Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Wynand Nel soek alternatiewe vorme van saam-wees. Foto: Unsplash
Wynand Nel soek alternatiewe vorme van saam-wees. Foto: Unsplash

‘Daar is alternatiewe maniere van saamwees’

Marileen Steyn in gesprek met Wynand Nel

Hy beskryf homself as “voorheen tradisioneel”. Deesdae is hy eerder ’n buitestander.

Selfs voor Covid-19 op die toneel verskyn het, was Wynand Nel se bediening alternatief van aard. Ek onthou die eerste keer toe ek een van Kruiskerk.co.za se eredienste in die NG gemeente Pinelands se kerkgebou bygewoon het. Ek het saam met ’n stuk of twintig ander mense in die kerkbanke gesit en na klassieke musiek geluister. Daar is nie gesing nie.

Na afloop van die erediens was daar ’n gespreksgeleentheid waar lidmate vrae kon vra. Dié vrae het tot gesprekke gelei waarin die deelnemers uit allerlei vakdissiplines aangehaal het – sielkunde, teologie, die fisiese- en sosiale wetenskappe.

Ek het nog nooit soveel interaksie in ’n erediens beleef nie.

Lees ook: Kliek hier om die volledige reeks te sien

Die gemeente self is ’n eklektiese groep wat merendeels uit hoogs opgeleide mense bestaan wat graag oor lees en reis gesels. Wynand beskryf die gemeente as ’n ruimdenkende, onafhanklike Christelike gemeente, buite die beperkings van ’n kerkverband.

Verlatenheid – en die teenvoeter

Die eerste inperking tydens die pandemie was vir Wynand ’n belewenis wat hy as “abnormaal” bestempel, iets wat ’n ongekende verlatenheid gebring het. “Dit was ’n tyd van leë strate, van mense wat mekaar vrees.”

Verlatenheid word ’n tema wat gereeld in ons gesprek opduik. Volgens Wynand is juis dit die mens se groot vyand in ’n tyd soos dié.

Die teenvoeter? Interaksie.

“Dis die enigste manier om deur verlatenheid te breek,” sê hy. Die pandemie vereis egter dat ’n mens alternatiewe soorte interaksie moet soek.

Die afgelope maande het Wynand nuwe waardering vir die interaksie in huisbesoek gevind – hoewel hy die woord “koffie-kuier” verkies. “Dit beskryf iets wat meer wederkerig is, betekenisvoller,” sê hy.

Sulke alternatiewe vorme van interaksie is dalk juis belangrik in ’n tyd waarin die kerk se idees oor eredienste, geloof en lidmaatskap ingrypend gaan verander, reken hy.

Digitalisering en verarming

Wynand sê hy het nie self donkerte of depressie in dié tyd beleef nie. Maar terugskouend besef hy dat hy wel vir sekere klanke en sekere soort musiek sensitief geword het.

Nie net het hy melankoliese klanke begin vermy nie, maar hy het ook gevind dat hy nie meer na sekere soorte kerkmusiek kon luister nie. En dit steeds nie kan doen nie.

Orrelmusiek, byvoorbeeld, se verband met kerkgeboue wat tans leeg staan, is nie vir hom ’n positiewe ervaring nie.

Hy is nie gekant teen die digitalisering van kerklike byeenkomste nie. Digitale eredienste se tyd het volgens hom in elk geval aangebreek; die pandemie het die proses slegs verhaas en vervroeg.

Hy is wel verras dat mense so positief oor digitale eredienste is.

Een moontlike verklaring daarvoor is dat gemeentelede besef dat ’n kerkgebou nie noodsaaklik vir ’n saamwees in geloof is nie. En dat hulle vasgestel het dat daar meer interaktiewe maniere is om oor God te praat en om God te aanbid.

“Die toekoms kan wel nie nét digitaal wees nie,” waarsku hy. “Dan is dit ’n verarming.”

Saam met digitale eredienste kan daar in kleiner groepe bymekaargekom word om so die dieper ervaring van verbondenheid te beleef. Dit kan saam met kos en wyn gebeur.

Mense, ook hyself, mis die samekomste en die vrymoedige liggaamlike kontak wat daarmee gepaardgaan.

Digitalisering en verryking

Die interaktiewe Kruiskerk.co.za het Zoom-eredienste gehou. Wynand het dit baie positief beleef. “Daar het baie mense ingeskakel, sommiges selfs uit ’n hospitaal. Daar was die geleentheid om voor en tydens die erediens te gesels; dit was dus meer interaktief as waaraan baie seker gewoond is.”

Dié groeiende belangstelling is vir Wynand ’n aanduiding van die behoefte aan so ’n soort kerk. Van oraloor het mense by hulle ingeskakel, dermate dat hulle ’n wyk in Johannesburg tot stand gebring het. Daar is sewe mense wat die eredienste bywoon, en hulle gaan nou begin om saam te eet en om mekaar op dié manier te leer ken.

Wynand vertel: “Ek het vandag ’n begrafnis van ’n lidmaat bygewoon wat ek nog nooit ontmoet het nie.”

Dit bly vir hom die interessante van digitale kerke, dié dat daar voortdurend nuwe lidmate aansluit. “Dis mense wat jy nog nooit ontmoet het of dalk nooit gaan ontmoet nie.”

Wat wag op dié besonderse gemeente anderkant die koronaviruspandemie? Wynand sê hy dink nie hulle sal terugkeer na die soort erediens wat hulle voorheen geken het nie. “Daar is alternatiewe maniere van saamwees. Dit gaan oor méér as die erediens.”

Die huidige formaat van hul eredienste het die lidmate ’n groter deelname in mekaar se lewe besorg en dit het die interpersoonlike verhoudings versterk.

Dis in die interaksie tussen mense dat Wynand die teenwoordigheid van God baie sterker ervaar het as in byvoorbeeld kerkliedere of Bybelversies. Daarmee bedoel hy nie dat die Bybel nie ’n plek het nie – inteendeel: Hoe harder mense in die Bybel gesoek het na wat sinvol vir hul lewe in dié tyd is, hoe meer is hulle verras deur die tydloosheid van baie Bybelgedeeltes.

’n Bietjie van die Here

Wat is, vir hom, die suiwer verkondiging van die evangelie?

Hy praat stadig, soekend na die regte woorde, en uiteindelik formuleer hy dit só: “Dis die eietydse oorvertel van die lewe van Jesus van Nasaret. En die voortgaande soeke na wie daardie Persoon was.

“Ons weet nie wie Jesus Christus was nie. En as ons dink ons weet, dan besef ons nie hoe diep ons in die duister rondtas nie.”

Dis in hierdie duisternis van God se skynbare afwesigheid dat God juis teenwoordig is. “Ons hoef nie altyd God as so dominant te ervaar nie,” sê hy. “’n Bietjie van die Here is genoeg.”

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top