Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die erns van vreugde

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

In sy studie oor vreugde in die Nuwe Testament skryf John Barton dat vreugde ’n ernstige saak is. Volgens Mary Douglas is vreugde naamlik die intense liggaamlike belewenis van dit wat vir ons die mees wesenlike in ons lewe is. Vreugde is nie bloot ’n reaksie op dit wat vir ons plesier gee nie. Dit is die intense ervaring van dit wat sin aan ons lewe gee. Ons vreugde verklap dus ons identiteit.

Dit is daarom opvallend hoeveel keer skrywers soos Lukas en Paulus na vreugde verwys om aan te toon wie die volgelinge van Jesus is. Van al Paulus se briewe bevat sy brief aan die Filippense dan ook die grootste konsentrasie ver­wysings na vreugde. Die konsentrasie is onverwags, want met die skryf van die brief is Paulus verhoorafwagtend met die vooruitsig dat hy ter dood veroordeel sou word.

Tog skryf Paulus herhaaldelik oor vreugde (1:18, 25, 2:2, 17, 18, 28, 29; 3:1; 4:1, 4, 10). Dit is nie soseer dat Paulus vreugde beleef ten spyte van sy omstandighede nie. Vreugde bepaal eerder hoe hy na alles, ook sy haglike omstandighede, kyk. Daarom sien hy nie die skande van sy gevangenskap nie. Hy sien eerder die geleentheid wat dit aan hom bied om die evangelie aan die keiserlike wag te verkondig (1:13).

Paulus weeg ook nie die goeie teen die slegte in sy lewe op en besluit dan dat hy meer het om oor bly te wees nie. Vreugde verander eerder hoe hy die goeie en slegte beleef. Daarom vind hy vreugde in sy moontlike dood of vryla­ting (2:17). Paulus vind nie vreugde deur net op die positiewe in sy lewe te fokus nie. Vir Paulus is die vreugde wat hy beleef eerder te danke aan Christus. Daarom roep hy die Filippense herhaaldelik op om hulle vreugde te vind in die Here (3:1; 4:4).

Sy vreugde bestaan daaruit dat hy sy diepste sin beleef in sy identifikasie met die lewe, dood en nabyheid van Jesus (4:5b). Hy verheug hom verder daarin dat hy dié identifikasie met Jesus deel met die Filippense. Daarom dink hy met vreugde oor hulle ontvangs van die evangelie en hulle vernuwing met die koms van Christus (1:4-6).

Wie die werk van Christus hulle verstaanshorison maak, ervaar volgens Paulus vreugde onder alle omstandig­hede.

Prof Marius Nel doseer Nuwe Tes­tament aan die Universiteit Stellenbosch.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top