Nou voel leser sleg hy’t nie ander se inskrywings ge-like

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dr Jannie le Roux van NG Kerk Gordonsbaai skryf:

Ek lees deur al die e-poswense vir voorspoed met my komende rugoperasie. In die agtergrond speel Griekse musiek, ’n herinnering aan ons bootvaart tussen die Griekse eilande. Ons speel dit gewoonlik as ons nostalgies is of hoop daar kom weer goeie tye, of sommer net verlang na vreemde plekke en goeie vriende om die ondervindings mee te deel.

LEES OOK: Chirurg geroep om soos ’n Daisy te dien – eenvoudig, maar besonders

Tussen al die mededelings van goeie wense is daar ook die wense van mense van wie ek in die afgelope tyd nie seker was of ek hulle goed moet like of wys dat ek dit lees nie. Ek het myself nog altyd as ’n bedienaar van die versoening geag. Maar die laaste paar jaar was dit of ek moes kies vir of teen iemand se standpunt en dus ook hulle as persoon, binne die kerklike debatte. Ons weet van al die debatte binne die kerk. En ek is lief vir my broers en susters en die kerk. Eintlik het ek hulle as persoon nog altyd ge-like, maar dit is asof ek nie hulle standpunt los van hulleself kon maak nie. Dus het ek nie enige reaksie op hulle Faebook-posts gelaat nie.

Voor my operasie voel ek skaam dat ek dit wat ek van hulle posts gehou het, nie die Like-teken gegee het nie. Al verskil ek van hulle standpunt in die groot debat. Skaam dat ek bang was ek word as iemand vír of téén geag net omdat ek ’n stukkie van hulle waarheid van die oomblik like.

LEES OOK: Dana Snyman: Om die binne-chaos te verdryf

Een maak die mooiste, positiefste lekker-slaap-posts. Ander ene doen goeie Bybelstudies maar stoei met die kerk se standpunte oor ’n kontroversiële onderwerp. So ek bly maar stil en loer net. Ander neem eintlik sterk standpunt in oor goed waarmee ek saamstem, maar nog altyd het ek ter wille van die eenheid liewer stilgebly.

My droom was nog altyd dat ons ten spyte van al ons verskille steeds sal omgee vir mekaar, al like ons nie alles nie.

Ek gaan nie opgee op hierdie hoop nie. Dankie vir almal wat ten spyte van wie ek is, tóg sterkte gesê het. Julle help my en gee my moed!

Word 'n vriend van Kerkbode