Hondebegraafplaas en geloofsgenesing

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

In Deuteronomium 23:18 in die Afri­kaanse vertaling (1983) staan daar: “Wanneer jy ’n gelofte afgelê het, mag jy nie die loon van ’n prosti­tuut, of dit nou dié van ’n man of ’n vrou is, na die huis van die Here jou God toe bring nie. Hy het ’n afkeer van hierdie twee dinge.” Indien ons na die Hebreeuse Ou Testament toe gaan, sien ons dat dit daar vers 19 is en dat indien ons dit direk vertaal daar staan: “Nie jy mag inbring die huurgeld van ’n prostituut en die prys van ’n hond in die huis van JHWH jou God as enige gelofte-offer nie; want ’n gruwel vir JHWH jou God – ja al twee” (eie direkte vertaling).

Duidelik gaan dit hier oor wat nie by die kultus, of tempel (“die huis van JHWH jou God”) mag gebeur nie. Die meeste Bybelvertalings interpreteer die Hebreeuse woord “hond” as verwysing na manlike tempelprostitute. Dus gaan die vers vir die meeste Bybelinterpre­teerders oor seks. Die vraag is of dié interpretasie geldig is en of dit nie eerder ’n aanduiding is van Christene se ongemak/beheptheid met seksualiteit nie?

In Hosea byvoorbeeld, word Israel se ontrou aan die Here aan die hand van ’n prostituut-metafoor beskryf. In Hosea gaan dit nie oor “onregmatige” seks nie, maar oor ontrou aan die Here. Dit gaan in Hosea nie oor watter seks reg of verkeerd is nie, maar oor gelowiges wat naas hulle vertroue in die Here, hulle vertroue óók nog in die een of ander bygeloof stel.

Daar is voldoende argeologiese en sosiokulturele resultate wat daarop dui dat honde in talle antieke kulture in verband met genesingskultusse gebruik is. By Askelon is daar byvoorbeeld ’n hondebegraafplaas met die gedeeltelike tot volledige oorblyfsels van 1 500 honde gevind (5de eeu vC). Dié honde is nie daar ingegooi nie, maar een vir een in vlak grafte geplaas. Die huidige konsensus is dat dit met die een of ander Fenisiese genesingskultus verband hou.

Honde se instinktiewe lek van eie wonde as deel van die genesingsproses, is oënskynlik in verband met genesings­krag verstaan. Dat honde as deel van ’n Fenisiese genesingskultus beskou is, blyk duidelik uit die Fenisiese inskripsie op ’n middel-vyfde-eeuse kalksteen­ge­denkplaat wat op Siprus gevind is. Die “genesingshonde” waarna die inskripsie verwys, het vrylik op die tempelterrein aldaar rondgeloop.

In dié lig sou ’n mens kon vra wat presies is dit wat volgens Deuteronomium 23:18(19) vir die Here ’n “gruwel” is? Is dit (net) tempelprostitusie, of gaan dit dalk oor die afwysing van geloofs­genesingskultusse? Indien ons laasgenoemde interpretasie aanvaar, dwing dit ons om weer ’n slag te besin oor hoe ons as gelowiges oor siekte, virusse en genesing dink. Ons moet seker maak dat ons in ons nadenke oor virusse, siekte en genesing met geloof in God en nie met bygeloof besig is nie.

Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda in Pretoria.