Woord en wetenskap: Vriend of vyand?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Chris Smith van Westonaria skryf:

In outydse oorlogstye, wanneer iemand by ’n basis aankom, is daar gevra: “Vriend of vyand?”. Dan moet die wagwoord gegee word of daar is moeilikheid. Dalk moet daar ook in die debatte vandag gevra word of die natuurwetenskappe vir die teologie (Woord) vriend of vyand is? Die meeste sal dadelik wil antwoord met: Dit is ’n verkeerde vraag, want die algemene openbaring staan nie teenoor die besondere openbaring nie. Ek stel voor dat die wagwoord dalk: “Bly binne jou vakgebied” moet wees.

“Bly binne jou vakgebied” beteken dan dat die Woord nie ’n handboek word vir geologie nie (Die wêreld staan immers nie op vier pilare nie, maar is rond en draai om die son). Verder weet ons ook dat ons niere nie die bron van ons emosies is nie (Job 19:27) en dat die hart nie die setel van denke en keuses is nie (Jeremia 11:20). Nog voorbeelde in die mediese vakgebied kan genoem word.

Ek beleef dikwels dat die Woord “gebuig/gedwing” word sodat dit nie met die wetenskap sal bots nie, want dit behoort nie. Die vraag is of teologie nie dalk daardeur sy vakgebied oorgegee het aan die wetenskap nie. Wie besluit oor wat eties reg en aanvaarbaar is? Wie besluit wat ons lewensdoel is?

LEES OOK: Wetenskap en Bybel

Prakties beteken dit dat sielkunde nie kan sê of iets reg of verkeerd is nie. Dit kan bloot aandui wat die samelewing as aanvaarbaar beskou, en of iets positiefs beleef word deur die sekulêre mense. Hier moet die Woord se lig vir die gelowige die pad aandui. Selfs al word dit as “normaal” beskou, beteken dit nog nie dit is voor God aanvaarbaar nie.

Dieselfde geld vir ons lewensdoel. Vir die sielkunde gaan dit oor selfverwesenliking en vir die Woord gaan dit daaroor om God te verheerlik deur selfverloëning.

Die mediese wetenskap dui ook vir ons die realiteite aan, van hoe ons funksioneer en geskape is. Dit beteken nie dat alles gevier moet word nie. Teologie werk verder ook met die realiteit dat ons in ’n gebroke wêreld leef. Paulus bid dat die doring in die vlees verwyder sal word. Hy vier dit nie. Sommige persone word selfs gebore met ’n gebrokenheid. Tog kan ons elkeen, met sy eie gebrokenheid, saam met Paulus getuig dat God se genade genoeg is.

Ons gebrokenheid (geestelik, liggaamlik of andersheid) maak ons meer afhanklik van ’n liefdevolle Vader vir wie elkeen kosbaar is. Hy aanvaar ons en het ons lief soos ons is. Die Bybel leer ons dat Hy juis dié gebruik wat swak, nederig en afhanklik is. Dit maak dat ons soveel te meer kan leef tot sy eer. Vir sy roeping het ons alles ontvang wat nodig is!

Ons swakhede maak juis dat ons ook nader aan mekaar kom, want ons het mekaar nodig en is afhanklik van mekaar as lede van sy liggaam.

Mag die Woord en wetenskap (en teoloë) handevat met die regte wagwoord: “Bly binne jou vakgebied.”

Word 'n vriend van Kerkbode