En as jou broer of suster sondig …

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Kerklike dissipline gaan oor versoening, nie ’n sege nie, skryf Jan Lubbe.

Dalk staan die beskeie boek iewers vergete op ’n rak in die pastorie: En as jou broeder sondig … Dié titel van wyle prof Willie Jonker se klassieke besinning oor “aspekte van die kerklike tug” (1959), kom uit Matteus 18:15 – Jesus se woorde: “As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen.” Dít was die konteks vir Jesus se mededeling dat waar twee of drie in sy Naam byeen is, “Ek by hulle is” (Matt 18:20). Waarom dáár? Omdat dit die kern is van waaroor die omsien na mekaar – in kerklike dissipline – behoort te gaan: Christus se teenwoordigheid tussen ons. Buiten Hóm om is daar geen communio sanctorum, geen gemeenskap van die heiliges nie. Ook Jonker sluit sy boek met dié gedagte af: “Tug” kom net tot volle reg “as die ware geestelike gemeenskap tussen die lede en hulle Hoof en tussen lede onderling bestaan.” Daarom moet ons bid dat die Gees ons (kerk)gemeenskap sal “verlewendig” (1959:198).

LEES OOK: Nadia Marais oor die geskenk van swakheid

Matteus 18 is ook die teks waarmee die Kerkorde van die NG Kerk (2019) begin, wanneer haar prosedure vir “Kerklike opsig, tug en dissipline” in Artikels 59 tot 61 en Reglement 22 uitgestippel word. Dié stel dat “tug” oor die eer van God, heil van die kerk en behoud van die sondaar gaan en ooreenkomstig die Woord, belydenisskrifte, Kerkorde en diensooreenkoms moet geskied. Laat ons maar erken: Dikwels is die Woord bloot ’n Skriflesing en gebed ter opening van die verrigtinge, waarná vir die res van die uitmergelende dag kerkorde en kontrak juridies die deurslag gee.

Hoe sou die teenwoordigheid van die lewende Woord – Christus – hier gestalte kon kry?

LEES OOK: Wenke wat werk vir kerkwees in Covid-tyd

Die eerste vraag wanneer ’n klag of gerug op die tafel van ’n kerkvergadering gebring word, moet dít wees: Hét jy met jou broer of suster hieroor gaan praat? Het hy nie geluister nie en het jy toe iemand saamgevat (Matt 18:15-17)? Dit gaan immers oor die communio sanctorum waarin “klaer” en “aangeklaagde” deel. In die eerste eeu al het Biskop Klemens van Rome vir daardie bekende gemeente wat so geteister is deur partyskappe – die Korintiërs – geskryf: “Waarom trek en skeur ons die lede van Christus uitmekaar en draai ons teen ons eie liggaam? Waarom is ons so onredelik dat ons vergeet dat ons as lede van die liggaam van mekaar afhanklik is” (46:7)? Dít, gaan Klemens voort, is waarom “baie mense die pad byster raak, in moedeloosheid verval en dit vir ons almal hartseer bring” (46:9). Wat persoonlik en pastoraal hanteer behoort te word, moenie in die publiek kerkpolitiek van gemaak word nie. Menige uitgerekte “tugsaak” kon al vermy gewees het as by Matteus 18:15 se vereiste gebly is. Daarom beveel die Kerkorde “herderlike sorg, versoeningsaksies, verhelderende gesprekke of kerklike mediasie” (Artikel 4, Reglement 22) aan, om te voorkom dat ’n kerklike vergadering ’n platform word vir een of ander persoonlike vete of ’n geboelie. Sou ons in die Gees van Christus wou handel met mekaar, is daar nie ’n ander beginpunt as dít nie: die communio waarvan Jesus getuig “Ek is in hulle twee of drie se midde”.

’n Tweede vraag “wanneer jou broeder sondig” is of en hoe dit wat gebeur het, ons brose communio sanctorum raak? ’n Paar bladsye ná Matteus 18, veroordeel Jesus die Fariseërs skerp omdat hulle God se wil in tiendes van komyn en kruisement afmeet, maar “wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid”; dat hulle muggies uitsif, maar kamele insluk (Matt 23:23-24). Kerklike dissipline gebeur in ’n konteks – van ’n communio in ’n spesifieke tyd en landskap – en vereis daarom van alle betrokkenes kritiese selfondersoek.

Wanneer dissiplineer ons wie waaroor? Lees ’n mens kerkraadsnotules uit die vyftigerjare toe En as jou broeder sondig verskyn het, ontdek jy dat “tugsake” in NG gemeentes veral oor die 7de gebod gegaan het; oor egbreuk en swangerskappe van ongetroude tienermeisies. Sý moes dan vrou-alleen (want meestal het die man naamloos uit die notule verdwyn) voor die kerkraad verskyn, is “bestraf” en tot ná haar kindjie se geboorte van die Nagmaalstafel uitgesluit. Terwyl buite, die land gebrand het: Apartheidswetgewing oor rasseklassifikasie, groepsgebiede en die dompas is afgedwing; ’n NG gemeente teen die hang van Tafelberg het by die minister aangedring op die sloping van Distrik Ses. Terwyl die Heidelbergse Kategismus die 6de gebod uitlê: “Ek mag nie my naaste onteer, haat, beledig of doodmaak nie; ons moet alles wat die naaste kan benadeel, sover moontlik voorkom” (Sondag 40). En die 8ste gebod: “God beskou as diefstal al die skelmstreke of liste waardeur ons ons naaste se besittings in die hande probeer kry, hetsy met geweld of ’n skyn van reg” (Sondag 41).

LEES OOK: Nuwe pelgrimsroete: Geloof, hoop en roosterkoek

Die afgelope maande – onder die ontreddering van Covid-19 – is die 9de gebod op die strydbanier geskryf: “Ek mag teen niemand vals getuienis aflê, niemand se woorde verdraai, nie ’n kwaadsteker of lasteraar wees, niemand onverhoord en ligtelik help veroordeel nie” (Sondag 43). Wat beteken dit in ’n konteks van fopnuus, ongebreidelde vrye sê in sosiale media en felle debatte oor die 2015-, 2016- of 2019-sinodebesluite, oor “liberale teologiese opleiding”, oor “dolering”? Geld die “niemand” net vir sommige? Is “my naaste (wie) se eer en goeie naam ek (moet) verdedig en bevorder” (Sondag 43) net hulle wat soos ék dink, doen en bid? Dan is ons mos besig om ’n communio sanctorum na óns beeld te maak?

’n Laaste opmerking: Jesus se woord was dat as die “broer wat gesondig het, luister, het jy hom teruggewen” vir die communio sanctorum. Tóé het Petrus vir Jesus gevra oor vergifnis en het Hy geantwoord, “sewentig maal sewe”; “julle moet elkeen sy broer van harte vergewe” (Matt 18:22, 35). Vergewe, nie verneder nie. Kerklike dissipline gaan oor versoening, nie ’n sege nie. Oor barmhartigheid, het Jonker dit as eerste rede vir Jesus se woorde in Matteus 18 genoem; die “teerheid en liefde van Christus” (1959:8). En Christus is oneindig barmhartiger as wat die kerk in haar eie oë heilig is, het prof Dolf Britz – oudstudent van Jonker – eens in Kerkbode geskryf. Soos Klemens van Rome aan die twistende Korintiërs skryf: “Van die baie deure wat oopstaan, is die deur van geregtigheid die deur van Christus” (48:4). Watter deur kies ons en hoe gaan ons met mekaar op weg?

Miskien is dit tyd dat die taal van ons Kerkorde hersien word om die woord “tug” deurgaans met “kerklike dissipline” te vervang. Eersgenoemde se oud-Nederlandse oorsprong van “(nader)trek” het in ons Afrikaans verhard; laasgenoemde herinner ons dat hierdie gesprek met die “broer wat gesondig het” van ons almal weer dissipels wil maak – hulle wat luisterend en lerend, ootmoedig in die voetspore volg van Hom wat hulle tot ’n communio sanctorum geroep het.

Word 'n vriend van Kerkbode

4 thoughts on “En as jou broer of suster sondig …

  1. Johan van den Heever says:

    Jan, baie dankie vir die skrywe. Wat die afgelope maande weer in die NG Kerk gebeur het, die tugproses teen Andre, het die kerk net skade gedoen. Wanneer vra ons inderdaad eers: Het jy met jou broer gaan praat, en wou hy nie luister nie?

  2. André Viljoen says:

    Dankie vir jou nugtere uiteensetting oor wat die aard van kerklike dissipline behoort te wees. – Kommentaar verkort: Red.

  3. Reda Davin says:

    Kan die kerk nie n voorbeeld vir die wereld word en tug/dissipline met Christus se liefde vervang nie. Ons wereld en veral land kort Christelike liefde vir mekaar. Wees ‘n lig (voorbeeld) vir die wêreld.

  4. Kruger du Preez says:

    Herinner my aan NG Petrusville wat destyds ‘n kerklike ‘tug’ saak moes hanteer van oortreding van 7de Gebod. Nie net het die kerklik onverskillige man hom bekeer nie maar sy latere vrou het oorgekom van ander geloofsgemeenskap en ‘n Sondagskool onderwyseres geword! Die kind is as verbondskind gedoop. Die broer en suster wat gesondig het is in liefde en deernis hanteer en also teruggewen en nie vervreem van die gemeenskap van gelowiges nie. Ek was so trots op die kerkraad se hantering! Mag dit almeer die riglyn en begeerte word vir ons kerk se leiers ook in hul amptelike omgaan met mekaar … ook oor ‘vasgeloopte’ verskille!

Comments are closed.