Die nood van ander (en die eise op ons)

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die Matteusevangelie vertel tel­kens van Jesus en sy dissipels se reaksie op die nood van die wêreld. Dit vertel egter nie net van hoe Jesus die skare innig jammer gekry (14:14; 15:32) en hulle gehelp het nie. Dit vermeld ook Jesus se herhaalde behoefte om vir ’n wyle weg te kom van die skares van behoeftiges asook dat sy dissipels hulle dikwels wou wegstuur.

So sonder Jesus Homself af op ’n verlate plek nadat Hy van Johannes die Do­per se dood verneem het (14:13-21), maar volg ’n skare Hom sodat Hy hulle siekes kan genees. Wanneer dit aand word op die afgeleë plek, en sy dissipels besef die skare moet kos kry, is hulle voorstel dat Jesus hulle moet wegstuur. Jesus antwoord egter dat hulle die skare moet kos gee.

Nadat Jesus na Gennesaret gereis het, stroom siekes weer na Hom terwyl sy konflik met die leiers uit Jerusalem eska­leer. Daarom onttrek Jesus Homself na die aangrensende heidense gebiede (15:21-28) om vir ’n wyle weg te kom van die eise van sy bediening in Galilea. Hier word Hy egter om hulp geroep deur ’n Kanaänitiese vrou. Volgens Matteus het Jesus haar geïgnoreer en was sy dissipels se versoek dat Hy haar weg­stuur want haar geskree pla hulle (15:23). Jesus vertel haar vervolgens van sy fokus op Israel en sy vertel Hom van haar dogter. Uiteindelik loof Jesus haar vir haar geloof en genees Hy haar dogter.

In die daaropvolgende gedeelte is die skare behoeftiges terug en vir drie dae genees en versorg Jesus hulle terwyl Hy worstel met die vraag of Hy hulle nie moet wegstuur nie (15:32).

Matteus se vertelling van die bedie­ning van Jesus is eerlik oor die geweldi­ge eise wat die aanspreek van die nood van ander meebring. Dat dit dikwels lyk asof die enigste opsie is om hulle weg te stuur, want hulle nood is net te oorweldigend. Matteus dui ook daarop dat dit nodig is om jouself vir tye af te sonder ten einde nuwe krag te ontvang.

En tog is afsondering en wegwys volgens Matteus uiteindelik nie die roeping van die volgelinge van Jesus nie. As sagmoediges, barmhartiges, treurendes, hongeres-vir-geregtigheid en vredema­kers word hulle eerder uitgestuur om ’n verskil in die wêreld te maak. Vir Jesus is hulle die geseëndes wat God se koninkryk sal ontvang (5:3-10).

Prof Marius Nel doseer Nuwe Tes­tament aan die Universiteit Stellenbosch.