Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Waar deernis, liefde is, dáár is die Here

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Anoniem skryf:

Vir my het die kerk se “lockdown” elf jaar gelede begin een helder maanligaand toe ek van die hospitaal af terugry. Die woord “kanker” het ongenooid in elke skadu van ons pastorietuin kom skuil. My man, die dominee, gediagnoseer met fase 4 kan­ker … In die harwar en hartseer van so ’n diagnose het ek naarstigtelik en instinktief gegryp en myself getroos met die kérk, sý kerk, die kerk wat hy jare lank getrou en met groot integriteit bedien het met die genadewoorde van die evangelie. Natuurlik sal sy ouderlinge in ’n kring om hom kom staan, hulle sal aan hom raak en vir hom bid, sy kollega sal aan sy deur klop, tydens uitmergelende chemosessies sal ’n kollega of ’n ouderling saggies langs sy bed kom sit, ’n psalm lees, ’n mede-predikantsvrou sal bel en vra hoe dit gaan. Dalk sal iemand sy onseker tweedejaar-studentekind op Stellenbosch bel en moed inpraat. Die kommissie, die dagbestuur sal verstaan en met genade werk …

Soos die dae en maande verby gegaan het, nog bestralingsessies, chemosessies, ingrypende operasies, het die kerk se deur vir my nog net op ’n klein, klein skrefie oopgestaan. Iets in my het bly hoop, bly glo, maar algaande het ek ietsie meer van Jesaja se woorde leer verstaan: “Hy was verag en deur die mense verstoot, ’n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai.” Daar was nie ’n klop aan die deur nie, nie ’n sagte gebed van ’n kollega nie, ouderlinge het nie kringetjie kom staan nie. In die chemo­kamer op die dorp het ek gesien hoe ander kerke se lidmate en predikante kom bid, kom hande vashou, kom moed inpraat, kom sing …

Die algehele isolasie van so ’n siekte, veral as dit die naam “kanker” het, is soms net so ondraaglik soos die siekte en lyding self, en des te meer as hierdie isolasie plaasvind binne die hart van die kerk. Bemoedigende woorde in so ’n tyd is soos sagte reën, dit bring ’n bietjie hoop, veral as dit net doodgewoon en met menslike opregtheid uitgespreek word, die sieke en sy naasbestaandes dórs daarna. Ek het self die laaste skrefie van dié kerkdeur toegestoot, ophou wag vir ’n kollega, nie meer geworstel met nog ’n genadelose kommissiebe­sluit nie …

Die sagte reën van God se genade het wel gekom – vanaf mense en plekke buite die kerk – ’n man met die naam Petrus wat kom bloed trek en sagweg moed inpraat, ’n huishulp wat ons getrou bystaan en bemoedig, ’n witkolui­l­tjie wat sy intrek reg voor ons venster kom neem tydens een so ’n chemosessie, ’n getroue hond wat voor die bed blý lê, ’n kind wat uit Stellenbosch bel en troos: “Toemaar, Pappa, jy’s net oud …” Sáám met hom ingeperk deur siekte, oneindige swaarkry en veral meestal ondraaglike pyn, het ek leer wag – nie meer vir die klop aan die deur nie, maar leer wag op die Here, wag dat hy in hierdie één dag één iets sal stuur om hoop te bring – ’n voëltjie se fluit, die roep van ’n visarend, die geritsel van die nagwind voor die kamervenster.

Na sy dood, is ek steeds hartseer dat ek, en veral hy, in ’n tyd van algehele isolasie van sy siekte, nie troos kon vind binne die kerkstrukture nie. Tog is ek vir goed verlos van die “tradisie-en-kommissie-kerk” waar deernis soms nie veel van ’n prioriteit is nie. Dít is nie ’n kerk waarvan ek deel wil wees nie. Want daar waar deernis is en liefde, dáár is die Here, dáár is die nuwe kerk, daar staan die deure wawyd oop. Die ander deure kan maar stewig toe bly, vir goed vasgegrendel bly, want agter húlle, so het ek geleer, selfs bínne die hart van die kerk, is daar die muwwe reuk van ou kerkbanke.

▶ Die skrywer se identiteit is aan Kerkbode bekend en op versoek weerhou. – Red.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Waar deernis, liefde is, dáár is die Here”

  1. Adriaan van der Wart

    Só jammer om te lees van julle alleen lyding. Wat kan ek daarop sê, nou na alles verby is en jy alleen agter bly met die nuwe las wat jy en jou seun dra? Mag jy verder buite dié gemeente, ouderlinge en sonder jou man se kollega, genade vind om die lewenspad te loop tot by die eindpunt. Daar ís baie liefde, omgee en handvat mense buite die kerk. My ervaring is dat húlle verstaan, koester en laste saam dra.

Comments are closed.

Scroll to Top