Die Boesmanland Camino – ’n terugblik

Om 314 km te stap in die Knersvlakte en Boesmanland – van Calvinia tot in Garies – geen regdenkende mens pak mos so iets aan nie! 

Tog, as ek kan, doen ek dit weer. Die reuk van die aarde, die suiwer skoon lug, die helder sterre; ja, die droogte wat in jou gesigveld kom staan, die vernietigende effek daarvan op die plantegroei, gemeenskappe en omgewing – dit sal my altyd bybly. Die reuk van stof kom sit in jou neusgate en die droogte kom sit in jou hart en dit breek jou hart wanneer ’n boer met ’n diep hartseer in sy oë sê: “Al kom die reën weer, die veld sal nie in my leeftyd herstel nie …”

Tog word jy ook geraak deur die hoop – die hoop as geskenk van God aan mense. Ek is geraak deur mense wat bly vorentoe kyk en ’n boer wat sê: “Dalk moet ons minder bid vir reën en eerder begin bid vir wysheid om anders te begin boer in ’n omgewing wat verander as gevolg van aardverwarming en die gepaardgaande klimaatsverandering. Ons moet eenvoudig die nuwe werklikheid in die oë kyk.”

LEES OOK: Brief uit die Noord-Kaap: ‘Dankie aan elkeen wat voer of geld of gebede stuur’

Ek besef die droogte is ook ’n produk van ons vernietigende leefstyl. Ons almal het die ekologie al grootliks vernietig met ons oorbenutting en wanbestuur van die aarde wat deur God aan ons geskenk is. Dalk moet ons meer luister na God en die noodkreet van die aarde hoor wat sug onder ons selfsugtigheid. Ons sal eenvoudig anders moet begin leef!

Here Jesus, wees ons genadig! Wees ons genadig. Gee asseblief vir ons die wysheid, geloofsonderskeiding en die wil om anders te begin leef. Bewaar ons van doofheid om die noodkrete van die aarde te hoor.

Ek is ook diep geraak deur die mense van die gemeenskap en hulle stories. So met die stof van die droogte in hulle oë, hoor jy ook die lag en sien jy ook die vreugde en blydskap in hulle oë; die liefde en gasvryheid om te wil dien; en die wil om met volheid te wil lewe. Sal ons ooit Donderdag, 20 Mei 2021, kan vergeet! Die wind is stormsterk, dit begin reën – sulke yskoue druppels wat jou laat lag en huil tegelyk, maar jou ook bekommerd maak oor die nag wat voorlê. Dan stuur die Here ’n boer wat kom sê: “Luister, julle kan nie vannag buite slaap nie; ek stel my woonhuis vir julle beskikbaar”. Dit word toe meer as net ’n woonhuis – ons word ook bedien met heerlike vars gebakte brood. Die gasvryheid van mense in daardie omgewing was oorweldigend.

“Waar daar liefde en deernis is, daar is die Heer.”

Natuurlik is daar ook die mense met wie jy saam die Camino aanpak. Hulle is ook geskenke van die Here. Wanneer jy so saamstap, ontdek jy mense met stories wat jou diep aanraak; nee, jy herontdek God wat mense in hulle seer heelmaak, perspektief gee, versoening bring en hoop gee. Ek is diep aangeraak deur God en mense, ook gevul met groot dankbaarheid in my hart oor die pad wat God oor jare met my loop en die mense wat God oor my pad gestuur het.

Die Camino laat jou ook opnuut ontdek: Ons dra eenvoudig te veel goed en bagasie met ons saam. Ons kan eintlik met soveel minder klaarkom – ’n lewe van eenvoud is eintlik so bevrydend.

Sal ek dit weer loop? Verseker!

  • Ds Hannes Theron is emeritusleraar van die NG Gemeente Helderberg en ’n voormalige aktuarius van die Wes-Kaapse Sinode.