Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Theo Badenhorst van NG Kerk Richmond skryf: Ek is dankbaar dat Kerkbode die reeks artikels deur prof Hoffie Hofmeyr laat verskyn het.
Ons het tans die impasse in die NG Kerk dat ons nie mooi weet hoe om die toenemende verskynsel van leerafwykings in die kerk te hanteer nie. Die situasie is tans anders as in die 1860’s met die sogenaamde liberale stryd, toe afwykende leraars eenvoudig afgesit is. Die Kweekskool op Stellenbosch is destyds ook opgerig juis om liberale tendense in die kerk teen te werk.
Lees ook: Nadia Marais | Geseënd is die kinders
Soos Hofmeyr aandui, is daar verskillende moontlikhede om met die afwykende verskynsels te werk. Ek wil graag ’n alternatiewe werkwyse aan die hand doen. Dit is die manier waarop daar ook in sommige Europese kerke gewerk word, byvoorbeeld in Nederland en in Brittanje. Dit kom daarop neer dat daar ’n vereniging of ’n kring van belydenisgetroue leraars tot stand kom. Dan kan gemeentes beroepe uitbring na lede van daardie groepering, al dan nie. Uiteindelik sal dit wenslik wees as gemeentes ook deel van so ’n groepering kan word. So ’n groepering van leraars kan dan ook ’n inset lewer ten opsigte van teologiese opleiding. Tans is dit in die NG Kerk moontlik dat ’n baie groot groep leraars, dalk die meerderheid, lede van so ’n groepering kan word.
