#9/11 Dié dag toe die wêreld minder veilig begin voel het

Vir die meeste van ons (wat oud genoeg is om dit te onthou) het 11 September 2001 begin soos ’n gewone Dinsdagoggend … nou twee dekades later is die vreeslike gebeure van daardie oggend steeds vasgeprent in mense se geheue. Heléne Meissenheimer vra ’n paar skrywers, joernaliste en leraars om te deel wat hulle onthou van dié dag waarop die wêreld na ’n minder veilige plek begin voel het.

Joernalis, outeur en rubriekskrywer Dana Snyman was destyds as Huisgenoot-joernalis besig om te werk aan die eerste berig oor die Big Brother-huis toe ’n vriend hom bel en sê ’n vliegtuig het nou net in ’n gebou vasgevlieg in Amerika. Hy onthou hoe die kontras van hierdie “verskrikking” en die mense in die Big Brother-huis wat in ’n jacuzzi sit en niks van die gebeure weet nie, hom opgeval het.

LEES OOK: 9/11-aanval

“Ek onthou dat ek hartseer was toe ek die aand huis toe is … omdat die wêreld na ’n onveiliger plek voel,” sê hy. Die afgelope naweek het hy op een slag al die episodes van Netflix se nuwe dokumentêr oor die gebeure gekyk. “Op een punt sê iemand ‘this is the face of war in the 21st century’ … en ek dink dit is baie waar. Dit het net die wêreld ’n baie onveiliger plek gemaak …”

Francine Prins, redakteur van die gedrukte LiG-tydskrif en aanlyngemeenskap, vertel sy en ’n groep mede-kunsgeskiedenisstudente was vir die dag Pretoria toe vir ’n uitstappie. Op soek na middagete by die kafeteria op die Tukkies-kampus het dit vreemd opgeval dat niemand gesels nie terwyl almal na die twee TV’s bo teen die muur staar. Hulle het eers gedink almal kyk ’n aksiefliek tot hulle die uitroepe hoor toe die tweede vliegtuig in ’n gebou vasvlieg …

“… was (dit) nie die soort reaksie wat ’n mens in ’n fliek toon nie. Dis toe dat ek ook nader staan, en iemand stuk-stuk begin verduidelik wat ons besig is om te aanskou. Ek onthou die ongeloof, die vreemde vrees wat my beetgepak het. My brein wat probeer sin maak uit hierdie onwerklike realiteit. Op pad terug Potch toe, het die busbestuurder al om die halfuur die radio hard gedraai sodat ons na die nuus kon luister. Ons ongeloof het stadig plek gemaak vir ’n verbysterende besef dat hier iets aardskuddends gebeur het. Op ’n sekere vlak het ons geweet die wêreld sou nooit weer dieselfde wees nie.”

Dr Nico Simpson het nou sopas sy eerste jaar as uitvoerende hoof van Bybel-Media deurgesien, maar in 2001 was hy voltyds in gemeentebediening. Hy vertel ’n Joodse tradisie het hom gehelp om woorde te vind vir sy preek daardie eerste Sondag na 9/11.

“’n Joodse tradisie het my gehelp om ‘woorde’ te gee aan die gevoel van ’n wêreld wat heeltemal verander het. Die tradisie is om jou klere te skeur as jy rou. Selfs as jy dit weer heelgemaak word, is dit nooit weer dieselfde nie. Die merke van die gebeure bly by jou. Ek het die pers lap wat oor die kruis gehang het in vier dele geskeur – ’n stuk vir elke vliegtuig wat geval het. Toe het ons gebid. “Hierdie was ’n draaipunt. ‘’n Mens kan nog die merke sien.”

Skrywer/joernalis en TV-aanbieder Bun Booyens het vroeg daardie oggend, as redakteur van Die Burger, soos hy dit stel, “’n redelik intense sessie” met een van die redaksielede gehad wat “redelik onstoke” sy kantoor verlaat het. ’n Halfuur later, toe Booyens hom “op ’n drafstap sien aankom” na sy kantoor het hy gedink hulle twee gaan nou vuisslaan, maar die man kom staan toe net by sy deur en sê: “Kom kyk!”

“En daar op die enigste TV in die redaksiekantoor het die hele 9/11-ding hom begin afspeel … Ek dink dit moes iets allerverskrikliks gewees het vir die mense wat naasbestaandes verloor het. Dit is die soort gebeurtenis was afsluiting bitter moeilik maak. My wens sou wees dat dié wat agtergelaat is, berusting kry – ook vir mense wat op ander maniere op ander plekke deur dieselfde lot getref is.”

Kloksgewys van links bo: Dana Snyman, Francine Prins, Bun Booyens, dr Arnau van Wyngaardt, Conette le Roux, ds Rethie van Niekerk, dr Nico Simpson en ds Jaco Strydom. 

Vir dr Arnau van Wyngaardt, sekretaris van die Swaziland Reformed Church (SRC), is 11 September 2001 een van daardie momente wat onuitwisbaar in ’n mens se geheue vasgevang word. Hy was in sy studeerkamer besig om te werk aan Sondag se preek, toe daar skielik ’n boodskap op sy rekenaarskerm verskyn oor ’n vliegtuig wat in een van die Twin Towers vasgevlieg het. Hy het onmiddellik die televisie aangeskakel, na CNN oorgeskakel en die res van die dag voor die televisie spandeer.

“Dit was byna surrealisties om te aanskou, maar namate die storie ontvou het, het ek geweet dat die wêreld, soos ná die Tweede Wêreldoorlog, nooit weer dieselfde sal wees nie,” sê hy. Die volgende dag het hy besef hy sal sy preek moet verander en oor begin uit Romeine 8 met die tema: Die gemeente sug as gevolg van die lyding op aarde.

“Aan die een kant wou ek die boodskap oordra dat God nie afwesig is in ons lyding nie. God het nie – soos een of ander Amerikaanse pastoor destyds gesê het – Homself vir ’n oomblik verskoon uit die kajuit van die vliegtuig nie. God was dáár, in die kajuit, al dra hierdie daad nie sy goedkeuring weg nie. Trouens, God sug saam met ons oor die verskriklike dinge wat op aarde gebeur. ’n Antwoord oor waarom dit gebeur het, kon ek nie gee nie. Maar ek het afgesluit met die woorde: ‘Mag die Here gee dat ons, te midde van die verwarring van die wêreld waarin ons woon, vir geen oomblik sal ophou om te sug in verlange na die nuwe hemel en die nuwe aarde nie’.”

Ds Rethie van Niekerk, redakteur van Kerkbode se boekeblad was in 2001 in haar eerste voltydse pos as leraar by Somerstrand-gemeente in Port Elizabeth (nou Gqeberha). Sy onthou sy was besig om in haar kantoor te werk toe haar ma ’n boodskap stuur “daar is vreeslike goed aan ’t gebeur”. Terwyl sy en haar man daarna op die telefoon praat, sien hy op TV hoe tref die tweede vliegtuig die Twin Towers-gebou. “Die beelde wat ons die dae daarna gesien het, maak my nou nog tranerig,” sê sy, maar wat haar hartseer maak, is hoeveel groter die verdeeldheid in die wêreld vandag is.

“Waaraan ek die laaste tyd baie dink, is al die ‘conspiracy theories’ wat kort daarna hier onder ons in SA versprei het. Oor MS Word, as jy sekere goed tik en die lettertipe verander, het dit al die tyd 9/11 voorspel. Oor Siener van Rensburg en die einde van die wêreld, ensovoorts. Wat hartverskeurend is, is dat die wêreld intussen net nog meer verdeeld geraak het, dat ons almal meer geradikaliseer is. Dat mense steeds ‘conspiracy theories’ glo en versprei. Ek sou wou bid dat ons leer, dat die geweld van die verlede ons lei tot vrede en versoening, eerder as vyandskap, laertrekkery en ‘othering’. Dit voel egter vir my ons het vinnig en lelik agteruit beweeg.”

Ds Jaco Strydom se suster het hom gebel tydens ’n etensbreek by sy eerste sinodesitting wat hy toe nog as jeugwerker bygewoon het. Dit het hom nie toe met vreeslike angs gelaat nie, maar wel met ’n gevoel van onsekerheid oor die toekoms. Hy sê sy gebed sou wees dat Christene vredemakers in die wêreld sal wees. “Dit is jammer dat van die grootste konflik aangeblaas is, veral dit wat ná 9/11 gebeur het, deur mense wat hulleself Christene noem … mens sou wou hê dat Christene hulle plek inneem in die wêreld as vredemakers en dat hulle juis hulle lig dan moet laat skyn in die donkerste plekke.” Hy is die stigter van Echo Jeuggemeenskappe en verbonde aan die NG gemeente Villieria in Pretoria.

LiG-webredakteur en joernalis Conette le Roux vertel sy het as student die slegte nuus op hulle koshuis se sitkamer-TV aanskou. “Ek was geskok, bang en onseker. Ek onthou ek wou dadelik by my gesin uitkom! Ek was bang die geweld kring uit na die res van die wêreld. My gebed is dat mense sal leer om ander, wat anders as hulle is, te aanvaar. Dit is een van die grootste lesse wat Jesus ons kom leer het: om mense wat anders is lief te hê.”

Word 'n vriend van Kerkbode