Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Boesak daag leser om bekende verhale nuut te lees

Children of the waters of Meribah – Black Liberation Theology, the Miriamic tradition and the challenges of 21st century empire deur Allan Boesak
Uitgewer: SUN MeDIA, 2019


Na wie se stemme luister ons? Of dalk meer krities: Na wie se stemme luister ons nié? Hoor ons mense wanneer hulle hul eie verhale vertel, of het ons ander stemme nodig – stemme aan wie ons meer gesag gee – om die stemme te hoor van mense wat ons minder ag (minag?)? Hierdie vrae sit knellend in my agterkop terwyl ek, ’n wit vrou, ’n resensie skryf oor ’n boek deur ’n man van kleur, waarin daar gevra word of swart teologie genoegsaam geluister het na vroueteologie. In Children of the waters of Meribah argumenteer Boesak dat swart bevrydingsteologie in ’n baie beter posisie sou wees om ’n verskil te maak aan die lewe van onderdrukte swartmen­se, as hulle die teologie en ver­hale van vroue ernstiger opgeneem het.

Aangesien die Eksodusverhaal (saam met die verhaal van Jesus) die ankerverhaal is van bevrydingsteologie, gebruik Boesak die Eksodusverhaal om na te dink oor ’n feministiese teologie wat bevrydingsteologie se blinde kolle kan belig. Dit doen hy deur te vra wie die God van die Eksodus is. Die Moseslyn word dan gekontrasteer met die Miriamlyn. Op kenmerkend meesleurende wyse word die Miriamitiese profetiese tradisie ontgin om nuwe perspektief op God en bevryding oop te breek.

In verdere hoofstukke gaan die skrywer in gesprek met vroueteoloë oor Jesus se ontmoetings met onderskeidelik die Kanaänitiese en Samaritaanse vrou.

Die nadenke oor spesifieke teologiese lyne word deurlopend prakties gemaak in die wêreld waarin ons leef. Sake soos gendergeregtigheid, geslagsgebaseerde geweld, die waardigheid van LGBTIQ+ mense, dekolonialisasie en swart bemagtiging kom onder bespreking. Soms is dit onthutsend. Dikwels bied dit kosbare insigte, maar deurlopend is dit ’n waardevolle gespreksgenoot wat die leser uitdaag om bekende verhale nuut te lees, vanuit ’n ander hoek te kyk en nuwe betekenismoontlikhede raak te sien.

Hierdie is een van daardie boeke wat ’n dominee sommer dadelik in preke wil omskep, omdat dit Bybelverhale op ’n sinvolle manier vir ons konteks oopbreek.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top