Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Frank Ehmke van Nelspruit skryf:
Die Covid-19-pandemie en -grendeltyd het die skokkende toestand van toilette in arm plattelandse skole op die agtergrond geskuif, maar die tragedie is steeds daar. Hierdie “toilette”, waar hulle wel bestaan, is meestal gevaarlike vuil puttoilette (longdrops). Verskeie kinders het al in die riool geval en aaklig verdrink. Populistiese politici, soos o.a. Julius Malema, dring daarop aan dat elke skool spoeltoilette en wasbakke moet hê.
Die regering het egter eenvoudig nie geld daarvoor nie. Boonop het die meeste van hierdie plattelandse skole nie aangelegde water nie. Die arme kinders sit maar in die veld agter ’n bos of miershoop en gebruik daarna ’n klip of gras vir toiletpapier. Hande word gewas met water uit ’n koeldrankbottel wat saamgebring word.
Daar moet eenvoudig iets aan die situasie gedoen word. Dit laat ’n mens skuldig voel. Ek glo Matteus 25:40 is hier van toepassing: “Sover julle dit aan die geringstes gedoen het, het julle dit aan My gedoen”.
Die meeste ouer mense het met die emmerstelsel saamgeleef. Vandag nog is daar verskeie plattelandse dorpies waar dié stelsel steeds goed werk. In talle townships bestaan die stelsel uit noodsaak steeds. Ekself het jare lank op ’n Karoodorpie gebly waar die stelsel gebruik is. Destyds is chloor en ’n dennegeur-poeier in die toilet gegooi wat dit feitlik reukloos gemaak het.
Kan die kerk en ook skarefinansiering op sosiale media nie geld insamel om toilette vir hierdie arm skole te bou nie? As een miljoen mense elkeen net R10 bydra kan ’n klompie skole van emmertoilette voorsien word.
