Jaap Durand: Ryke herinnering leef in skrywer wat bly soek

Jaap Durand gaan sit aan die hoof van die etenstafel en neem sy vrou, Sonja, se hand. Sy neem op haar beurt die hand van Glenda Reynecke, ’n verpleër wat gemaklik inskakel by die Durand-egpaar se daaglikse roetine hier in die La Clémence-aftreeoord buite Stellenbosch. Dan vra die 86-jarige teoloog die seën en middagete begin. Lasagne en ’n slaai, met ’n pizza wat bygelas word vir die gas wat hier is om ’n uitgewerspakkie vanaf Bybel-Media vir Durand af te lewer: ’n stel eksemplare van sy opvolgboek oor vrouemartelaars.

Oorkant Durand op die etenstafel is twee legkaarte besig om stuk-stuk prentjies te word. Dis Glenda se tydverdryf so tussendeur haar versorgings­werk. In die motorhuis staan ’n diepgroen gholfkarretjie waarmee Durand rondbeweeg op die landgoed sedert hy ophou motor bestuur het. Teen die stoepmuur is ’n tennisklubfoto wat die storie van ’n kranige sportman vertel. Op 80 het Durand maar begin dubbels speel om minder rondgejaag te word, skerts hy.

Resensie: Prominenet oudleraar karteer pad wat hom na ‘anderkant’ God lei

Maar dis in die studeerkamer, om die draai op ’n geelhouttafeltjie, waar die oningelyfde ’n rits leidrade sal vind oor hoe hierdie oud-prof se loopbaan verloop het. Die skootrekenaar staan oopgeslaan, gereed. Regs daarvan strek ’n boekrak en teen die mure pryk pryse, toekennings, pennings en ’n afdruk van ’n profiel wat die joernalis Murray la Vita in November 2019 oor Durand geskryf het.

In sy onderhoud met La Vita praat Durand oor sy gevoel nadat sy ampsbevoegdheid as leraar in die NG Kerk die vorige week herstel is, nadat Durand in 1982 weens sy kritiek op apartheid uit die amp van predikant ontslaan is. Dieselfde refrein hoor ’n mens vandag waar hy ná ete in die herfs­son sit en gesels. Hy is nie verbitterd nie. “Ek was ’n bietjie dwars gewees. Kom ons sê dit maar in eenvoudige taal. Ek het nie heeltemal ingeval by die patroon nie,” vertel Durand.

Prof Nico Koopman, teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch, het ná die bevoegdheidsverklaring in ’n rubriek op Netwerk24 geskryf: “Oom Jaap het die NG Kerk se teologiese ondersteuning van apartheid op gesonde teologiese grondslag teengestaan. Hy het in die kommissie gedien wat in 1982 die Belydenis van Belhar opgestel het. Hy het gevra dat daar nie nuwe formulerings uitgedink moet word nie; die kommissie moet gewoon dít op skrif stel wat die destydse NG Sendingkerk se mense reeds glo.”

Bloedbruide van Christus 2 is ’n welkome en noodsaaklike opvolgskrywe ná die eerste boek met dieselfde titel, aldus die uitgewer, Bybel-Media. “Jaap Durand se boek is nie bloot beriggewende vertellings wat rapporteer oor die lyding van vroue eeue gelede nie. Die skrywer bly nie ongeraak, ’n afstandelike waarnemer nie. Hy skryf met ’n dringendheid, intense betrokkenheid en passie.” Foto: Le Roux Schoeman

As ’n mens Durand vra hoe hy deesdae voel oor die politieke stryd wat hy in sy lewe gestry het, antwoord hy: “Dit is ’n stryd wat verby is. Dis herinne­ringe wat by my leef.”

“In ’n samelewing gelaai met spanning en konflik, was sy insette nie primêr polities gemotiveerd nie, maar teologies van aard,” lui ’n inskrywing oor hom in die elektroniese Christelike Kernensiklopedie.

Die bekroonde skrywer van boeke soos In awesome wonder – Faith and doubt: A continual dynamic tension bestudeer met sy nuwe skryfwerk vroue wat vir hulle geloof in Christus gesterf het. Die jongste boek oor die sogenaamde “bloedbruide van Christus”, wat hy saam met Verena Schoeman skryf, lewer ’n belangrike bydrae tot die gesprek oor die mishandeling van vroue deur magsisteme, dikwels in die naam van geloof, luidens ’n verklaring deur Bybel-Media, wat ook Kerkbode se uitgewer is.

En steeds lees, dink en skryf Durand voort.

In reaksie op die onlangse verskyning van Ben du Toit se boek God – Is daar ’n ander antwoord? ’n Bevrydende reis, het Durand op soek gegaan na “ligpunte” in Du Toit se opspraakwekkende boek. “In my soeke het daar in my gemoed ’n baie ou gereformeerde stelling opgekom wat ek van kindsbeen af geleer het: Eenmaal ’n kind van God, altyd ’n kind van God!” skryf Durand in ’n uittreksel van ’n skrywe wat Kerkbode hiernaas publiseer.

  • Kerkbode publiseer vandeesweek ’n baie verkorte weergawe van ’n uitgebreide dokument waarin prof Jaap Durand sy argumente in groter besonderhede uitbou. Indien jy sou belangstel om sy boek, wat in ontwikkeling is, te koop, kan jy Hester Fourie per e-pos kontak by hester@bmedia.co.za. – Red.
  • Koop Bloedbruide van Christus hier.
  • Koop Bloedbruide van Christus 2 hier.
Word 'n vriend van Kerkbode