Hoe gemaak met die menslikheid van die kerk?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Om kerk in die wêreld te wees, vra vir ’n tipe rekbaarheid, wat oor en oor geoefen en ontwikkel moet word, skryf TANYA VAN WYK.


Onlangs het ek opnuut beleef hoe die saak van kerkwees uiteenlopende gewaarwordings kan veroorsaak. Satermiddag sit ek in die kerk tydens die begrafnisdiens van ’n gemeentelid. Sondagoggend, op pad na dieselfde gemeente se erediens, biep my foon met ’n foto wat my ma gestuur het: die voorblad van die Sondagkoerant, waarop die gesigte van twee predikante-kollegas pryk.

Saterdagmiddag sit ek in die kerkbank en luister na die huldeblyk van die kleinseun van ons gemeentelid wat oorlede is. Hy gebruik die woord ‘kerk’ toe hy die gemeente en predikant roerend bedank vir hulle bystand en liefde. Hy spreek sy trots uit dat sy oupa en die familie deel van die gemeenskap kan wees. Die kern van sy bedanking is dat die kerk die rede is dat die hele familie nog saam is. Sy oupa was ’n Nederlandse immigrant en hulle is derde-geslag Nederlanders wat in ’n Afrikaanse kerklike tradisie en sosiale konteks tuisgekom het.

Hy sluit af met ’n belydenis van die wyse waarop die kerk sy oupa se lewe verander het en dat hulle almal in sy voetspore sal volg, sy nalatenskap sal eer en sal aanhou om die kerk hulle tuiste te maak. Dit is nie leë opmerkings nie. Daardie familie se tuiskoms word op gereelde basis oor en oor bevestig. Vir baie wat in die hartklop van Afrikaanse kerkwees betrokke is, is die konstante meelewendheid van kerklidmate glad nie vanselfsprekend nie. Die kleinseun se diepe vreugde en waardering vir die menslikheid van die kerk is duidelik uit elke woord. Ek sit daar en dink dat ek lanklaas só ’n opregte en emosionele waardering van die kerk aangehoor het. Lanklaas.

Sondagmiddag, na afloop van die diens, kry ek die voorgenoemde voorbladberig onder oë. Met verstomming lees ek dat die menslikheid van die kerk ook daar ter sprake is, maar op ’n absoluut teenoorgestelde manier. In plaas daarvan dat die menslikheid van die kerk waardeer word, word dit verhoor. Die menslikheid van die kerk, wat betoon word aan die kerk se eie lidmate en leraars, is in die beskuldigdebank omdat die kerk té menslik opgetree het en menslike mense wat foute maak, vergewe het en toegelaat het om mens te wees in watter toekoms hulle ook al te wagte is.

Die saambindende tema is duidelik: Die menslikheid van die kerk is die spreekwoordelike doring in die vlees, omdat ons sukkel om met die gelyktydige aanwesigheid van die potensiaal en die gebrokenheid van die kerk se karakter saam te leef. Die kerk is óf te oop, óf te geslote. Te toegewend of te verdoemend. Die kerk lees die Bybel nie genoeg nie of lees die Bybel te letterlik. Die kerk het te veel reëls of bied nie genoeg morele leiding in die samelewing nie. Die kerk verander te veel of bly te veel dieselfde.

Dit is hoekom die teoloog John de Gruchy wat oor die kerk se rol in die demokrasie van Suid-Afrika geskryf het, op ’n keer gesê het daar min dinge is wat sulke teenstrydige emosies by mense ontlok soos die woord ‘kerk’. Vir sommige bied die menslikheid van die kerk ’n stuk troos en vrede. Vir ander is die menslikheid van die kerk iets wat oorstyg moet word, en is dit ’n defek van die kerk. En helaas, vir nog ander, is die kerk se gelyktydige potensiaal en gebrokenheid ’n ondraaglike teenstrydigheid. Hulle verlaat die kerk.

Vir meer as 10 jaar al doseer ek ’n vak oor die leer van die kerk, ekklesiologie. Dit handel onder andere oor die vroegste Christelike belydenisse oor die kern-karakter van die kerk, naamlik dié kenmerke waaraan ’n mens die kerk sou kon herken. In een van daardie belydenisse, die Nicaeno-Constantinopolitanum (die Niceense geloofsbelydenis) van 381 nC, word bely dat die kerk een, heilig, algemeen (katoliek) en apostolies is.

Hierdie karaktereienskappe van die kerk klink nogal asof hulle mekaar uitsluit: Die kerk is versprei oor die aarde, maar is tegelyk ’n eenheid. Hierdie eenheid is nie eenvormigheid nie, omdat verskeidenheid een van die kerk se kern-boustene is (katoliek). Die kerk word na die uithoeke van die aarde gestuur (apostolies), maar die kerk is ook afgesonder en saamgebind tot ’n spesifieke taak (heiligheid).

Studente sukkel soms met hierdie kenmerke. Hulle sukkel omdat dit van hulle vra om in hulle verwysingsraamwerk ruimte te maak vir dinge wat lyk asof dit mekaar uitsluit. En dit is nie net studente wat daarmee sukkel nie. Die nalatenskap van ons Westerse filosofiese skoling is dat ons sukkel om te aanvaar dat twee aspekte wat lyk asof hulle mekaar uitsluit, gelyktydig naas mekaar kan bestaan.

Dit was die kerkvader Augustinus wat beklemtoon het dat die kerk ’n gemengde karakter het, naamlik dat die kerk (in die teologiese taal van sy tyd) uit gebrokenes en regverdiges bestaan. En let wel: Jy kan nie ’n houtstok vat en die sogenaamde koring van die kaf skei nie. Jy kan nie aandui dat 50 mense ‘sleg’ is en die ander 50 ‘goed’ is nie. Nee, elkeen van ons het tegelyk die potensiaal om te breek en te heel. Altwee daardie vermoëns is altyd teenwoordig en die kerk is nie afgesonder van hierdie dubbele karakter nie. Dit is van die oudste en diepste oortuigings waarop die Christelike kerklike gemeenskap gebou is. Maar ons sukkel vreeslik daarmee. Ons het onmenslike verwagtings van die kerk.

Dit terwyl die kerk se brondokument, die Bybel, ’n verhaal is wat handel oor die eb en vloei van die menslike toestand: the good, the bad and the ugly. Dit is ’n realistiese verhaal. Dit is ’n verhaal wat getuig van Goddelike betrokkenheid te midde van die teenstrydigheid van menswees en die verskeidenheid van menswees. Hoekom is ons so vasberade om die kerk van alle eeue los te maak van die realistiese mensheid van die Bybel?

Moet geen fout maak nie: Die institusionele kerk het oor eeue heen groot en skadelike foute gemaak. Meeste van dit, indien nie alles nie, is as gevolg van die kerk se eie onvermoë om deurgaans met die kerk se identiteit en roeping te rade te gaan. Ongelukkig ontstaan ’n moeras waarin weggesink word: ’n kerk wat oor diktators stilbly en wat geslagsgeweld en seksuele misbruik wegpraat. Ongelukkig bied die kerk soms goedkoop troos en eenvormige antwoorde vir komplekse situasies, by monde van ’n geykte teologiese taal en ’n straf-verdienste-raamwerk.

Dit alles is die wesenlike karaktereienskappe van ’n kerk wat uit mense bestaan. Daardie kerk is nie eenvormig nie. Daarom moet ons waak daarteen om te sê, ‘die kerk’ maak sus, ‘die kerk’ maak so. Die kerk is te divers om ’n stereotipe van enige aard om die kerk se nek te hang. Dit is tog duidelik uit my kerknaweek: Een mens is dankbaar dat die kerk menslik is. Die ander een is kwaad daaroor.

Om kerk in die wêreld te wees vra vir ’n tipe rekbaarheid, wat oor en oor geoefen en ontwikkel moet word. Dit kan nie vir eens en altyd bemeester word nie. Kerkwees is ’n dinamiese uitdrukking van ’n dinamiese verhouding met God. Op ’n mosaiëk-agtige wyse is die kerk ’n gebreekte geheel en kan ons maar op ’n gebalanseerde wyse die mooi en goed van die kerk erken terwyl ons krities staan teenoor die kerk se foute en daarteen protesteer, terwyl ons ook erken dat die kerk nie eenvormig is nie. Kerk is nie a one size fits all nie. Die erkenning daarvan is egter nie ’n vernouing van horisonne nie – dit is die verbreding daarvan.

  • Dr Tanya van Wyk is senior lektor aan die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Teologie en Religie en verbonde aan die Nederlandstalige gemeente van die Hervormde Kerk in Pretoria.
Word 'n vriend van Kerkbode