Oos-Kaapse gemeente help dorp oor Covid-sterftes rou

Met die woorde ‘gedeelde smart is ligter smart’ het Frans du Preez die aankondiging van die ‘wit-vlaggie-herinneringstuin’ op die Facebookblad van die NG Gemeente Graaff-Reinet vir Oktober verwelkom.

Dié woorde som vir hom so mooi op waaroor hulle projek gaan, want “die oomblik as jy smart deel dan word dit ligter,” sê dr Ben van Tonder, leraar by die historiese Karoodorp se enigste NG gemeente sedert die moedergemeente, bekend as Grootkerk, in 2018 herenig is met die dorp se ‘jonger’ NG gemeente, Nuwe Kerk om so ’n versoenende einde te bring aan ’n skeuring wat nege dekades aankom.

Lees meer: Graaff-Reinet versoen na 9 dekades van skeuring

Nou is die oudste NG gemeente in die Oos-Kaap weer in die nuus, dié keer oor hoe die plant van ’n klompie wit vlaggies om die statige 134-jaar oue neogotiese kerkgebou, ’n nasionale gedenkwaardigheid in die middel van die dorp, mense gehelp het wat geliefdes in die pandemie verloor het. Die afgelope Sondag was Van Tonder hieroor op RSG se Sondagjoernaalprogram en dié week gesels hy met Kerkbode.

Die leraar vertel die Covid-pandemie het die dorp en sy mense swaar getref. “Ons is al vir maande bewus mense kry swaar … ons het eintlik voortslepende rou en voortslepende trauma, want die slegte ding van Covid is dit kry nie klaar nie,” vertel die leraar van hierdie gemeente wat 10-15 sterfgevalle weens Covid-19 gehad het sedert die pandemie toegeslaan het. In die dorp en omgewing, wat boonop ook kwaai geraak word deur die voortslepende droogte, was die sterftes aansienlik hoër.

Dit was nie net ouer mense wat gesterf het nie, lig Van Tonder uit in ons gesprek. Die pandemie het ook jonger mense se lewe geëis soos dié van Wikus (Jorik) Pretorius, ’n geliefde 39-jarige onderwyser op die dorp wat niemand verwag het sal sterf nie. Sy dood in einde Julie vanjaar het die hegte plattelandse gemeenskap geskok, berig die plaaslike koerant Graaff-Reinet Advertiser.

Wat hulle ook besef het is dat al die Covid-inperkings met hospitalisasie, aanlyn roudienste en maatreëls oor die hou van begrafnisse meegebring het dat baie mense nie dadelik of volledig kon rou nie. Soos Van Tonder dit stel: “Hulle hang nog so half in die lug … en ons het besef hier is ’n geleentheid waar ons saam kan rou.”

Iemand het gesien iewers in Amerika word wit vlaggies geplant ter herdenking aan Covid-slagoffers en die voorstel is gemaak of hulle gemeente nie ook iets soortgelyks kan doen nie. Die vlaggies is aangekoop en die hele gemeenskap is uitgenooi om in Oktobermaand ’n vlaggie by die kerkkantoor te kry en dit op die groot groen grasperk te plant in die skadu van die Moedergemeente se neogotiese kerkgebou ter herdenking van ’n geliefde wat in die afgelope maande oorlede is.

En die mense het gekom, soms hele families wat in groepies op die gras kom sit en op ’n vlaggie of vlaggies ’n naam of boodskappie skryf, dit plant en iets daar rondom doen. “Dit was mooi om te sien hoe mense deur middel van rituele of simbole kon rou en die projek verpersoonlik soos dit vir hulle sin maak,” vertel Van Tonder wat beraam dat sowat 50-60 wit vlaggies geplant is en daar is selfs nog ’n paar oor ook as daar nog mense is wat ook wil kom.

“Ek dink almal probeer maar sien hoe hulle hulle gemeenskap kan help. Dit is vir ons ’n mooi geleentheid om sommer net diensbaar te wees vir ons gemeenskap,” sluit die leraar af wat byvoeg hy hoop hulle gebaar kan ook ander gemeentes inspireer.

Word 'n vriend van Kerkbode