Kan die (NG) kerk uit die kar uit klim?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Prof Danie Veldsman gesels met Marileen Steyn oor die Bybel, wetenskap, inentings en wat dit behels om uit jou kar te klim.

Verbeel jou die vrou stop in haar grand Porsche by die kruising waar Sandton en Alexandra aan mekaar grens. Hier, by die verkeerslig, is ’n bedelaartjie wat tot by die vrou se oop ruit loop en vir haar sê: “Tannie, ek kon vir drie dae nog nie eet nie.” Sy kyk hom so aan en sê: “Seun, forseer jouself!”

Prof Veldsman vertel hierdie storie en dadelik dink ek, wat in 2011 in sy klas as eerstejaartjie ingestap het, dat dit “tipies Veldsman” is. Veldsman leer ons nog altyd met stories en staaltjies en grappies, met oë wat terselfdertyd blink én dophou of jy snap wat hy eintlik probeer sê. Reeds in my eerste week by hom het ek besef: Neem dit wat Veldsman sê met ’n knippie sout. Maar wees gewaarsku: Neem hom nie ernstig op nie en jy mis presies hoe ernstig, opreg en diep dit wat hy sê eintlik is.

Vat byvoorbeeld die storie van die vrou wat die arme bedelaar op dié ongevoelige manier antwoord. Hierdie storietjie het vir Veldsman ’n ironiese diepte. Die vrou in haar Porsche het ’n bepaalde verwysingsraamwerk. Sy ken nie ’n ander een nie en omdat sy nie uit haar kar klim en die wêreld van die ander kant af probeer verstaan nie, hoor sy nie die werklike noodkreet nie.

Prof Danie Veldsman is professor in sistematiese teologie aan die Universiteit van Pretoria.

Veldsman vergelyk die besonderse Porsche met die ontsaglike diep gereformeerde teologie waarvan die NG Kerk deel is. Die kerk beweeg binne hierdie bepaalde verwysingsraamwerk en die vraag wat ek reg deur ons gesprek by Veldsman hoor, is of die (NG) kerk uit haar Porsche uit kan klim en bereid is om te vra: “Wat bedoel jy?”

In ’n tyd waarin mense ongelooflike trauma en geloofskrisisse beleef, is dit nodig om langer by die spreekwoordelike verkeerslig stil te staan. As ons dit doen, sal ons besef dat ons nie net ander kan aanraai om hulleself te forseer nie. “Ons is nie nou in ’n tyd van forseer nie,” sê Veldsman. Hy praat van die inenting en mense se agterdog en vrees, maar maak dit duidelik dat teologie en die kerk moet ophou praat oor forseer en mense moet uithoor.

Onderliggend aan die inentingsdebat, verduidelik Veldsman, is die verhouding tussen teologie en wetenskap. Hy beskryf die verhouding as ’n morsige spul en ’n hewige emosionele debat. Dié verhouding gaan gepaard met agterdog en wanpersepsies: dat net die wetenskap met feite werk en teologie net met gevoelens, dat die wetenskap net objektief is en teologie net subjektief. “Dit is nonsens,” verwerp Veldsman dié aannames.

Lees ook: ASM: Kerkleiers gesels openlik oor teologiese opleiding en oor verskille binne NG Kerk asook ‘witwerk’ as geloofsgewoonte

Veldsman meen dat die probleem daarin lê dat beide teologie en wetenskap onkant speel en uitsprake maak oor dinge waar ons eintlik na mekaar moet luister. Beide teologie en wetenskap werk met “gaps”, sê hy en daarom het hulle mekaar nodig. Gereformeerdheid beteken om altyd terug te keer na die bronne van ons teologie en dit sluit in om te onthou dat die Skriftuur, sowel as die natuur, bronne van teologie is.

Hy praat van die twee velde se verskillende perspektiewe en die manier waarop perspektief letterlik beteken “om deur te sien”. Die oomblik toe hy dit sê, besef ek: Wat Veldsman voor pleit is juis dat ons deur ons perspektief kyk en nie in ons perspektief vaskyk soos die vrou in die Porsche nie. “God skep uit niks anders as ’n rede in Homself nie en daardie rede is God se liefdevolle verbeelding,” sê hy. Hoe presies dit werk, weet Veldsman nie, maar hy weet: God het die wêreld beide verstaanbaar en vol misterie gemaak en daarom het beide wetenskap en teologie ’n plek.

Sy diepe pleitrede is vir die kerk om uit haar kar te klim en om ’n gesprekspesialis vir en saam met die ander velde soos die natuurwetenskappe en menslike wetenskappe te wees. Dit gaan daaroor om die goeie insigte uit die wetenskap te neem en in wysheid dit wat ons glo met die werklikheid te integreer.

Lees ook: Nelis Janse van Rensburg | ’n Nuwe soort politiek

Om met wysheid te werk vra egter verbeelding. Verbeelding maak dit moontlik om ons in simbole in te leef. Verbeelding maak sin. “Saam laat verbeelding en wysheid ons die werklikheid dieper en egter ervaar.”

In hierdie verhouding tussen wetenskap en teologie, wysheid en verbeelding, herinner Veldsman dat die mens kognitief-affektief saamgestel is. Hy stel dit eenvoudiger: “Ons brein sit in ons hart.” Die twee kan nie van mekaar geskei word nie en daarom is gesprekke oor wetenskap en teologie, oor inentings en evolusie so kompleks.

Kan die kerk, in hierdie tye van trauma, dan uit die kar klim en ander se noodkrete hoor en verstaan? Kan ons die gesprekspesialis word wat nodig is? As ons dit kan regkry, sal ons dalk mense beter kan help om veerkragtigheid te hê. Veldsman trek ’n lyn tussen veerkragtigheid en troos (wat in Duits ‘om vorentoe te beur’ of ‘orent gehelp te word’, beteken) en herinner dat ook in hierdie tye, ons een troos in lewe en in dood het.

Prof Danie Veldsman is professor in sistematiese teologie aan die Universiteit van Pretoria.

Ds Marileen Steyn is verbonde aan die NG Gemeente Saldanha.


Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).

Word 'n vriend van Kerkbode

2 thoughts on “Kan die (NG) kerk uit die kar uit klim?

  1. Stefaan de Jager says:

    God het beide wetenskap en geloof geskep. Die twee hoef nooit in spanning met mekaar te wees nie, mits ons weet dat die twee se “spelreëls” nie dieselfde is nie. By die wetenskap gaan dit om sien is glo en by geloof gaan dit om glo is sien.

  2. robert L barrie says:

    Prof Veldsman slaan die spyker op die kop. In enige debat steek almal vas met hulle perspektief en plaas ons nooit ons self in die ander se skoene nie.
    Die dame in die Porsche en die bedelaar wys die perpsektief van die dame dat die bedelaar eindelik nie ‘n probleem het nie; sy geen verantwoordelikheid het vir die dilemma nie; sy niks daaraan gaan doen of will doen nie; sy so vinnig moontlik weg van die insident wil kom en aan gaan met haar lewe. Die bedelaar se probleem is waarskynlik deur die toedoen van homself en die regering, waarvoor hy waarskynlik gestem het….
    Ons het ongelukkig nie in Suid Afrika fasiliteerders met die takt, kennis, opvoeding, wil en leierskap om uit die ‘kar’ te klim nie…. want dan moet jy tussen die gespuis en nare reuk rondloop. Dit is die SA waarvan ons nie deel wil wees nie en almal hardloop weg daarvandaan.

Comments are closed.