Spandabelrig in ekonomies moeilike tye

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Kort-kort kom meer rooi ligte aan oor die ekonomiese gevolge van die inperking. Kenners waarsku oor ekonomiese inkrimping, die minister van finansies wil salarisse vries en waarsku oor die fiskale ramp wat die land kan tref. Dit het ook ’n invloed op gemeentes. Alhoewel dit met sommige gemeentes se finansies baie goed gaan, klink dit of die meeste maar bekommerd is oor wat vir die kerk voorlê.

Watter effek sal dit hê op die bedie­ning van die kerk? Hoe bly die werk van die kerk volhoubaar as ons begrotings moet besnoei?

In sulke tye moet ons onthou dat die ekonomie van die koninkryk van God anders werk as die ekonomie van ’n land. Dit wil nie sê dat die kerk nie ’n besigheidskant het nie. Die wyse gebruik van geld was nog altyd deel van die kerk. Paulus skryf aan die gemeente in Filippi hoe dankbaar hy is dat hulle sy sendingwerk finansieel ondersteun. Die Here vertrou gemeentes met finansies en dit moet met wysheid bestuur word.

Aan die ander kant wys die geskie­denis dat minder geld hoegenaamd nie die groei van die kerk of ’n effektiewe bediening benadeel nie. Om Jesus te volg, vra in die eerste plek geloof, liefde, deernis en toewyding, nie geld nie. Hoe ons oor ons roeping dink wanneer die geld minder is, kan nogal ’n goeie toets wees.

  • Gelowiges koop soms (dikwels?) per­soonlike betrokkenheid af deur geld te gee vir projekte. Iemand anders doen die werk met geld wat jy gee terwyl jy met jou lewe kan aangaan.
  • Dit toets of ons oë oop is vir geleent­hede om God se liefde te deel. Om liefde te deel, kos niks. ’n Geloofsgewoonte wat jou hiermee help, is om elke aand, voor jy gaan slaap die “daaglikse examen” te doen. “Waar het ek vandag God se liefde ontvang? Waar het ek die geleentheid gehad om sy liefde te deel? Waar het ek die geleentheid gehad, maar dit nie gedoen nie?”
  • Dit toets ook of ons geloofsonderskeidend leef. Dit gaan daaroor dat ons in geloof onderskei waar en hoe God teenwoordig in die wêreld is, en hoe ons kan aansluit by wat ons God sien doen. As ons minder geld het, moet ons hierdie soort vrae met groter dringendheid vra: “Wat doen God? Hoe kan ons daarby aansluit?”

Die ekonomiese uitdagings van Co­vid-19 mag ons nie suinig maak nie. Vra eerder die vraag: “Hoe kan ek God se oorvloed uitdeel?” Wees versigtig en wys met geld, maar spandabelrig met liefde en omgee. Dan doen jy meer met minder.

  •  Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.