Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
By die pasafgelope moderamenvergadering van die Wes-Kaapse Sinode het prof Julie Claassens, wie se boek oor trauma – Writing and reading to survive (2020) – eersdaags verskyn, ’n gesprek oor trauma ingelei. Sy het verwys na die talle traumaverhale wat ons in die Bybel teëkom: verhale oor moord, en verkragting, en marteling. Verhale wat dikwels nouliks resoneer met ons eie ervarings van trauma.
In haar aanbieding het sy verwys na ’n boek van ’n sielkundeprofessor aan Boston Universiteit in Amerika, Bessel van der Kolk: die topverkoper The body keeps the score (2015). Die tema van hierdie boek is aangrypend, en het my herinner aan ’n gedig van die vrouedigter Rupi Kaur, wie se splinternuwe digbundel Home body (2020) pas verskyn het. Sy eggo hierdie idee:
there are whole blackouts
in some of the years i have lived
my therapist says our minds erase
trauma
to help us move on
but every experience i’ve had
is memorized in my flesh
even if my mind forgets
my body remembers
Ons liggaam onthou. Trauma gaan sit aan ons lyf. Ons liggaam hou boek van ons traumas, selfs wanneer ons verstand ons daarteen beskerm. Dalk is dit selfs erger dat ons trauma soms nie eens kan onthou nie. Dit skep, addisioneel tot die alreeds verwoestende gevolge van trauma op ons psige en verhoudings, ’n diepe self-vertwyfeling en self-verwyt: Het dit gebeur, of het dit nie? Kan ek my eie geheue, en daarmee myself, vertrou – of kan ek nie? Voeg daarby ons geneigdheid om slagoffers te blameer vir hulle trauma – soos: Waarom was hy hoegenaamd in die kuierplek, as hy nie geslaan wou wees nie? of: Hoekom het sy so ’n kort rokkie aangetrek, as sy nie verkrag wou wees nie? – dan word dit pynlik duidelik waarom soveel mense in stilte voortworstel.
Maar selfs wanneer ons nie kan onthou nie, onthou ons liggaam, en betaal ons steeds die prys. Dikwels betaal ons daardie prys in die vorm van angs en depressie waarmee ons ons lewe lank sal saamleef. Dikwels betaal diegene wat die naaste aan ons is ook daaraan, wanneer daar sekere woorde of optrede is wat ons trauma sneller. Daar bestaan boonop die moontlikheid dat ons, vanuit ons trauma, weer op maniere kan optree wat vars trauma aan ander veroorsaak. Dink maar aan gebeure soos die Anglo-Boereoorlog of Grensoorlog, en watter soort diep generasionele trauma dit nie binne ons families veroorsaak het nie.
In hierdie afgelope jaar is daar beswaarlik ’n persoon wat hoegenaamd geen trauma beleef het nie. Die vreesaanjaende van trauma is dat dit ons onverhoeds betrap en geheel en al stroop van ons agentskap. Dit maak nie saak wat ons kies of nie kies, wil hê of nie wil hê, probeer doen of probeer om nie te doen nie – deel van ons trauma lê daarin dat ons geen keuse het nie. Ons is die geforseerdes, die gedwingdes.
Dit het my laat besef dat daar in ons eie midde, aan die hart van die kerk, ook so ’n herinnering aan ’n diepe en intense trauma leef: die kruisiging. Is dit nie verbysterend dat die kerk juis sou vergader rondom die herinnering aan Christus se trauma aan die kruis nie? Die instrument van Christus se teregstelling hang ons tog immers om ons nek, in ons huis, en in ons kerke.
Maar dalk is daar juis ’n vreemde soort vertroosting en bemoediging opgesluit daarin dat Christus vir Thomas uitnooi om sy vingers in sy wonde te steek – wonde wat ons ons dikwels verbeel is eerder letsels as vars wonde: netjies toegewerk, weer vasgeheg, raakbaar, mooi, genees. Nie gapend oop nie, nie met bloed wat nog daaruit vloei nie, nie asof die spykers en spies maar enkele dae gelede nog Christus se liggaam oopgesny en oopgebreek het nie.
Dalk is ons dan ook veronderstel om nié te vergeet nie, maar juis om te onthou van Godstrauma aan die kruis. Dit is tog die opdrag: Wanneer ons die nagmaalwyn drink en onthou van Christus se bloed wat gevloei het; en wanneer ons die nagmaalbrood eet en onthou van Christus se liggaam wat gebreek is. En wanneer ons Christus se trauma aan die kruis onthou, en dat die Getraumatiseerde Een ons Verlosser en Saligmaker is – sou daar nie ook ruimtes geskep word waar ons kan waag om ons eie traumas ook te onthou nie?
Trauma lê immers aan die hart van wat ons bely die goeie nuus van die evangelie is, naamlik dat Christus ter wille van ons ly en sterf. Mag ons daarom onthou, wanneer dit binne ons donker word – “as die donker my kom haal en die Here my nie soek nie” (Heuwels Fantasties) – dat Godstrauma ons traumas ondervang en dra; en dat ons trauma nie net in ons eie liggaam gedra word nie, maar ook in God se liggaam: die kerk. Geseënd is die getraumatiseerdes.
- Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.