Ligvoets deur Fourie Rossouw
Uitgewer: Bybel-Media, 2021
Resensent: Rethie van Niekerk
Ligvoets is ’n versameling kort, lekker-lees stories deur Fourie Rossouw, ’n keur van sy rubrieke wat vantevore in LiG gepubliseer is.
Presies soos die titel te kenne gee, dartel Rossouw ligvoets deur die lewe. Sy vertellings lees maklik en sit gerieflik in jou kop, totdat die laaste sin of ’n woord skielik die hele storie – steeds ligweg – in jou hart gaan aflaai.
KOOP hierdie boek nou via BM se aanlyn winkel
Rossouw se stories het ’n ondertoon van gasvryheid. Storie vir storie word jy ingenooi en ligvoets geïnspireer om self ook insluitend te leef. Hier sien jy hoe om gelyk met ’n tong in die kies en ’n traan in die oog te leef (en ook, blykbaar, met ’n knypie sout).
Hierdie stories loop oopoog deur die lewe en sien genade en heiligheid in vla, vuil slaap-hasies en tuisgemaakte konfyt.
- Te koop by Bybel-Media.
- Ds Rethie van Niekerk is ’n predikant by Blouwaterbaai Familiekerk in Gqeberha.
