Vroue van die NGK: Ons salueer julle!

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die verhaal van die NG Kerk is ook die verhaal van vroue wat oor meer as 350 jaar ’n onmisbare rol in die kerk gespeel het. Dit is ’n verhaal van vroue wat deur pioniersomstandighede, oorloë en armoede gehelp het om die NG Kerk te maak wat dit vandag is.

Dertig jaar gelede het die rol van vroue in die kerk radikaal verander toe die Algemene Sinode van 1990 besluit en erken het dat “al die ampte van gelowiges – diaken, ouderling en predikant – gelyk” is. As vroue kon dien as diakens – dit is reeds in 1982 deur die Algemene Sinode goedgekeur – was hulle sekerlik ook geskik as ouderlinge en predikante. Na drie dekades lê die spore wat vrouepredikante met durf en toewyding in die geskiedenis van die kerk getrap het op elke denkbare bedie­ningsterrein van die kerk. Maklik was dit en is dit nie altyd nie. Daarvan getuig ’n vrouekonferensie wat op 15-16 September 2000 deur die Algemene Sinodale Kommissie by die Andrew Murray-gemeente in Johannesburg gehou is. Vrouepredikante se frustrasie met die feit dat hulle nie beroep word nie en dikwels as goedkoop arbeid in gemeentes gebruik word, was een van die sentrale temas van die konferensie. Na die konferensie het die Algemene Sinodale Kommissie vroue om versko­ning gevra vir die feit dat hulle oor jare uitgesluit en gemarginaliseer is.

Baie van die water wat sedertdien spreekwoordelik in die see geloop het, is ongelukkig vir baie vrouepredikante steeds troebel. Prof Christina Landman vat egter die rol wat vrouepredikante speel, raak saam wanneer sy skryf: “Ondanks heelwat struikelblokke wat nog oorkom moet word, bring vrouepredikante van die NG Kerk ’n nuwe stem en ’n unieke styl die kerk binne waarby die liggaam van Christus luisterryk en kleurryk baat.” In Vrouemaand salueer ons elke vrouepredikant vir julle deursettingsvermoë, gehoorsaamheid en toewyding aan julle roeping.

Dit is egter nie net vrouepredikante wat ’n onmisbare rol in die geskiedenis van die NG Kerk gespeel het nie. Van die begin af, as gewone lidmate, en later as ouderlinge en diakens, het vroue op grondvlak in gemeentes van die kerk leiding geneem. Baie kerkgeboue is gebou met “pannekoek-en-koeksister-geld” wat deur vroue ingesamel is. As voorsitters van kommissies en bedieninge, kategete, pastorale versorgers en musikante – om enkeles te noem – het vroue ’n bydrae gelewer tot die bedie­ning in gemeentes. Julle spore lê diep en duidelik getrap op die pad van die NG Kerk. In Vrouemaand salueer die NG Kerk julle!

Prof Johan van der Merwe doseer kerk­geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.