Tyd dat die kerke weer saam praat

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

In die geskiedenis van die NG Kerk staan twee belangrike kerkbyeenkomste as bakens uit. Die eerste is die Cottesloeberaad wat in Desember 1960 plaasgevind het. Na afloop van die beraad het die kerke van Suid-Afrika ’n duidelike stem teen apartheid laat hoor. Alhoewel die NG Kerk haar van die amptelike verklaring van die beraad gedistansieer het, is die saad gesaai wat die kerk sou help om in 1986 ’n nuwe koers in te slaan deur weg te draai van die ondersteuning van die regering se apartheidsbeleid.

Dertig jaar later het meer as 80 kerke in 1990 in Rustenburg byeengekom om saam te praat oor versoening en die kerk se rol op pad na die eerste demo­kratiese verkiesing in 1994.

Vir die NG Kerk was die Rustenburgberaad ook die plek waar die be­langrike belydenis van prof Willie Jon­ker die standpunt van die NG Kerk oor apartheid onomwonde gestel het. Dr Frits Gaum, een van die afgevaardigdes na die beraad onthou die belydenis soos volg: “Aan die einde van prof Jonker se toespraak het hy gesê: ‘Ek verklaar voor u en voor God nie net my eie sonde en skuld nie, en my persoonlike verantwoordelikheid vir die politieke, sosiale, ekonomiese en strukturele onregte waaronder u en ons hele land nog ly nie, maar plaasvervangend waag ek om dit ook namens die NG Kerk te doen, waarvan ek ’n lidmaat is, en vir die Afrikaners. Ek het die vryheid om dit te doen, want die NG Kerk het apartheid op sy afgelope Algemene Sinode (Oktober 1990) tot sonde verklaar en sy eie skuld en nalatigheid beken dat hy nie lank gelede daarteen gewaarsku en homself daarvan gedistansieer het nie.’”

In reaksie op die belydenis, het aartsbiskop Desmond Tutu spontaan opge­staan en na die podium gegaan en gesê dat hy die belydenis aanvaar en nie aan die opregtheid daarvan twyfel nie. Die volgende dag het prof Pieter Potgieter, leier van die NG Kerk se afvaardiging in ’n verklaring bevestig dat die NG Kerk die belydenis van prof Jonker heelhartig ondersteun.

Die gesprek wat daarop tussen die verteenwoordigers van die verskillende kerke gevolg het, het uitgeloop op ’n verklaring wat rigting­gewend was op weg na 1994.

Dit is dertig jaar later. Suid-Afrika beleef weer ’n kairos-oomblik. Die onge­kende korrupsie, plaasmoorde, geweld teen vroue en kinders en ’n hernude vlaag van rassisme eis dat die kerke van Suid-Afrika weer ’n slag moet saam praat.

Prof Johan van der Merwe doseer kerk­geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.