Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Strand doleer: Waarom reageer moderatuur van Wes-Kaap dan só?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dr Henrietta Klaasing van Randfontein skryf:

Die Strand se kennisgewing van dolering (Kerkbode, 15 Julie 2021) het betrekking.

Dit is hoogs verblydend om te lees van die dapper stap van dolering wat die Strand-gemeente geneem het. Dat dit ’n “moeder”-gemeente van die NG Kerk is wat doleer, is soveel te meer betekenisvol. Sodoende voeg hulle hulle by die steeds groeiende getal dolerende gemeentes dwarsoor die land en in Namibië.

LEES OOK: Selfdegeslagverbintenisse: ‘Ons staan los’

Maar eweneens erg teleurstellend is die verklaring in Die Burger van 17 Julie 2021 deur ds Nelis Janse van Rensburg, namens die moderatuur van die NG Kerk in Wes-Kaapland. Daarvolgens is hulle diep verontrus oor die redes waarom die Strand doleer.

’n Mens moet hieruit aanneem dat die moderatuur horende doof en siende blind is. Huidige kerkleiers weet baie goed dat daar uit verskillende oorde oor ’n paar dekades al, kore van luide protes was en steeds is, oor liberale besluite soos in Strand-Moedergemeente se brief genoem word. Onder andere is meer as 600 bladsye opgehoopte pleitskrifte en gravamina oor al hierdie sake tydens die AS se sitting in 2019 en ook na die 2015-sitting blatant geïgnoreer. ’n Mens wonder hoeveel meer daar intussen bygekom het, na die skokkende 2019-be­sluit aangaande selfdegeslagverbinte­nisse (wat pertinent deur die Strand genoem word). Hiertydens is onder andere besluit dat ’n on-Bybelse “formu­lier” ontwikkel moet word vir verbintenisse van mense van dieselfde geslag.

LEES OOK: Selfdegeslagbesluit: ‘Diversiteit is ’n gawe’

Die moderatuur fokus op één kwessie (Jesus se opstanding), maar laat na om te skryf of hulle die letterlike, fisiese opstanding van Jesus bedoel, of prof Julian Müller se “Jesus staan op in ons hart”. Müller se standpunt is nooit deur die NG Kerk se leierskap gerepudieer nie.

Waarom word die ander standpunte nie ook behandel nie – veral die een oor die SGV-besluit van 2019 wat pertinent in die Strand se verklaring genoem word? Of kan die Strand se ander ses standpunte nie weerlê word nie?

As daar regstellings aangaande denke en standpunte gedoen moet word (soos die moderatuur dit stel ten opsigte van die Strand se kerkraad), stel ek voor dat dit eerder aan die kant van die mode­ratuur gedoen moet word. Die eer van Christus (én van sy kerk) is inderdaad op die spel.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top