’n Blou Kersfees?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

In Afrika is Kersfees rondom die somersonstilstand. Die nag is kort. Jesus laat die donker vinnig verby gaan, skryf Nico Simpson

Elvis, die Koning van Rock and Roll, noem dit sy gunsteling Kersliedjie, “Blue Christmas.” Daar is min dinge so mistroostig soos die ‘shoo-be-do-be sangers’ in die agtergrond. Hulle is regtig troosteloos en ‘blou.’

(Luister HIER, jy weet jy wil …)

I’ll have a blue Christmas without you

I’ll be so blue just thinking about you

2020 se Kersfees herinner my aan Irwin Kellner wat 2007 se Kersfees ’n “merriment of a funeral” noem.  Selfs die groen plastiek kranse lyk vir my verlep vanjaar.  Of is dit ’n projeksie?

Scott Peck begin sy boek The Road Less Traveled met die aanhaling: “Life is difficult. This is a great truth, one of the greatest truths. …Once we truly know that life is difficult …then life is no longer difficult.”

Kersfees is moeilik. 

Kersfees is moeilik want, as jy die afgelope jaar verlies in die gesig gestaar het, is die ‘leë stoel ervaring’ baie werklik. Elkeen van die Groot Dae laat ons van voor af verlang na plekke waar ons nog nie eers was nie. Elkeen van die skermpies herinner ons aan hoe ’n ‘gelukkige tyd’ Kersfees is. 

Kersfees is moeilik want ons MOET almal vrolik wees. Ons almal dra swaar daaraan as jy nie lus is vir feesvier nie.

Die een advertensie bekruip jou met ’n ‘Ho, ho, ho, Merry Christmas. Die ander slaan jou teen die oor met ‘’n tyd van vreugde en vrede.’

Dit lyk of almal uitgesorteerd is en iewers moet wees. Kersfees is moeilik want almal lyk so perfek, so gelukkig. 

Dan voel ons ‘blue’ te midde van ’n samelewing wat kreun van ‘feesvier’ en ‘gelukkig wees.’ Al die fokus op vrolik wees maak die gevoel van alleenheid net erger. Kersfees is moeilik. Maar, die oomblik as ons dit regtig aanvaar – dan is Kersfees nie meer so moeilik nie.

Wegbreek van die Kersfeesmasjien 

Kersfees 2020 nooi ons dalk om realisties te wees. Dalk is dit genoeg as jy die jaar oorleef het en nie te veel keer afgebreek het of naar geraak het nie. Dalk is hierdie die Kersfees vir gewone mense. Dalk is 2020 ’n uitnodiging om weg te breek van die Kersfeesmasjien. Wat daarvan as ons vanjaar goed gee wat nie gekoop kan word nie? ’n Belofte van ’n kuier, tyd om te help, bereidheid om iemand uit te luister of ’n kaartjie van opregte waardering.

In die Noordelike halfrond val Kersfees baie naby aan die Wintersonstilstand, die langste nag van die jaar. Party kerke hou selfs ’n Blou Kersfees-diens. Hulle fokus dan in hierdie lang nagte rondom Kersfees op die donkerte en rou van hulle wat met verlies moet leef. Hulle vier dat die donker nag nie die Kind kon keer nie.

Maar, in Afrika, is Kersfees rondom die Somersonstilstand. Die nag is kort. Jesus laat die donker vinnig verbygaan.

Mag Kersfees 2020 in al sy gebrokenheid, te midde van ’n pandemie, ’n dag wees waar ons dankbaar is vir al die seën sowel as ’n dag waarop ons in ons brokenheid veilig langs Jesus kan sit. Steek ’n kers aan en onthou die nag is op sy kortste.