is. Ons het voortgegaan om ’n tydskrif tydens ’n wêreldoorlog uit te gee en ’n kerkkoerant tydens die Groot Griep drukkers toe gestuur. Dit wil gedoen wees! Ons kan nou dieselfde doen …”
BM het op 9 Junie ’n projek bekendgestel wat die organisasie “sal help om opnuut te fokus op die ondersteuning van gemeentes en gelowiges op hulle geloofsreis,” aldus Matthee. “Ek skryf oor hoe ek en jy deel kan wees van die geskiedenis én toekoms van Bybel-Media,” lui die boodskap van Matthee, wat verduidelik dat sy in die 19 jaar wat sy al by BM werk, nog nooit “so onder die indruk was van hoe afhanklik ons van donateurs se ondersteuning is nie.”
Die fondswerwingspoging heet die Bybelboublok-inisiatief en die simboliek van die boublokke is volgens Matthee “dat ons die geloof van kinders, gesinne en lidmate in hierdie afbrekende tyd wil opbou.”
Lees HIER meer oor die projek en hoe jy kan ondersteun.
- Kerkbode is ’n publikasie van Bybel-Media.