VIDEO: Waarom glo ons?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die afgelope maande woed daar ’n hewige debat in die openbare media oor geloof en waarom mense in God glo. BRAAM HANEKOM gee hieronder ’n samevatting van ’n webinaar oor hierdie onderwerp wat onlangs deur die Sentrum vir Publieke Getuienis aangebied is.

 Dit is vir ons duidelik dat die kerk nie tans in ’n strydgesprek met ongelowiges moet of wil tree nie, maar soos altyd gereed moet wees om as getuienis ’n verduideliking te gee van die geloof, hoop en liefde wat in ons leef. Dit is ’n tyd vir deeglike selfondersoek vir die kerk en veral ook oor die vraag of die kerk nie in die laaste jare haar apologetiese verantwoordelikheid versaak het nie. Elke predikant en dosent aan ons teologiese fakulteite behoort die vraag te beantwoord. Dit word al hoe duideliker dat, terwyl predikante en teoloë ’n goedontwikkelde geloofsbegripperaamwerk het, ons lidmate soms spartel om nuwe, vars taal te vind om hulle geloof in die 21ste eeu te verwoord. Ons het dus ’n groot verantwoordelikheid om aan ons eie lidmate eenvoudige taal te gee om hulle geloof te verwoord.

Dit is nie nou die tyd om met ongelowiges te baklei nie. Ons het waarskynlik te min tyd in deernisvolle verhoudings met randfigure spandeer. Die kerk het nie altyd goed genoeg geluister nie. Maar terwyl ons nie goed genoeg geluister het nie, het ons terselfdertyd ook nie ons apologetiese standpunt goed genoeg verwoord nie. Ons mag en moet ook ’n duidelike standpunt inneem. Dit is deel van ons getuienis. Die klein taakspan by Publieke Getuienis wat die afgelope tyd tot stand gekom het, het die kontoere van ’n moontlike gesprek begin bepaal en die volgende het vir ons duidelik geword. Ons sal aan die volgende aandag moet gee:

  • Die evangelie se koherente en selfverklarende antwoord op die vraag na sin en betekenis. Die wetenskap gee baie antwoorde, maar min antwoorde hierop.
  • ’n Verduideliking van ’n holistiese kennisleer of te wel epistemologie. Tans vind daar ’n vertekening van die kennisleer plaas. Dit word verskraal tot die grense van die fisiese wetenskap. Dit is ook ’n vraag met watter epistemologie ons lidmate werk. Weet ons dit en praat/preek ons daaroor?
  • Die belangrikheid van logiese beredenering is vir gelowiges en ongelowiges belangrik. Swak argumente vir die bestaan van God is net so onaanvaarbaar soos argumente teen die bestaan van God. Die evangelie wil juis ons “denke vernuwe”. Een voorbeeld kan hier genoem word: Om byvoorbeeld te sê: “Omdat die kerk drooggemaak het, bestaan God nie,” is ’n dun argument.
  • Hiermee hou ook verband die belang van ’n korrekte Godsbegrip. Dit is ons ervaring dat daar in post-teïstiese teologie dikwels ’n beeld van God opgerig word, wat vreemd aan die meeste gelowiges se eie denke is. Daardie “strooipoppe” word dan afgeskiet.
  • Dit is belangrik dat ons groter perspektief op die werk van mense soos Richard Dawkins kry. Sedert sy The God delusion in 2006 soveel opslae gemaak het, het Dawkins internasionaal om verskeie redes in onguns verval. Min daarvan is plaaslik bekend.
  • Die gesprek oor die verhouding tussen geloof en wetenskap is geensins onbelangrik nie. Dit moet baie duidelik gestel word dat die kerk die wetenskap baie ernstig wil neem, maar ernstig beswaar het teen die aanname dat die grense van die (bekende) wetenskap die grense van ons bestaan definieer. So word te maklik ’n streep deur alle metafisika getrek. Terwyl daar moeilik wetenskaplike bewyse vir die bestaan van God gegee kan word, is daar tog ’n beduidende groep lidmate wat ook in verantwoordelike wetenskaplike debat betrokke wil raak en juis daarin belangstel.
  • Dit moet beklemtoon word dat ’n oppervlakkige omgang met die teodisee-vraag, die vraag na lyding, niemand help nie. Die argument dat, omdat daar soveel lyding in die wêreld is, God nie bestaan nie, is ’n voorbeeld van ’n te vinnige omgang met hierdie vraagstuk.
  • Die kerk sal opnuut haar belydenis oor die verlossingsleer, ons verlossing in Jesus Christus, moet beklemtoon. Ons sal dit ook moet omskryf in taal wat die moderne mens sal verstaan. Dit sluit ons Gereformeerde teologie en by name die uitverkiesingsleer in!
  • Die rol en belangrikheid van die geheimenis en misterie van ons geloof en God kan nie genoeg beklemtoon word nie. Ons werk nie met finale antwoorde nie.
  • Die vraag oor waar moraliteit vandaan kom, help baie in die ontmaskering van die idee dat die mens en ook ons bewussyn die blote produk is van evolusie en biochemiese prosesse.
  • Die verskil tussen ’n persoonlike verhouding met God en die bedryf van teologie as abstrakte wetenskap moet duidelik onderskei word.
  • Ten slotte bly die vraag oor die verband tussen geloof en (geloofs)gemeenskap van belang. “We believe because we belong”.

LEES OOK: Hugenote Kollege vra sinodes: Stuur voete na dié kursus

Hierdie is slegs ’n voorlopige raamwerk en elkeen van bogenoemde punte vra veel dieper antwoorde. Die kerk sal ook moet besluit met wie, waaroor en hoe daar gekommunikeer gaan word. Die gesprek vind duidelik in verskillende kontekste verskillend plaas. Die eenvoudige duidelike kommunikasie na lidmate bly nou egter ’n prioriteit. Dit hoef nie ’n las te wees nie. Dit skep die geleentheid om weer vars oor ons geloof, getuienis en wese in 2021 te dink.

  • Dr Braam Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis.
Word 'n vriend van Kerkbode