Hoe gaan die toekoms van die NG Kerk uitspeel?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

In hierdie derde en laaste artikel oor die NG Kerk wat by ’n moontlike “Ground Zero” staan, word hier na twee verdere debatte gekyk rondom die huidige ernstige krisis in die NG Kerk. Die NG Kerk is naamlik op ’n glybaan met betrekking tot Skrifbeskouing, belydenisbinding en dissipline al dan nie, en dan veral rondom sy ruimhuis-benadering waarin byna onbeperkte vryheid toegelaat word, skryf Hoffie Hofmeyr.

Waar daar in die vorige artikel op drie ander debatte gefokus is word nou net aan die vierde en vyfde debat tesame met enkele ander kwessies aandag gegee.

Die vierde debat behels dat daar moontlik ruimte gevind behoort te word vir ’n nuwe streeksinode op grond van Artikel 37 van die Kerkorde waarin ruimte vir meer gebalanseerde standpunte oor goeie Skrif- en belydenisbinding geskep sal word. Dit kan byvoorbeeld ’n streeksinode wees wat nie op geografiese grondgebied soos die ander streeksinodes georganiseer word nie, maar wel op gebalanseerde geloofsoortuigings.

Die vyfde debat en die mins ideale is of daar oor ’n breuk in die NG Kerk nagedink moet word. Hoewel bepaalde stemme en groeperings soos Kairos Netwerk wat die NG Kerk tot egte selfondersoek oproep, kwalik geneem word dat hulle hulle vir skeuring beywer, is dit aldus hulle leierskap beslis nie die geval nie. Na my mening kan ’n organisasie soos die Kairos Netwerk juis die gebalanseerde middelgroep in die NG Kerk versterk wat diepgrypende en radikale reformasie nastreef en sigself nie in ’n regse hoek van fundamentalisme wil laat inverf nie. Laat ons maar baie reguit en eerlik wees dat as daar wel skeuring sou kom, dit beslis nie deur hierdie gebalanseerde en behoudende middelgroeperings veroorsaak gaan word nie, maar wel deur die liberale elemente in die NG leierskap en wel op voetspoor van die liberales en vrysinniges in Nederland, met hulle sterk modegerigte, kontekstualistiese en relativistiese Skrifhantering. In die gebalanseerde en behoudende kringe bestaan daar intussen steeds respek en waardering vir die Skrif en die gereformeerde belydenisskrifte, wat ons steeds ook in die 21e eeu met baie van die gereformeerde wêreld in byvoorbeeld Noord-Amerika, Europa en Asië deel.

Klik hier vir die skakel na die video-reeks van meer as 13 video’s waarin lede van die Algemene Sinode Moderamen, asook dosente van die NG Kerk aan die ekumeniese fakulteite bydraes lewer onder die tema: So glo, leer en getuig ons.

Die vraag kan ook gevra word watter ander oplossingsmoontlikhede daar bestaan om ’n “Ground Zero” vir die NG Kerk te vermy. Daar is enkele prakties-konkrete moontlikhede waarop gefokus kan word sonder om op te veel detail ten opsigte van elk in te gaan. Die eerste moontlikheid is om te transformeer in plaas van te reformeer. Transformeer beteken eintlik maar net om normloos te akkommodeer. Die tweede moontlikheid is om ’n sogenaamde kategoriale of elfde sinode te skep. Dit bied egter nie diepgrypende reformasie nie, en soos dit al voorheen met die akkommodering van die Belhar-belydenis probeer is, bied dit geen werklike uitkoms nie. Die derde moontlikheid is om op basis van ’n missionale sinode ’n eie rigting in te slaan, want dit laat gemeentes en kerklike strukture toe om moontlik op hulle eie los te maak. ’n Vierde moontlikheid is om op grond van die eiesoortige behoeftes van ’n bepaalde streeksinode of van bepaalde ringe en gemeentes los te maak van die algemene sinodale verband.

Lees ook: Nuwe eenheidsmodel op die tafel om skeuring binne NG Kerk te vermy

hoffie
Prof JW (Hoffie) Hofmeyr

Om die meeste van die verskillende strominge in die NG Kerk prakties te demonstreer verwys ek vervolgens na ’n onlangse predikantekonferensie van die Vrystaatse Sinode van die NG Kerk in Bloemfontein, die eerste van sy soort by een van die streeksinodes, waarheen ook ek uitgenooi was. Die doel van hierdie konferensie was om met die oog op ’n aanstaande streeksinode gesprek oor kritiese kwessies aan te moedig en te realiseer. My opdrag was om ’n historiese analise aan te bied oor hoe die NG Kerk tans sy belydenis, identiteit en kerkverband verstaan.

Nie net was daar ’n groot aantal NG predikante uit die Vrystaat bymekaar tesame met ’n aantal gemeenteraadslede asook lidmate nie, maar ook ’n hele paar van die teologiese dosente van die plaaslike Fakulteit Teologie. Uiteindelik sou hierdie konferensie die kerklike temperatuur asook die spanninge binne die Vrystaat ontbloot. In die loop van twee dae is tyd ingeruim vir ’n aantal voorleggings en taamlik uitgebreide gesprekke. Redelik wesenlike kwessies is aangespreek maar ongelukkig met min besprekingstyd. Dit was temas soos die algemene welsyn van predikante, Skrifgesag, Skrifinterpretasie en etiek, die huidige identiteit van die NG Kerk, sy belydenisbinding en watter rol die huidige NG Kerkverband en die Algemene Sinode speel. In die laaste sessie is moontlike hoopdimensies vir predikante en vir die NG Kerk uitgespel.

Wat uiteindelik duidelik uit die konferensie gespreek het was aan die een kant ’n relatiewe selfversekerdheid by ’n deel van die byeenkoms dat die NG Kerk in sy huidige gedaante en funksionering beslis op die wenpad is op pad na ’n getransformeerde NG Kerk teen 2030. Min word egter besef dat transformasie eintlik ’n normlose ontwikkeling beteken versus reformasie wat gegrond is primêr op die Woord van God. By die ander deel van die byeenkoms wat eers sy regmatige aanspraak tot insette gekry het na die tussenkoms van veral twee leiersfigure, is daar ’n baie diepe bekommernis oor die toekoms van die NG Kerk uitgespreek. In effek het die bekommerdes eintlik vir die leierskap van die Vrystaatse Sinode gesê dat deur die toedoen van veral die Algemene Sinode se leierskap, daar reeds ’n breuk in die NG Kerk ingetree het, en dat daar net bloot onderhandel moet word oor ’n vriendelike skeiding. Daar is duidelik gesê dat hierdie moontlike breuk die skuld en verantwoordelikheid van die leierskap van die NG Kerk is en dat hulle ’n duur prys daarvoor gaan betaal. Hierdie gewaarwording gaan toenemend ’n groot effek op die sinodale strukture hê en hoewel dit nie reeds tot paniek lei nie, is daar ’n ernstige bewussyn dat hier baie groot kwessies op die spel is. Ten slotte blyk dit ook dat daar ’n groot bekommernis by die Fakulteit Teologie en die kuratorium is oor sy konfessionele toekoms en of NG studente nog vir lank daar sal kan en wil opleiding ontvang.

Lees ook: Teologiese opleiding: Gesprek tussen dominee en voorsitter van algemene kuratorium

Ek is van harte van oortuiging dat tye wel verander. Ek is ook oortuig daarvan dat ons ook as NG Kerk voluit in die 21e eeu moet leef, werk en funksioneer. Ons moet dus steeds oopstaan teenoor die toekoms, maar dan beslis nie met prysgawe van ons absolute basiese fondamente en uitgangspunte soos bo alles in die Skrif saamgevat nie.

Dat ’n werklike kairos-oomblik vir die NG Kerk aangebreek het is baie duidelik, en dan nie maar net ’n verskraalde een soos wat onlangs deur Nadia Marais in Kerkbode aangedui is nie. Die vraag in hierdie omvattende kairos-oomblik is eintlik nou maar net of die NG Kerk tot ’n “Radikale Reformasie” gaan inkeer en of hy in ’n “Ground Zero” feitlik vernietig gaan word. Mag God dit behoed!

  • Prof JW (Hoffie) Hofmeyr (emeritus) was verbonde aan UP en besoekende professor aan die Evangelische Theologische Faculteit, Leuven, België en Liverpool Hope University, Liverpool, Engeland.
Word 'n vriend van Kerkbode