Protes vir die vanselfsprekende

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die afgelope maande het ons beleef hoe dinge wat vanselfsprekend behoort te wees, in die kollig kom.

Die kwessie van plaasaanvalle, geslagsgeweld en Black Lives Matter was in die nuus en op die voorblaaie. Daarmee saam ook kritiese stemme wat vra: “Hoekom tog nou weer? Is hierdie nie vanselfsprekende sake nie, waarom al die aandag en politiekery?”

Daar is ’n rede vir die kollig en aan­dag. Dit is protes omdat vanselfspre­ken­de dinge nie meer vanselfsprekend is nie.

Die regering se stilswye oor plaasaanvalle en gebrek aan optrede roep om protes. Die toename in geslagsgeweld roep om breë aksie. Polisiebrutaliteit teen swartmense roep om openbare druk. Die protes roep die wêreld om aandag te gee aan dinge wat vanselfsprekend behoort te wees: fundamentele sake soos veiligheid en waardigheid.

Die opkoms en groei van die wêreldwye missionale beweging is so ’n protes. Dit is protes teen die kerk wat die fundamentele rede vir sy bestaan agterweë gelaat het. Uit die Bybelse verhale is dit helder en duidelik dat God die kerk in die lewe roep om dit na die wêreld te stuur. As Jesus sy dissipels roep, is dit om hulle vissers van mense te maak. Sy laaste opdragte voltooi hierdie roeping: “Gaan na al die nasies toe”, “soos die Vader my gestuur het, stuur Ek julle ook,” en “julle sal my getuies wees …”

Om die kerk terug te roep na hierdie basiese bestaansrede is nie transformasie nie, dit is reformasie, ’n terugkeer na die vanselfsprekende.

Met plaasaanvalle, geslagsgeweld en BLM hoor ’n mens soms: “Waarom die bohaai, alle lewens maak tog saak? Dit is tog vanselfsprekend?” Maar as die vanselfsprekende nie meer gebeur nie, moet die kollig daarop val.

Ons hoor hierdie soort kritiese stem­me ook oor die missionale bewe­ging: “Waarom tog die bohaai? Ons was dit mos nog altyd?”

Die missionale beweging het nie ont­staan omdat ’n klompie teoloë op soek was na iets nuuts en interessant om te sê nie. Dit het ontstaan omdat die vanselfsprekende opgehou gebeur het. Die Westerse kerk het op homself ingedraai geraak. Ons natuurlike, menslike, sondige selfsug en gemaksug het die oor­hand gekry. Die kerk se fokus het van die wêreld na homself geskuif. Ons roeping, om as gestuurdes in die wêreld te leef, het vervaag.

Daar behoort nie iets te wees soos ’n missionale beweging nie, dit behoort vanselfsprekend te wees. Maar dit is nie. Die missionale beweging is ’n protes dat die vanselfsprekende weer vanselfsprekend moet word.

Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.