Rus in die ritmes van Lydenstyd

Wanneer ons by ’n etenstafel, in ’n lesinglokaal of op ’n kerkbank gaan sit, gaan sit ons meestal waar ons gewoonlik sit. Ons dink nie elke keer daaroor en eksperimenteer met die plek waar ons sit nie. Nee, dit is sesuur in die aand, kos is op die tafel en ek weet watter stoel myne is. Toegegee, sommige mense is ongelukkig met die Van der Merwes wat al vir twee eeue lank elke Sondag in dieselfde kerkbank inskuif. Tog moet ons hulle dit gun wanneer ons insien dat ’n be­kende plek op ’n bepaalde tyd die mense goed doen. Wanneer plek en tyd op só ’n wyse oorvleuel dat dit ’n tipe geborgenheid bring waar ek sommer net kan (aan)sit en deelneem, bring dit die soort rus wat mense wat broos en moeg is tydens ’n pandemie benodig.

Deur die eeue was spesifieke tye in kombinasie met plekke baie waardevol en betekenisvol. Vele mense gaan byvoorbeeld op die dag wanneer hulle ’n hartseer gebeurtenis herdenk, na ’n bepaalde plek om dit te doen. En gewoonlik word iets beleef wat as troos beskryf kan word, selfs as heling.

LEES OOK: Sperdatum wink vir kerkkantore

Ons beleef dit ook elke jaar met Ly­denstyd en Paastyd, die tyd van die jaar waar daar vanaf Aswoensdag tot en met Paassondag vierings is waar mense in die ritme van die kerkjaar tot rus kan kom. Die kerkgeskiedenis is boordensvol beskrywings van hierdie waarheid en ek wil die spoor van een pelgrim neem wat iets hiervan vir ons opgeteken het.

Teen die einde van die vierde eeu reis ’n Spaanse non genaamd Egeria na Israel en omstreke. Daar woon sy baie eredienste by. Hierdie vrou was nie net ’n pelgrim nie, maar ook ’n etnograaf. Elke liturgie en viering waaraan sy deelgeneem het, het sy noukeurig gedokumenteer.

Rondom Paastyd van ongeveer 380 nC vind ons haar in Jerusalem waar sy aan die eredienste in die stad deelneem en die belewenisse in haar reisjoernaal beskryf. Ons verneem daar is talle ander pelgrims, want die stad Jerusalem het as plek ’n besondere betekenis gehad. Haar beskrywings oor hoe plek en tyd in Jerusalem tydens die Lydens- en Paastyd sinchroniseer, kan in ’n gren­deltyd waar­devol wees.

Die persoon wat die eredienste in die tyd van Egeria in Jerusalem gelei het, die bekende biskop Cyrillius van Jerusalem, het die plekke op gegewe tye goed benut in sy liturgie. So byvoorbeeld was daar twee kerke: die Marturium, gebou op die plek waar Jesus (volgens oorle­wering) gely en gesterf het en die Anastasis, gebou op die plek van die graf (ook volgens oorlewering) en as soda­nig ook die plek van die opstanding.

Egeria vertel hoe betekenisvol dit vir erediensgangers was wanneer hulle op ’n dag soos Goeie Vrydag spesifiek in die Marturium eredienste bygewoon het. Dieselfde het gegeld vir vierings in die kerk van die graf op Paassondag. Dit was dus in ooreenstemming met Bybel­se en ander getuienis oor Jesus se laaste dae op aarde. ’n Betekenisvolle tyd, byvoorbeeld, was hanekraai wat op Paassondag bykans as die episentrum van die kerkjaar gesien kan word, die oom­blik in die jaar wanneer dood oorgaan in lewe. Die biskop het verder ook dit wat die natuur vir hom gebied het, ge­gewe tyd, op kreatiewe wyses ingebou.

So byvoorbeeld was dit op verskeie plekke die gebruik dat diegene wat op Paassondag gedoop word, in die don­kerte en knap na hanekraai hulle ou lewe aflê met ’n belydenis en met hulle lyf gedraai na die weste, die windrigting waar die son sak en in die kosmologie van daardie tyd, simbolies van die dood. En dan, terwyl die son opkom in die ooste, het hulle na die lig gedraai en ’n nuwe belydenis gedoen. Let wel, dit is gedoen in die Anastasis, nadat hulle die hele nag vir die Paaswaak in die Marturium deurgebring het.

Dit is Lydenstyd 2021 en, nog meer so as in ander jare, gaan vele mense nie kerk toe nie. Sommige gaan Pase in aanlyn­dienste vier, enkeles gaan dit in die kerkgebou waag en party gaan na hanekraai gewoon net in die bed bly. ’n Argument om nie nou eredienste te vier nie mag wees dat ek nou by uitstek rus nodig het, so ek gaan veel eerder inlê as wat ek op enige tye spesifieke plekke gaan besoek, fisies in persoon of via ’n skerm.

Die rus wat mense nou nodig het, lê egter veel dieper as ’n ekstra uur se slaap. Mense is voos en broos en smag na Sabbatsrus. Nie Sabbatsrus soos in sommige lesers se kinderdae toe hulle, sou hulle op ’n Sondag naaldwerk doen, hulle die naald in God se oog sou druk nie. Nee, gewoon die rus van die ritme van die kerkjaar – ’n ritme wat klop van­uit Paassondag en van daar uitkring na al die ander Sondae van die jaar. Dit is om tot rus te kom in ritmes wat ek nie uitgedink het nie, maar wat deur die eeue aan­kom en wat oor die wêreld heen klop. Die ritmes wat my ruimtes waar ek gegrendel is, oopsluit en my by ander laat aansluit en dat ons so mekaar insluit. Dit is ook die ritme wat geskoei is op die hartklop van God en die wêreld se rit­mes wat my soms moeg maak, uitdaag.

LEES OOK: Hugenote Kollege vra sinodes: Stuur voete na dié kursus

In die ritme van die tyd, in hierdie dae die ritme van Lydens- en Paastyd, kan brose mense rus en genesing vind. Ja, min Van der Merwes kan in die bank gaan inskuif waar hulle eintlik wil inskuif, maar simboliek gegewe Lydens- en Paastyd tuis kan private ruimtes oopsluit. Egeria se beskrywings kan ons verbeelding aangryp sodat ons private ruimtes en liturgiese ruimtes inrig dat dit iets van God se ritmes kommunikeer. En deur net in te skakel by ’n aanlyn-erediens, word my private ruimte reeds omskep in iets meer.

Die ritme van Lydens- en Paastyd is, soos daardie etenstafel waar ons kan gaan aansit, ’n plek waar mense wat na ’n grendeljaar broos is, opnuut kan gaan rus. Op daardie plek en in daardie tyd vind by uitstek ook ’n Godsontmoeting plaas waar besef word alles hang nie van myself en my eie pogings af nie. Dit is die diepste rus wat nou benodig word.

’n Boodskap om 09:00, presies wanneer ons Goeie Vrydag-diens begin; ’n video op Kieskerk waar ek ons kerkgebou en predikant sien en die bekende woorde van Pase hoor; ’n tafel waar ek alleen of met ander kos (kerrievis, lams­vleis, paasbolletjies) eet wat my nou laat onthou sodat ’n nuwe toekoms oopbreek, is ritmes wat private ruimtes oop­breek sodat God se lig inskyn op ons voosheid. Vierings op Sondae en fees­dae is God se uitnodiging om te kom aansit en rus te vind in eeueoue ritmes.

  • Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teo­logie aan die Universiteit Stellenbosch.
Word 'n vriend van Kerkbode