Versoening kan die spoke van die verlede verjaag

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Een van die belangrikste gevolge van die Rustenburgberaad wat in November 1990 plaasgevind het, was die NG Kerk se verbintenis tot versoening. Die belydenis oor apartheid het nie net die boeke van die verlede begin toemaak nie, dit het ook nuwe deure na die toekoms oopgemaak. Dertig jaar later is die NG Kerk se roeping om ’n konstruktiewe bydrae tot versoening op alle vlakke van die samelewing in Suid-Afrika te lewer, belangriker as ooit. Dit is immers ’n rol wat die kerk na Rustenburg in die aanloop tot die eerste demokratiese verkiesing in 1994 met uitnemendheid vervul het.

Die eerste tree op die versoeningspad het kort na die Rustenburgberaad gevolg toe Nelson Mandela die dagbestuur van die Algemene Sinodale Kommissie op 30 Mei 1991 ontmoet het. Tydens die ontmoeting het mnr Mandela die kerkleiers onder meer versoek om as tussengangers op te tree tussen Inkatha en die ANC in ’n poging om geweld tussen die partye te probeer keer. Die belang van hierdie ontmoe­ting en twee latere ontmoetings, is deur Mandela bevestig toe hy tydens sy toespraak voor die Algemene Sinode in 1994 spesifiek daarna verwys het.

’n Verdere belangrike tree wat die NG Kerk se erns oor versoening bevestig het, was die voorlegging wat ds Freek Swanepoel op 19 November 1997 in Oos-Londen op ’n spesiale geleentheid vir kerke voor die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) gemaak het. Ten spyte van weerstand en dreigemente uit eie geledere het Swanepoel vertel van die lang pad wat die NG Kerk moes stap om afskeid te neem van apartheid. Hy het egter nie net oor die verlede gepraat nie, maar dit duidelik gestel dat die NG Kerk ’n belangrike versoeningsrol in die toekoms wou speel.

In reaksie op Swanepoel se toespraak het aartsbiskop Demond Tutu gesê: “… U kerk het ’n geweldige be­lang­rike rol in die geskiedenis van ons land te speel … My gebed is dat die Here die NG Kerk op ’n wonderlike manier gaan gebruik … Ek sê altyd as ’n Afrikaner eers die lig gesien het, draai hy nie halfpad om nie … Ek het lus om vir die duiwel te sê: ‘Pasop, hier kom die NG Kerk’.”

In ’n land wat opnuut deur rasse­spanning, plaasmoorde en armoede op die randjie van die spreekwoordelike afgrond na chaos gekom het, is dit dringend nodig dat die NG Kerk opnuut besin oor haar versoeningsrol op alle vlakke van die samelewing. Miskien het die geskiedenis die NG Kerk voorberei om juis in ’n tyd soos hierdie ’n leidende rol te speel en om sodoende die spoke van die verlede finaal te verjaag.

  • Prof Johan van der Merwe doseer kerk­geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.