Sit apologetiese skouer aan die wiel

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Philip Coetzee skryf:

Dr Braam Hannekom (Waarom glo ons?) raak ’n paar relevante probleemareas in die kerk aan. Ek wil op ’n paar onderwerpe reageer vanuit die verstaan van baie gewone lidmate, sonder om hulle kennis onder verdenking te plaas. Dit is juis een van die probleme in die kerk, meer gemik op sommige van ons kerkleierskap, dat lidmate se Skrifkennis onderskat word.

Eerstens: Die term Godsbegrip is iets vreemds in die kerk, daarom verstaan mense dit óf verkeerd óf het nie ’n duidelike verstaan nie. God is nie net almagtig en alwetend nie, maar belangrik, wat sê God vir ons, hoe moet ons Hom verstaan in die Woord deur sy eienskappe asook sy optrede.

LEES OOK: Gebed van ’n woedende man

Tweedens: Om mense bewus te maak van Richard Dawkins en sy opvattings oor evolusieleer, sal maak dat die kerk op dun ys beweeg. Waarsku mense daarteen, maar moet nie ’n “bestaansreg” van sy ideologie regverdig nie. Lidmate het alreeds meer op hulle vurk as wat hulle kan hanteer. Ek was by ’n byeenkoms waar ’n bekende in kerkkringe ’n ateïstiese gehoor toegespreek het. Hy het openlik gesê dat hy nie kan glo dat daar nog mense in die Christelike geloof is wat glo in die skeppingsverhaal soos in Genesis verkondig word nie. Julle kan dink met watter opgewondenheid die ateïste dit begroet het, maar met watter verwarring en ongeloof die Christenkamp, ook teenwoordig, hiervan kennis geneem het. Daarom stem ek saam met Braam, dit is belangrik om ’n duidelike perspektief te hê of stel tussen wetenskap en geloof. Weereens, watter geloof? Ek het onlangs op ’n opname afgekom wat geneem is tydens ’n seminaar wat gehou is by twee van ons belangrike universiteite. Onder andere was geloof een van die belangrike onderwerpe. Die hartseer was dat die meeste van die afgevaardigdes saamgestem het met ’n betrokke spreker dat alle gelowe dieselfde god dien (God).

Derdens: Braam verwys na uitverkiesingsleer. Hierdie is ’n braak veld in die kerk waar groot onsekerheid heers. Wanneer is ek uitverkies, kan God sy plan met my verander, met ander woorde, eers was ek, maar nou nie meer, en andersom. Ek het gevind dat daar selfs leraars is wat nie duidelikheid het oor die saak nie. Net om ’n paar voorbeelde te noem: As Jesus sê dat Hy gekom het sodat sondaars kan bekeer, en jy bekeer nie, maar is alreeds uitverkies, wat dan, en andersom? Dit is ’n grys area wat baie aandag nodig het.

Vierdens: Behoort daar ’n vraag te wees oor waar moraliteit vandaan kom, kan ons dit nie duidelik in die Skrif volg nie, of is daar ’n verskuilde agenda wat agter humanisme en verligte teologie skuil?

Vyfdens: Braam noem “die kerk sal moet besluit …” dit is ’n groot probleemarea. Daar bestaan groot kommunikasieprobleme en tekortkominge tussen kerkleierskap en lidmate soos dit reeds is, en kan net vererger as daar nie met bereidwillige harte aandag aan gegee word nie. Daar word verwys na die domineekerk; kerkraadskerk, ensovoorts.

Laastens: Ons sal almal ’n apologetiese skouer aan die wiel moet sit om ons geloof vorentoe te laat beweeg. Mag God ons seën met wysheid.

Word 'n vriend van Kerkbode