Koronaperke eis tol: Eetplekke staan saam

Daniel Holland is moedeloos. Só beaam die plakkaat wat hy omhoog hou. Hy staan bo-op sy eie restauranttafel voor Yours Truly in die middel van een van Kaapstad se gewildste restaurant- en kroegstrate. Rondom hom is personeel en ondersteuners met hulle eie plakkate vir hierdie etensuurveldtog deur die restaurantvereniging van Suid-Afrika. Verder met Kloofstraat af het werknemers van nog sowat tien restaurante hulle op soortgelyke wyse na die straat en sypaadjies gewend; tesame met nog talle ander regoor die stad, provinsie en land.

Oral te sien, is die hutsmerk #JobsSaveLives. Dit is ’n noodkreet teen handelsperke wat Holland glo die restaurantbedryf vernietig. Sy besigheid se verlies aan omset trek al by R10 m sedert die begin van die grendeltyd.

Hy beklemtoon dat dit uiteraard nie hier oor Yours Truly of selfs Kloofstraat in die besonder gaan nie. Dit gaan oor die ekonomiese oorlewing van almal in die restaurantsektor wat veral aan die pen ry weens die verbod op alkoholhandel en verkorte ure en gewoon ’n afname in klante.

Lees ook: Ons leer nou vinnig

Melinda Gouws, die bestuurder by Knead, ook in Kloofstraat, sê hulle het reeds aan salarisse gesny, reeds geraamte-roosters opgestel waarvolgens alle vet gesny word aan die diensfront. Van 32 personeel na 16, slegs drie voltyds, die res werk een-week-aan-een-week-af. Dit is tawwe ekonomiese tye in ’n provinsie wat, ten tye van die optog, 86 329 Covid-19-gevalle in die Wes-Kaap op hande gehad het, en meer as 380 000, landwyd gemeet.

So maklik raak ’n mens opgevang in jou eie nood. In Kerkbode se geval, koerantdinge: verspreiding, aflewering, dalende intekenaartal, verlies aan advertensie-inkomste. Dan sien jy ’n man op ’n tafel of ’n kelner met ’n plakkaat vol vet letters en jy besef: Ons is almal saam in hierdie ding.

Lees ook | Dana Snyman: Wat jy hier sien, is ’n wonderwerk