Boeke vir grootmense se leesgenot

O, die heerlikheid van die liefde!

Onder-die-vlerke-van-jou-Liefde1

Onder die vlerke van jou liefde deur Cas Vos

Uitgewer: Naledi, 2021

Resensent: Willem Wiid

Hierdie bundel bevat ’n vertaling van Hooglied vanuit Hebreeus na Afrikaans, met meegaande tegniese kommentaar op die teks. Hierop volg vertalings van ’n klompie liefdesgedigte uit antieke Egipte en ’n paar van Vos se eie liefdesgedigte.

Die buiteblad skep egter verwarring – dit gee die idee dat dit ’n romantiese “Mills & Boon”-boek is. Na die eerste gedig verstar ’n mens skielik wanneer jy die formele notas oopslaan. Teoloë behoort dit sinvol te vind, maar nie noodwendig die gemiddelde leser nie.

Cas Vos se vermoë om met woorde te skilder maak dit egter ’n heerlike ervaring vir almal wat lief is vir digkuns.

Beskikbaar by Naledi.

  • Dr Willem Wiid is ’n NG predikant van Nelson Mandelabaai.

Susan se sonneblomme is ’n skitterende Kersgeskenk

Sonneblom-vir-elke-dag-cover1

’n Sonneblom vir elke dag deur Susan Coetzer

Uitgewer: Lux Verbi, 2021

Resensent: Eldré Bester

“Die wêreld het baie meer sonneblommense nodig, nie nog … stekelrige kaktusse, knieserige rosies of klaende hangkopwilgers nie …” Susan Coetzer neem die leser op ’n transformerende avontuur waartydens ons soek na die lig wat slegs God kan gee.

Die skrywer inspireer lesers om ou, negatiewe gewoontes en gedagtes af te leer.

Op haar kenmerkende opregte en humoristiese manier gesels Coetzer met vroue aan die hand van die sonneblom as metafoor. Met Jesus as ons volmaakte voorbeeld, raak die dagstukkies onder andere gebed, ingesteldheid, geestelike groei, verhoudings en ouerskap aan.

Coetzer merk tereg op dat ’n kitsmetode na geestelike vordering nie bestaan nie … maar hierdie boek is beslis ’n inspirerende metgesel op daardie reis.

Beskikbaar by Bybel-Media.

  • Ds Eldré Bester is ’n predikant by Algoa Gemeenskapskerk in Gqeberha.

Meesterstorieverteller gee deernisvolle blik

Gert-Saggiestrap

Die spore van Gert Saggiestrap deur Marco Botha

Uitgewer: Flyleaf Publishing, 2021

Resensent: Heléne Meissenheimer

Gert Saggiestrap het ’n gat waar sy hart eens was. Hy is van die Ju/’hoansi mense, of boesmans van die Nuwe Tyd wat op plase in die dorre noorde van die Kalahari in Namibië grootword en nie meer die mense van die Ou Tyd se verstaan het van ’n mens se hart en gedagtes nie. Marco Botha is ’n meesterstorieverteller wat met raakvat taalgebruik wat vir sensitiewe lesers soms kru op die oor mag val en uitdrukkings eie aan hierdie mense die leser ’n deernisvolle loerkyk gee binne hulle leefwêreld.

Die leser sny saam met Gert spoor deur Tsumkwe se stofpaaie in sy soeke om weer sy siel en ’n sin van menswaardigheid terug te kry. In die proses gaan ’n begrip en verstaan oop vir die gevoel van ontheemdheid, die onsekerhede en ook moed en durf van Gert se mense “wat in die stof van die moderne werklikheid leef”. Dit is verseker nie die romantiese leefwêreld wat films soos The gods must be crazy oor hierdie mense voorhou nie, maar dit is eg en outentiek. ’n Storie vir die oogdou, soos die skrywer Eben Venter op die omslag skryf.

Die spore van Gert Saggiestrap is Botha se eerste roman.

Beskikbaar teen R240 by Graffiti.

  • Heléne Meissenheimer is joernalis by Kerkbode.
Word 'n vriend van Kerkbode