Israel en Palestina: ‘Goeie buurskap is te verkies bo ’n bakleiery in een huis’

Dié keer stem ek met pres Ramaphosa saam: Vir Israel en Palestina is ’n billike, regverdige twee-staat-oplossing waarskynlik die enigste uitweg, skryf Frits Gaum.


Louis Jonker skryf in sy artikel, “Waar onskuldige burgers sterf, is dit eenvoudig menseregtevergrype,” dat hy al lankal dink dat ’n twee-staat-oplossing vir “Israel-Palestina” (waar daar nou weer ’n wankelrige wapenstilstand bestaan) nooit ’n oplossing sal wees nie. Trouens, meen hy, dit sal bloot die institusionalisering van vyandskap wees. “’n Een-staat-oplossing (soos met die verdwyning van die tuislande in Suid-Afrika in effek gebeur het) sal eerder uitdrukking gee aan versoening,” skryf hy.

As Louis skryf dat ons, saam met die Moslems, moet opstaan teen die geweld en onreg wat in Israel en die Palestynse gebiede gepleeg word, stem ’n mens van harte met hom saam. Die Midde-Ooste is dekades (eeue?) lank al ’n kookpot wat kort-kort óórkook. Meer as sestig jaar gelede, toe ek in Matriek was, het my Geskiedenisonderwyser, mnr Goosen – wat die vermoë gehad het om geskiedenis as ’n storie te vertel wat jou aan sy lippe laat hang – gesê dat die destydse Suezkanaal-krisis en die Midde-Oosterse vyandelikhede wat daarmee saamgehang het, “nie genees kan word nie”. Die jare sedertdien het sy woorde weer en weer bevestig.

LEES OOK: Oor (ander se) swaarkry

Louis skryf dat ’n Mandela en ’n De Klerk nodig is om vrede tussen die Israeli’s en die Palestyne te bewerkstellig. Goed en wel, maar – soos dit nie in die sterre geskryf staan dat Suid-Afrika een staat moet wees nie (voor 1910 was dit in elk geval nie een staat nie) en dat dit die enigste manier is om vrede en versoening te kry nie – is dit allermins die geval met Israel en Palestina. Interessant genoeg, staan die Suid-Afrikaanse regering steeds ’n twee-staat-oplossing vir Israel en Palestina voor, soos weer blyk uit pres Ramaphosa se Maandag-nuusbrief van 17 Mei 2021. Hy – wat van die tuisland-idee in Suid-Afrika heeltemal niks wou weet nie – skryf: “’n Twee-staat-oplossing bly die enigste uitvoerbare keuse vir die mense van sowel Palestina as Israel”.

Afsonderlike state vir afsonderlike nasies of volke (kultuur- en taalgroepe) kan nie bloot as “apartheid” beskou en afgeskryf word omdat dit sou uitgaan van die gedagte dat mense onversoenlik is nie. Nasiestate staan nie noodwendig téénoor versoening en vrede nie. Bure woon nie in een huis nie, maar hoef nie daarom in onversoenlikheid langs mekaar te leef nie. Inteendeel. Die bestaan van byvoorbeeld Lesotho, Eswatini (voorheen Swaziland), en Botswana – etniese of volkstate/nasiestate in ons onmiddellike omgewing – is as sodanig nie onchristelik en ’n onaanvaarbare teken van onversoenlikheid tussen mense nie. (Daar is min, indien enige, aandrang dat dié state deel moet word van die een-staat, Suid-Afrika.) Skotland se referendum in 2014 om van Brittanje af te skei (daar kom dalk nog ’n referendum) en ’n Skotse staat te vorm, was nie per se onchristelik en onregverdig nie. So ook nie die die ontstaan van die jongste staat in die wêreld, Suid-Soedan, nie. En ook nie ’n ontwykende twee-state-oplossing vir Israel en Palestina nie.

Op die ou end is dit in ons werklikheid in sommige gevalle blote gesonde verstand en maak dit politieke, ekonomiese, kulturele en selfs godsdienstige sin (laasgenoemde soos in die geval van Indië en Pakistan). Goeie buurskap is te verkies bo ’n bakleiery in een huis. Een staat vir die hele Afrika, of vir die hele Europa, of vir die hele wêreld, sal nie noodwendig tot groter versoening lei as nasiestate wat in relatiewe vrede naas mekaar bestaan nie.

In Suid-Afrika het die idee van afsonderlike state vir afsonderlike volke hopeloos te laat posgevat. Tog het een van die grootste anti-apartheidsaktiviste van die 1960’s, die Katolieke aartsbiskop van Durban, Denis Hurley, nog in 1966 verklaar: “My persoonlike mening is dat afsonderlike ontwikkeling as ’n Christelike oplossing van die rassevraagstuk aanvaar kan word as dit aan vier vereistes voldoen. Vir eers: Die beleid moet uitvoerbaar wees; ten tweede: dit moet met die wye instemming van al die betrokke partye geskied; ten derde: daar moet ’n proporsionele verdeling van opofferings wees, en ten vierde: die regte van al die betrokke partye moet in die oorgangstyd doeltreffend beskerm word … Daar kan in beginsel geen beswaar wees teen ’n eerlike en regverdige verdeling van Suid-Afrika onder al sy rassegroepe nie. Maar niemand kan my daarvan oortuig dat, wat op die oomblik in Suid-Afrika plaasvind, óf regverdig óf ’n verdeling is nie” (Die Burger, 16.02.1966).

Maar die idee van afsonderlike state vir afsonderlike volke – of ’n volledige partisie van Suid-Afrika – was nie meer in die 1960’s haalbaar nie. Willie Jonker het in ’n gesprek met Kerkbode (15.06.2001) opgemerk dat die teorie van afsonderlike ontwikkeling – vir elke volk ’n eie land – moreel geregverdig kan word. “Maar in die praktyk kon dit nie billik uitgevoer word nie – die ineengestrengeldheid van ons samelewing het dit nie moontlik gemaak nie. Die roereier kon eenvoudig nie ont-roer word nie!”

LEES OOK: Jaap du Rand: Ryke herinnering leef in skrywer wat bly soek

Staatkundige “apartheid” in die sin van partisie of ’n billike verdeling van Suid-Afrika tussen verskillende volke/etniese groepe met algemene instemming, sou nie wesenlik onregverdig en onchristelik hoef te gewees het nie as daar, sê, met Uniewording in 1910 op iets van dié aard besluit is. Die manier waarop 50 jaar later probeer is om so ’n bestel in Suid-Afrika tot stand te bring – deur tot in ’n laat stadium steeds brokkelstaatjies aan die grootste deel van die bevolking te wou toeken en die vet van die land vir die witmense te probeer hou – was egter ongetwyfeld onregverdig en onchristelik.

Dié keer stem ek met pres Ramaphosa saam: Vir Israel en Palestina is ’n billike, regverdige twee-staat-oplossing waarskynlik die enigste uitweg uit die huidige voortslepende konflik wat van ver af kom en verseker nie “genees” sal word deur ’n eenheidstaat af te dwing nie. Goeie buurmanskap tussen die twee volke, elke haan op sy eie mishoop, is eerder ’n werkbare moontlikheid. Maar, soos dit al dekades lank duidelik blyk, sal daar nie huis te hou wees met die bakleierige klomp in één staat nie … met of sonder ’n Mandela en ’n De Klerk se hulp.

  • Dr Frits Gaum is ’n voormalige redakteur van Kerkbode en ’n voormalige skriba van die Algemene Sinode.
Word 'n vriend van Kerkbode

2 thoughts on “Israel en Palestina: ‘Goeie buurskap is te verkies bo ’n bakleiery in een huis’

  1. Gaan terug nie lsnk gelede nie was daar deur die edn Party…nie Israel.nie reguit gesè.hy stel nie belang in vrede samesprekings nie
    .israel…’n relatiev klein Landjie wat weens hulle Geloof nie welkom.is die Strerk.nie.
    Ek wil my amper verstoud om te sê dat Kerkbode daar moet uitbly.

  2. Louis Jonker says:

    Dankie Frits, dat jy my artikel met genoegsame erns beskou het om daarop te reageer. Uiteindelik moet die lesers maar oor ons twee se argumente oordeel. Gesprek is altyd heilsaam. Ek is egter onseker of jy wél op my artikel reageer het. Ek gebruik die woord “volk” een maal om te verwys na die misverstand dat die huidige Israel “die volk van God” is. Die begrippe “nasie” en “ras” kom nêrens in my stuk voor nie. Wel word gepraat oor mense en menseregte. Jou verwysings na “ras”, “volk” en “nasie” herinner my egter aan Kuyper se “soewereiniteit in eie kring” en argumente uit “Ras, Volk, en Nasie” waarmee apartheid geregverdig is.

Comments are closed.