Hoop waar daar geen hoop is nie

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

“Meneer, waar bly jy?”

“Ek bly op die vlakte van Alles Verloren en in die Huis Sonder Hoop.”

Miskien sal ons ook op die vraag só ’n antwoord gee. En dit is te verstane. Want ons leef in ’n tyd van bedreiging, onsekerheid, spanning, moedeloosheid en uitsigloosheid.

Korona klop aan soveel huise se voordeur en kom ongenooid binne.

Waaraan kan ons vashou as Korona nadersluip? Waaraan kan ons vashou as alles onder ons padgee? As die tak waaraan ons vir lewe en dood klou, begin kraak? Wat kan ons maak as die dag skielik nag word? As die sterre saans ontskitter? Het dit nog sin om te glo? Is God nie dalk net, soos Feuerbach beweer het, pure verbeelding nie? Het God nie sy rug op ons gedraai nie? Waar is God in ’n tyd soos hierdie?

Dit is die vrae waarmee God se volk geworstel het. En toe kom die vertroostende woord.

Die Babiloniese ballingskap wat in 586 vC begin het, is agter die rug. Die Persiese koning het die ballinge huiswaarts laat keer. Die tempel lê nog in puin. Waar is God? Finansieel gaan dit ellendig. Die teruggekeerde ballinge en die inwoners van Jerusalem is arm en mismoedig. Alles lyk uitsigloos. In die tyd, in die jaar 520-518 vC, tree die priester Sagaria as profeet op. Serubbabel is die goewerneur. Sagaria het verwag dat Serubbabel ’n groot leier sou word, maar hy verdwyn van die toneel.

Die strate en pleine van Jerusalem was sonder gedruis.
Die teruggekeerdes het verlang na die blye feesdae
en tempel waar hulle God met groot hosannas kon prys.

En ons? Wat beleef en sien ons elke dag en elke nag?
Die son flikker flou, die sterre tuimel in ’n donker gat.
Ons word deur Korona op hok geslaan, stikkend en stukkend.
Ons sien die merktekens van geweld op elke hoek en draai:
Mense word gewetenloos en brutaal versmoor en vermoor,
klippe laat ruite kletter, vuur stook geboue aan die brand.
In krotstrate en onder sinkdakke snik ’n kind vol honger.

In die tyd van verslaenheid gee die Here in Sagaria 8 hoop en moed aan die moedeloses en wanhopiges. Hy is in beheer. “Ek is hartstogtelik begaan oor Sion …” (vers 2). Al lyk die hede en toekoms hooploos, al lyk ’n nuwe begin onmoontlik, is dit vir die Here moontlik (vers 6). Die woorde van die profeet is woorde van God die Almagtige. Dit is woorde vir mense op moedverloor se vlakte, “julle is Myne en Ek is julle God” (vers 8). Daarom sê die profeet: “Moenie bang wees nie, skep moed (vers 9, 13).

Wat moet ons doen in ’n tyd soos hierdie? Ons moet nie soos ’n donkie by ’n konsertsaal wees nie. Wat sal ’n donkie tog hoor van die klanke van ’n simfonie van Beethoven? Vir hom is dit net ’n lawaai. Hy sal balk, omdraai en weghardloop. Dit moet ons tog in hemelsnaam nie doen nie. Ons moet die woorde van Sagaria hoor. Die blye jubelende klanke. Die Here is die Almagtige. Hy is in beheer. Die Here is hartstogtelik oor ons begaan. Al lyk die einde van Korona, ellende, armoede, geweld en hongersnood vir ons onmoontlik, is dit vir die Here moontlik. Hy sal ons nie los nie. Hy het ons verlos. Ons is Syne. En Hy is ons God. Daarom hoef ons nie bang te wees nie. Ons kan moed skep en moedig leef.

En dan die woorde van Sagaria wat selfs ’n donkie in sy spore laat omdraai: Die Here sal ons name in seënwense gebruik (vers 13). Ons sal tot seën vir ander wees. Seën en nie ’n vloek nie.

  • Prof Cas Vos is emeritus-dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria.