UITTREKSEL | Izak de Villiers: Van kansel tot (Sondag)koerant

Soos modes, verander gebruike – selfs norme – gedurig. Wat eendag nog ’n duiwelsding is, het hom ander dag stilletjies as aanvaarbare manier van doen ingewurm. Die kerk se gesindheid jeens Sondagkoerante is een terrein waarop daar deur die jare nogal beweging was, skryf Hennie van Deventer in hierdie uittreksel van sy nuwe boek Koerantkamerade*, wat vandeesmaand by Naledi verskyn het.

Van strenge mosies van sensuur by ringe en sinodes tot ’n predikant se redakteurskap van Rapport; van die dae toe geen man van die kleed kans gesien het om onder eie naam ’n oordenking vir Rapport te skryf nie, totdat een op ’n Saterdag skuins voor middernag amper werktuiglik met ’n vuurwarm nuuswenk oor die moord op ’n voorste kerkman bel. So handomkeer het denke en praktyke verander.

Die nagtelike oproep was op 5 November 1994. Die NG kerkleier prof Johan Heyns is net ure tevore met ’n enkele skoot uit ’n jaggeweer deur ’n venster in sy huis in Waterkloofrif doodgeskiet terwyl hy met sy kleinkinders sit en rummy speel. Ds Henno Cronjé, huisvriend van die Heynse en van De Villiers, het laasgenoemde met die skoknuus gebel.

Die gevolg was ’n scoop-hoofberig: “Johan Heyns vermoor”.

LEES OOK: Tutu se lewensvehaal wys skakel tussen spiritualiteit en geregtigheid

Izak de Villiers (redakteur van 1991 tot 1997) was natuurlik nie die eerste oud-dominee wat tot redakteur van Rapport gevorder het nie – as “vorder” vir almal die aangewese woord sal wees. Daardie eer – die woord “eer” ook gelykluidend gekwalifiseer – behoort aan Wimpie de Klerk (1983 tot 1987). De Klerk het voorheen drie Gereformeerde gemeentes bedien en daarna by die Potchefstroomse Universiteit (PU vir CHO) hoogleraar geword. Min twyfel egter: In die openbare oog was Izak Viljee die simboliese stormram wat die grens tussen kerk en Sondagkoerant omgestoot het.

Aan hom het die etiket van ds Izak bly kleef, al het hy reeds in 1983 die kansel vir die redakteurskap van die vrouetydskrif Sarie verruil. Dalk was dit omdat hyself sy vorige verbintenis deurgaans sterker beklemtoon het; dalk omdat De Klerk meer as akademikus beskou is; dalk oor al die ander kerklike mantels om De Villiers se skouers. Hy was skrywer van stigtelike boeke, ’n berymer van 89 gesange in die Liedboek (onthou sy geliefde “Paasfeesklokke”), ’n aanbieder van godsdiensreekse op radio en televisie (het ook in die vroeë 80’s met die uwe ’n radio-onderhoud gevoer) en ’n bekroonde digter van godsdienstige poësie. Daarby was hy die Pers se nie-amptelike “kapelaan”. Waar gebid moes word, moes hy voorgaan. Minstens drie seniors in die Pers het hy netjies begrawe: Piet Cillié in die Groote Kerk, Lang David de Villiers in Wynberg en Bob van Walsem aan die Wes-Rand.

Reeds in sy domineedae in die NG gemeente Constantia was hy ’n gereelde leser van Rapport. Anders as van sy kollegas, het hy nie omgegee dat sy gemeente dit weet nie. Trouens, talle Sondagaandpreke het hy by die een of ander nuuswaardigheid in Rapport aangeknoop. In 1976 het hy in Rapport se kolomme ’n eerste buiging gemaak. Op versoek van Rykie van Reenen, assistent-redakteur, het hy vir die koerant se Kersuitgawe ’n hoofartikel gelewer.

Teen daardie tyd was hy ’n gevestigde en produktiewe medewerker van Die Burger, veral van die naweekbylae “Die Byvoegsel” (later “By”). ’n Sportrubriek is onder meer deur hom behartig, ’n tradisie wat deur sy seun Louis by Rapport voortgesit is. Ten tye van skêrmoordenares Marlene Lehnberg se verhoor in 1975 (sien naskrif) lei een van sy gereelde werksbesoeke aan die koerant tot ’n amusante redekaweling met Piet Cillié. De Villiers word deur Fritz Joubert, “Byvoegsel”-man, gepols oor ’n hoek om in sy bylae ook iets oor die opspraakwekkende verhoor te skryf. Die dominee stel voor: foto’s van vorige vrouemoordenaars in outydse ovaalraampies. Een raampie moet sonder foto wees; net met ’n vraagteken. Dan laat Joubert op die agtergrond van die blad ’n groot galg teken.

’n Dag of twee later loer De Villiers weer in. Die blad was kant en klaar uitgelê, presies volgens sy aanbevelings. Die twee kornuite stap saam fabriek toe met die bladproef. Op die trappe kom hulle die redakteur teë. “Laat ek sien,” gebied hy. Joubert oorhandig die proef. Cillié frons afkeurend: “Nee, dis swak smaak.” Joubert probeer verduidelik. De Villiers spring ook in. Dit is toe dat Cillié hom op sy plek sit: “U het nie mooi gehoor wat ek sê nie. As die Pers gedink het u sou ’n beter redakteur as ek wees, sou hulle u gehuur en my in die pad gesteek het. Hulle het u nog nie gehuur nie en ek is nog die redakteur.”

LEES OOK: Swanepoel bied eerlike vertelling uit ’n tyd van vele eerstes vir die NG Kerk

In 1983 bel Cillié vir De Villiers op ’n dag en kondig aan: “Dalk moet ons jou maar redakteur van Sarie maak.” So beland die kerkman in daardie hoëprofielpos wat hy tot 1991 beklee: ’n Era gekenmerk deur buitengewone gehegtheid tussen die redakteur en sy vroulike redaksie, en van die vaste gebruik van die prikkelwoord “seks” op ’n vlaggie op elke voorblad. Gaan slaan gerus na. Agt jaar later kom die ietwat verrassende skuif na Rapport. De Villiers word as hoofredakteur bokant die redakteur, Bob van Walsem, ingeskuif.

Met dié aanstelling kom politieke en ander omstredenheid. Dat die nuwe hoofredakteur hierdie baken van verligte denke stelselmatig, in die woorde van Ton Vosloo, “regs gestuur” het, het hom nie by die hiërargie van Naspers gewild gemaak nie. Dat hy die hervormings van die NP-regering onder FW de Klerk so konstant bly bevraagteken het, het terselfdertyd in die hoogste regeringskringe eenderse negatiewe reaksie uitgelok.

Van Rapport se nuushantering het tot botsings en debatte gelei. ’n Keer was toe Rapport in 1992 onderhoude met die sogenaamde Wit Wolf, Barend Strydom, gepubliseer het. Strydom is in 1988 weens die moord op agt swartmense in Pretoria ter dood veroordeel. Vier jaar later spog Rapport met sy eksklusiewe onderhoude waarvoor hy na bewering minstens R25 000 opgedok het. Oor sulke tjekboekjoernalistiek het van De Villiers se dagblad-kollegas gefrons. Die betaling aan ’n veroordeelde misdadiger vir sy storie was vir sommige “verfoeilik”.

LEES OOK: Max du Preez oor relletjies binne die NG Kerk, die meriete van rap-musiek en waar SA se heil lê

Die Mediaraad het daarop bevind dat betaling aan ’n massamoordenaar vir ’n groot gros lesers aanstoot sou gee, en het sy gedragskode aangepas om skuiwergate toe te stop. Joernalistieke etiek en moraliteit was in die openbare diskoers des te meer ter sprake omdat De Villiers voorheen ’n predikant was. Rapport (lees IL de Villiers) was egter onboetvaardig en onoortuig dat hy verkeerd gehandel het.

In die lente van 1996 het Johannes Grosskopf, oud-redakteur van Beeld en professor in die joernalistiek, De Villiers uit Stellenbosch gepak oor ’n hoofberig oor sy seun Hein, ’n ANC-aktivis en -bomplanter, wat dan by “’n geheime adres” in Engeland sou wegkruip. Grosskopf senior, wat vroeër self adjunk-redakteur van Rapport was, was veral gebelgd oor die geheime-adresstorie. Hy beskuldig De Villiers van “hoernalistiek” en skynheiligheid. De Villiers se telefoonnommer en adres is dan ook nie in die Randse telefoongids gelys nie (wat beteken De Villiers het ook ’n “geheime adres”), voer hy aan.

Hy eis dat De Villiers dadelik bedank (of afgedank word). Die redakteur gooi wal vir ’n vale. Hy erken die gewraakte berig was nie “waffers” nie, en sê aan die koerant Mail & Guardian hy sal nooit ’n ander vader aanval deur sy seun te gebruik nie. Versoenend, nooi hy vir Grosskopf om te kom kuier. Maar Grosskopf verkies die oorlogspad. Nog verskeie kwaai salvo’s met nuwe verwyte – ook oor ander kwessies – het gevolg.

Soos De Klerk voor hom, moes De Villiers homself telkens verweer teen kritiek dat sy koerante se nuusaanbod, die sogenaamde mieks, nie die kol tref nie. Hy was die eerste Rapport-redakteur wat in direksievergaderings kon insit. Daar moes hy gedweë na die besware van direkteure uit albei stalle, Naspers en Perskor, luister. Ek weet hoe dit hom gekneus het en hoe bitter dit hom by geleentheid gemaak het, ook jeens sekere senior kollegas.

Hoogtepunte en gelukkige dae was daar gewis ook in sy Rapport-skof. My eie spesmaas sou wees dat die ontnugterings swaarder geweeg het, en dat in die De Villiershuis in Johannesburg heelwat wonde gelek is tot met die dood van die begaafde Paarliet op 27 September 2009 op 73 jaar.

Naskrif: Die 19-jarige Marlene Lehnberg en haar bruin handlanger, Marthinus Choegoe, is in Maart 1975 ter dood veroordeel weens die moord op Susanna Magdalena van der Linde, vrou van Lehnberg se middeljarige minnaar, Christiaan van der Linde (47) van Boston, Bellville. In die appèlverhoor in Bloemfontein het haar emosionele onvolwassenheid wat deur Van der Linde seksueel uitgebuit is, en Lehnberg se patetiese intrek van Choegoe met beloftes van seksuele gunste ’n ander lig gewerp. Hulle is die galg gespaar. Lehnberg is gevonnis tot 20 jaar tronkstraf en Choegoe tot 15 jaar. Ná 11 jaar is hy in Junie 1986 op parool uit en sy in Desember. In Oktober 2015, vyf dae voor haar 60ste verjaardag, het sy haar eie lewe geneem.


*Meer oor die boek: Kanniedood-koerantman Hennie van Deventer verklap geheime en intriges in nuuskantore en direksiekamers in ’n 50-stuks informele “grafskrifte” vir ontslape tydgenote. Koop die boek aanlyn by Koerantkamerade (Naledi) R220,00.

Word 'n vriend van Kerkbode