’n Unieke bedieningstyd: 1975-2021?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die 125 studente van 1975 was die grootste BA Admissieklas in die geskiedenis en, daaropvolgend, die grootste Stellenbosse Kweekskoolklas. Ons het die volle lengte en breedte van die Administrasiegebou se trappe volgesit vir die groepfoto. En vier jaar later die groot saal in die Stellenbosse kweekskoolgebou betrek, vertel Piet Naudé.

Ons het nou – 46 jaar later – by aftrede gekom. Dit is dalk geleë om terug te kyk op wat inderdaad ’n unieke stuk geskiedenis blyk te wees.

Ons studiejare het in aanvang geneem net ná die NG Kerk in 1974 die studiestuk Ras, volk en nasie aanvaar het. Dit was die kulminasie van die kerk se jarelange denke oor volkereverskeidenheid en kerklike eenheid. Terugskouend was dit die laaste amptelike dokument wat apartheidsteologie eksplisiet verdedig het.

Lees ook: Gemeentes van die toekoms: Waar gaan ons leraars vandaan kom?

Terwyl ons nog op die kweekskoolbanke gesit het, het diepgaande verskuiwings begin wat die kerklike toneel met die aanvang van ons bediening fundamenteel sou beïnvloed:

Van buite was daar die toenemende ekumeniese isolasie. Die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke (1982) het die teologiese steun aan apartheid as dwaalleer bestempel en die drie Afrikaanse susterkerke van hulle lidmaatskap ontneem.

Intern het stemme buite die normale kerklike kanale begin opklink: Die Hervormingsdaggetuienis van 31 Oktober 1980 deur agt leidende teoloë en die Ope Brief van 9 Junie 1982, onderteken deur 123 predikante en gelegitimeerdes, het sterk gepleit vir versoening en ’n kerklike hereniging.

Lees ook: Moedelose proponent: ‘Ek het al meer as 60 keer aansoek gedoen’

Maar dit was die NG Sendingkerk (NGSK) se sinode van Oktober 1982 wat die grootste enkele verandering sou bring: ’n nuwe gereformeerde belydenis, die eerste sedert Dordt uit 1618-19. Die konsepbelydenis is wyd bespreek, is nie deur die NG Kerk aanvaar nie, en die Belhar-belydenis word in 1986 amptelik die vierde belydenisskrif van die NGSK.

Breër kerklike protes raak intenser in hierdie tyd: In 1985 is daar ’n oproep om gebed vir die val van die apartheidsregering; die invloedryke Kairosdokument word uitgereik; en biskop Tutu neem toenemend leiding om ekonomiese sanksies te bevorder.

Met die NG Kerk se Algemene Sinode van 1986 word Kerk en samelewing aanvaar waar die NG Kerk aandui dat geloof in Jesus Christus die enigste kriterium vir kerklidmaatskap is en dat die eenheid van die kerk ’n gawe en opdrag is.

Hierdie heroriëntering op ons gereformeerde wortels het nie oral byval gevind nie en lei tot ’n skeuring met die stigting van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) ’n paar maande later op 27 Junie 1987 in Pretoria.

Die sluipmoord op Johan Heyns in 1994 was vir ons ’n groot skok. Hoewel daar geen bewyse bestaan nie, word algemeen aanvaar dat daar waarskynlik ’n politieke motief was vanweë sy siening oor die kerk se rol in ’n demokratiese bestel.

Ook Belhar sou later – teen die uitgesproke bedoeling – tot verdere verbrokkeling lei: Toe die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) in 1994 tot stand kom en daarmee die aparte volkskerke van 1881 (NGSK) en 1951 (NGKA) ophef, bly daar ’n groep in die NGKA agter wat nie hulle weg oopgesien het om die belydenis te onderskryf nie.

Dit bly seker die pynlikste gedagte dat ons generasie nie daarin kon slaag om die NG Kerkfamilie in SA tot groter hereniging te bring nie.

Lees ook: Oostelike Sinode: Verklaring oor vergadering (17 en 18 November 2021)

’n Mens sou seker Willie Jonker se aangrypende belydenis namens die Afrikanervolk en die NG Kerk tydens die Rustenburg-kerkeberaad van November 1990 as kulminasiepunt van ontwikkelings sedert 1980 kon sien. Dit was ’n keerpunt waar ons finaal ons rug op die verlede kon draai.

Hierdie kerklike verskuiwings tussen 1980 en 1994 moet ook teen die agtergrond van die sosiaal-politieke gebeure in Suid-Afrika gesien word.

In Junie van ons tweedejaar Admissie vind die Soweto-opstande plaas. En teen die einde van ons studie, was baie van ons wetlik verplig om twee jaar weermagdiens as kapelane te verrig in die konteks van die sogenaamde “grensoorlog”.

Die reaksie teen toenemende swart opstand was om die land deur noodtoestande te regeer. Die verwagting van verandering wat so hoog geloop het is met PW Botha se nou berugte Rubicon-toespraak in Augustus 1985 in die kiem gesmoor. Skeurings in die politiek was ook aan die orde van die dag met die wegbreek na die Konserwatiewe Party van dr Andries Treurnicht in 1982.

Tog het die groot oorgang in April 1994 gekom.

Kyk ook: ASM: So glo, leer en getuig ons

Dit was die gevolg van twee faktore: die verlies aan morele ondersteuning vir apartheid en ekonomiese druk. Die WVK, gelei deur twee kerkmanne, Tutu en Borraine, het SA op ’n pad van herinnering-met-versoening geplaas. Die verslag oor die kerke was nie positief nie: Ten spyte van goeie bedoelings bevind die WVK dat kerke die rasverdeeldheid van die samelewing grootliks weerspieël en versterk het. Hieraan het die NG Kerkfamilie deel gehad.

In ons bedieningstyd het groot interne verskuiwings gekom:

Vroue

Die rol van vroue het geskuif vanaf beperk tot die diakensamp na volle leraarstatus. Gretha Heymans is in Maart 1994 as eerste vroueleraar georden. Van groot simboliese betekenis was die aanwysing van Elna Mouton as eerste vrouedekaan van die Fakulteit Teologie aan Stellenbosch – juis met die 150-jarige bestaansvieringe. Dit sou nog 22 jaar duur voor die eerste swart vroueleraar, Regina Nauses, in 2016 in NG Wildevy in Namibië georden is.

Vandag beklee vroue ’n volle plek in die kerk en in die leierskap. (Dink maar hoe ons oor die hoede baklei het).

Kindernagmaal

Met die instemming tot die kindernagmaal het die Algemene Sinode van 1998 ’n beduidende Bybels-teologiese besluit geneem wat die verbondskarakter van die maaltyd sterk voorop gestel het. Dit is wyslik aan gemeentes oorgelaat om te oorsien en te implementeer.

Liturgie

Die hersiening van die kerk se liedereskat was ’n beduidende merker langs ons bedieningspad. Die groen Hallelujaboek en Psalm- en Gesangboek is vervang met ’n hersiene Liedboek, gevolg deur ’n veel oper benadering om eieskeppinge in die taal van ons tyd by te voeg. Die orrel is aangevul met kontemporêre instrumente en die kerkkoor is op vele plekke met begeleidingsgroepe vervang.

Etiek

Die sosiaal-etiese debatte het verskuif vanaf vrae oor die teologiese regverdiging van apartheid (1986) na versoening (1994) en die kerk se rol in ’n sekulêre grondwetlike bedeling (1996). Die werklikheid van korrupsie en later staatskaping het publieke morele vorming na die voorgrond gebring. Grondhervorming het sterk gefigureer met Artikel 25 van die Grondwet onder die loep. En – byna as spieëlbeeld van die ernstige debatte oor die Ontugwet in die 1970s, is die NG Kerk – soos ander kerke – hard getref deur die werklikheid van seksuele oriëntasie (“gay debatte”) wat tans nog in die maalpot is.

Teologies gesproke is ons bedieningstyd ook gekenmerk deur minstens vier stroomversnellings:

Sekularisasie

Die toenemende sekularisasie van Afrikaanssprekendes het vrugbare teelaarde geskep vir bewegings soos Reforum (Willem Nicol), die Nuwe Hervorming (Sakkie Spangenberg) en post-moderne en later post-teïstiese (Ben du Toit) vertolkings van die evangelie. Hierdie stroming was en is klein, maar akademies invloedryk.

Pinkster

Die aansluiting by ’n media- en vermaak-kultuur asook sterk kompetisie van kerke en groepe met ’n Pinksteroriëntasie, het weer vrugbaar by ons piëtistiese wortels aangesluit. Liturgiese vernuwing, vrae oor herdoop, en die sin van kerkverband (independentisme) het sommige gemeentes in ’n rigting gestuur wat in spanning staan met ons gereformeerde erfenis. Hierdie stroming is veel groter en geniet populêre aanhang.

Doleansie

Die opkoms van ’n dolerende beweging binne die NG Kerk is gedeeltelik ’n reaksie op wat as ’n te groot verskeidenheid van Skrifbeskouing, etiese standpunt en teologiese opleiding beskou word. Ons emeriteer nou op die punt waar die uitkoms van gesprekke hieroor nog oop is. Dit is in die lig van ons eie (pynlike) ervaring ’n goeie ding om te praat solank dit nie tot verdere institusionele skeuring lei nie.

Ekumene

Dalk die belangrikste is dat die NG Kerk in ons tyd beweeg het van ’n denominasioneel geslote na ’n ekumeniese kerk. Ons is weer opgeneem in plaaslike en internasionale ekumeniese liggame. En daar is die opkoms van ’n beduidende eg gereformeerde publieke teologie – nie net akademies nie, maar ook in die amptelike kerk se betrokkenheid met wonderlike inisiatiewe op plaaslike gemeentevlak. Hereniging “van onder” af binne gemeente- en ringsverband is ’n getuienis hiervan.

Ons het inderdaad in ’n unieke tyd geleef en bedien.

Daar is min ander wat kan sê hulle was in die grootste Stellenbosse teologieklas ooit; hulle het ’n millenniumoorgang beleef (eenmaal elke 1 000 jaar); vroue in die leraarsamp gesien 473 jaar sedert die Reformasie; ’n nuwe belydenisskrif ontvang ná 368 jaar; die oorgang na ’n demokratiese bestel met beskermde godsdiensregte beleef ná 342 jaar.

Laat ’n mens dink: Vir God is duisend jaar soos een dag. En Jesus Christus is dieselfde – gister, vandag, en mȏre.

Ek wens my tydgenote goeie gesondheid en ’n geseënde emeritaat toe!

  • Prof Piet Naudé is die direkteur van Universiteit Stellenbosch se Bestuurskool.
Word 'n vriend van Kerkbode

3 thoughts on “’n Unieke bedieningstyd: 1975-2021?

  1. Wilhelm Burger says:

    Dankie Piet Naude! Ons groet met dankbaarheid en vrede. Dit was goed. Wilhelm Burger 🙏

  2. Die kommentaar van prof Naude oor doleansie laat nie reg geskied aan die werklike rede waarom gemeentes oor die gehalte van die kerk se spiritualiteit treur nie. 1. Hy suggereer dat die VERSKEIDENHEID van standpunte oor sake soos etiek en die HOEVEELHEID verskillende teologiese opleidingsvarietteite, te veel raak om na behore die gehalte van gereformeerde teologie te evalueer. Hy vervlugtig so die wese van die werlike besware wat wentel om een saak: gehoorsaamheid aan die eise van die Woord. 2. Hy wil n oop gesprek he TOT OP N PUNT dan moet ons nie verder nie sodat die institualiseerde kerk nie skeur nie. Solank ons dus op n pad begin beweeg waar die besluite van die algemene sinode nog kan oorleef en die opinies van liberale dosente in kweekskole kan voortgaan, is dit in orde. So word n grens gestel vir die kerk. Alles verder gaan net “verwar” en skade aan die “eenheid” berokken.
    Die stroom van vernuwing in n droogtegeteisterde kerklike domein raak al sterker. God se Gees kan nie gestuit word nie.

  3. Jan Louw says:

    Ek het Ras Volk en Nasie deurgegaan n sien nie daarin ‘n “dokument wat apartheidsteologie eksplisiet verdedig het” nie. Ek hoor eerder ‘n oproep tot nadenke in baie onseker tye. Dit kom vir uit in bv die volgende aanhaling:
    “In toenemende mate word die Christelike kerk bewus van die gevaar om te berus in rasseverhoudinge, wat moontik nie strook met die Woord van God nie. Daarom is ook die N.G. Kerk besig om opnuut te luister na wat die Woord van God vir ons oor genoemde saak in die huidige situasie te sê het” (Leerstellige Benadering, stelling 6). Hierdie uitspraak is vir die kerk blywend aktueel, ten eerste, omdat sy roeping om steeds opnuut na die Woord van God te luister, nooit beëindig word nie, ten tweede, omdat “die huidige situasie” nie staties is nie, maar begrepe is in die dinamiese proses van verandering wat kenmerkend is van ons tyd; en ten derde, omdat die kerk homself voortdurend moet afvra of vroeëre uitsprake oor rasse- en volkereverhoudinge wel in alle opsigte “strook met die Woord van God”.

Comments are closed.