Die heilige in die lewe

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Ek kyk onlangs na ’n dokumentêre program oor die Britse komponis Sir John Kenneth Tavener wat in 2013 oorlede is. Die kanse is goed dat jy al van sy musiek gehoor het. Met prin­ses Diana se begrafnis het die koor een van sy werke, Song for Athene, gesing terwyl haar kis uit die Westminster-abdy gedra is. Die kommentator in die dokumentêr het dit raak beskryf: “It was a breathtaking moment.”

Tavener is ’n eietydse komponis in die klassieke tradisie wat geestelike musiek geskryf het. Sy werk is diep gewortel in die Christelike tradisie en teks­te. Dit is onmiskenbaar, antieke, ortodokse kerkmusiek. Tegelykertyd is dit egter ook modern. In sommige werke hoor ’n mens duidelik hoe dit beweeg van ’n klassieke ortodokse aanslag na modern.

Wat sê dit oor ons lewe as gestuur­des, as mense wat in Jesus se voetspore loop?

Soos Tavener se musiek, is ons lewe gewortel in die Christelike tradisie. Ons is diep en onlosmaaklik daaraan gebind. Maar ons is net so onlosmaaklik gebind aan die hede. Ons lewe bemiddel tussen die oue en die kontemporêre. Ons lewenstyl dra die kenmerke van waar ons vandaan kom, maar ons is ook moderne mense wat vierkantig in die hede leef.

Op die oor af klink Tavener se mu­siek eenvoudig, maar musiekkenners sal vir jou sê hoe kompleks dit in werklikheid is. En koorlede sê dat hy hulle strek tot aan die uiterste vermoëns van die menslike stem.

As mense na ons lewe kyk, behoort dit wat ons doen, maklik te lyk, natuurlik en moeiteloos. Maar dit kan net so wees as ons, soos koorlede, dag vir dag oefen. Om Jesus te volg vra ons beste pogings, dit strek ons tot by die beste wat ons kan wees. Maar as jy dit oefen en oefen, word dit jou tweede natuur.

Tavener se musiek is ’n uitdrukking van die geloof dat God steeds, in ons gesekulariseerde wêreld, teenwoordig is. Net die feit dat iemand in hierdie tyd sy lewe daaraan wy om musiek te skryf wat aan God toegewy is, is ’n belydenis dat die Heilige met ons is.

Gestuurde mense se lewe word by uitstek daardeur gekenmerk dat ons God in die werklikheid sien. ’n Lewe wat aan God toegewy is, vind die heilige in die werklikheid om ons, en dikwels dra dit die heilige in die wêreld in. Wanneer jy na Tavener luister, wonder jy nie of dit gewyde musiek is nie. Jy merk dadelik op dat dit aan God opgedra is. Op dieselfde manier moet mense kan sien aan Wie ons lewe opgedra is.

Tavener het gesê hy skryf sy musiek altyd eerstens vir God en daarna, onvermydelik ook vir die mense wat dit gaan uitvoer en daarna gaan luister. Miskien is dit die heel belangrikste van ’n lewe as gestuurde mens – jy lewe eer­stens vir God, maar onvermydelik ook vir mense.

  • Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.