Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Teoloë, meen dr Bernice Serfontein, moet ook verantwoordelikheid neem om die belangrike bydrae wat teologiese perspektiewe in enige gesprek rondom die herkoms van moraliteit en etiek bied te ontdek. Wetenskap en teologie staan nie teenoor mekaar nie en sy verwerp die idee dat nuwe ontdekkings geïgnoreer word, of dat daar selfs probeer word om God daaruit weg te redeneer. “Daar is myns insiens niks wat godsdienstige denke meer irrelevant maak as die doelbewuste vermyding of verwerping van die insigte van die natuurwetenskappe nie.”

Hoekom wil die mens ‘gepas’ optree?

Anandie Greyling gesels met dr Bernice Serfontein* oor die ontwikkeling van die mens se morele bewussyn en hoe dit religieus of kultureel ingekleur word.

 

“Hoekom is ons morele wesens?” vra dr Bernice Serfontein al sedert haar voorgraadse studies. “Mense evalueer die impak van hulle aksies voordat hulle op ’n sekere manier optree,” verduidelik sy, en hulle oorweeg of die manier waarop hulle in ’n situasie gaan reageer meer of minder aanvaarbaar is. Hoekom wil mense so graag ‘gepas’ optree?

 

Ek en Serfontein ken mekaar al vandat ons in die kleuterskool was en daar kan ’n mens sê het ons sáám geleer wat in ons konteks as aanvaarbare gedrag beskou word al dan nie. Serfontein is nog altyd iemand wat mooi, deurdagte en kritiese opmerkings maak. Hierdie gesindheid kom ook sterk na vore in haar proefskrif, getiteld “Imagination, religion and morality: An interdisciplinary approach”, wat sy reeds in 2018 aan die Universiteit van Pretoria verwerf het.

Lees ook: Queer hermeneutiek: Wie word geraak deur hoe ons dink?

In haar proefskrif fasiliteer sy as ’t ware ’n ontdekkingsreis oor wat dit beteken om mens te wees en baie spesifiek wat dit beteken om ’n morele wese te wees. Sy bestudeer moraliteit vanuit ’n interdissiplinêre benadering wat teologie, evolusionêre biologie, sielkunde, sosiologie, antropologie en filosofie insluit. Die goue draad wat haar hoofstukke saambind, is die vraag “hoekom is die mens ’n morele wese?” en soos sy dit verduidelik “geneig tot goedheid en omgee vir die ander”.

 

Sy begin haar studie deur te fokus op die mens se vermoë tot verbeelding, want sonder hierdie vermoë, beklemtoon sy, is beide moraliteit en godsdiens nie moontlik nie. Verder meen sy is dit juis hierdie kapasiteit tot verbeelding wat die mens toegelaat het om kreatiewe maniere vir oorlewing te vind. In die volgende gedeelte van haar studie het sy gefokus op die rol wat verbeelding in die mens se kapasiteit tot godsdiens en morele bewussyn speel. Vanuit ’n evolusionêr-biologiese perspektief ondersoek Serfontein, wat voorlopers in die wetenskap- en teologie-diskoers soos Wentzel van Huyssteen noem, ’n ‘bottom-up’ benadering tot moraliteit. So ’n benadering meen dat die boustene van ons morele bewussyn in ons biologiese samestelling ingebed is. Dit staan teenoor die ‘top-down’ benadering wat godsdiens en moraliteit as sinonieme beskou en die vermoë om moreel te kan optree aan ’n eksterne bron of opperwese toeskryf.

Lees ook: Kan die (NG) kerk uit die kar uit klim?

Die oomblik wat bewussyn selfbewussyn word, verduidelik sy, skep dit ’n etiese ruimte waarbinne ’n individu die uitwerking van hulle aksies op die ander evalueer en in oorweging bring. Om jouself in ’n ander se skoene in te dink en nie in eie belang nie, maar die belange van die groter groep op te tree is van die mees basiese tekens van morele bewussyn en optrede.

 

Hoekom ons sekere morele oordele vel, verduidelik sy, kan egter nie vanuit evolusionêre biologie alleen bestudeer word nie. Die oorsprong van morele oordele en oortuigings behoort op ’n meer interaktiewe vlak van kulturele evolusie en niskonstruksie bestudeer te word. Ons het evolusionêr ontwikkel om ’n morele bewussyn te hê, verduidelik Serfontein. Tog is daar spesifieke norme en praktyke (moraliteit) wat in sekere godsdienste of kulture funksioneer om ’n groep (moreel) te organiseer. Wat as aanvaarbare en onaanvaarbare gedrag beskou word is dus relatief en kontekstueel, want dit kan dus plek-plek, kultuur en godsdienstig verskil. Hierdie morele bewussyn kan dus religieus of volgens kultuur baie spesifiek ingekleur word.

Lees ook | ASM: Kerkleiers gesels openlik oor teologiese opleiding en oor verskille binne NG Kerk asook ‘witwerk’ as geloofsgewoonte

Haar proefskrif vra ook vir ’n meer verantwoordelike hantering van etiese kwessies in die kerk. Verder beklemtoon sy dat dit nie genoegsaam is om net vanuit die teologie etiese sake te bestudeer nie – ’n interdissiplinêre benadering is noodsaaklik, pleit Serfontein. “Ons het evolusionêre-biologie, antropologie, filosofie, ontwikkelingsielkunde ensovoorts nodig om ons te help om voortdurend beter te verstaan wat dit beteken om mens te wees,” verwoord sy. Om interdissiplinêr te werk “verryk ons perspektief en ons teologie”, vertel Serfontein. Dit maak God nie kleiner nie, meen sy, “inteendeel, ons staan toenemend verwonderd voor God wat op so ’n besondere wyse geskep het.”

 

Teoloë, meen Serfontein, moet ook verantwoordelikheid neem om die belangrike bydrae wat teologiese perspektiewe in enige gesprek rondom die herkoms van moraliteit en etiek bied te ontdek. Wetenskap en teologie staan nie teenoor mekaar nie en sy verwerp die idee dat nuwe ontdekkings geïgnoreer word, of dat daar selfs probeer word om God daaruit weg te redeneer. “Daar is myns insiens niks wat godsdienstige denke meer irrelevant maak as die doelbewuste vermyding of verwerping van die insigte van die natuurwetenskappe nie.”

 

Ons sluit die gesprek af deur te gesels oor wie Jesus as mens was. Serfontein vra watter effek sy menswees op gelowiges inhou? As ’n mens se geloof gebaseer is op die oortuiging dat die aard van God geopenbaar is in die persoon van Jesus, meen Serfontein, dat daar beide evolusionêre en teologiese (bv imago Dei) perspektiewe moontlik is vir waarom die woorde en dade van Jesus vir ons vandag normatief kan wees vir ons morele kodes en etiese norme. Wat Christelike etiek betref behoort Jesus inderdaad die maatstaf te wees wat ons morele bewussyn vul. ’n Haalbare maatstaf, siende dat hy ook self mens was. Daarom kan ons werklik streef om in navolging van Jesus, God sigbaar te leef.

  • Dr Bernice Serfontein is ’n navorsingsgenoot van die Departement Sistematiese en Historiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria. Sy is ook ’n gemeenteleraar by die NG Gemeente Waterkloof.
  • Ds Anandie Greyling is verbonde aan die NG Gemeente Pierre van Ryneveld.
  • Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).
  • Hierdie artikel het oorspronklik in Kerkbode 19 November 2021 verskyn.

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Hoekom wil die mens ‘gepas’ optree?”

  1. Die wetenskap is goed om vir ons te wys wat is, maar mens kry nie van n “is” n “behoort te wees” nie. Ons is maar net nietige mense wat in sonde gebore word in n wêreld wat onder die juk van die sondeval gebukkend staan. Die Bybel waarsku daarteen om ons eie hart te volg oor wat reg en verkeerd is:”wie kan die mens se hart verstaan, hy is ongeneeslik”.Net God maak die reëls van reg en verkeerd en Hy sal eendag daardie reëls gebruik wanneer Hy kom om te oordeel, die wat lewe en die wat reeds gesterf het. Ons aanpassings aan Sy reëls gaan Hom nie beïndruk nie.
    Groete in Christus

Comments are closed.

Scroll to Top