Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Louis Jonker, uitgelese professor in Ou Testament, Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch, skryf:
Hiermee wil ek graag reageer op die polemiek rondom die “Queering the prophet”-konferensie wat deur die Gendereenheid by die Fakulteit Teologie op Stellenbosch aangebied word.
Ek is op rekord dat genderperspektiewe uiters belangrik is vir die hermeneutiese besinning binne die NG Kerk. Daarsonder sou ons (let op die inklusiewe voornaamwoord) onverantwoordelik met die Bybel omgaan. My kritiek teen hierdie konferensie het dus niks te make met ’n aanslag tot die teendeel vanuit die Kairos-Netwerk nie. Inteendeel.
Lees ook: ‘Queering the prophet’: Verklaring deur kuratorium
My kritiek het egter alles te make met dié soort ahistoriese benadering tot Bybelinterpretasie wat in hierdie konferensie gepropageer word. Sonder ’n sensitiwiteit vir die historiese kontekste waarin die Bybeltekste ontstaan het, en waarin die Bybeltekste oor eeue heen geïnterpreteer is, loop ons die gevaar om in te lees in die Bybeltekste wat ons met ons eie biografieë daarheen bring.
As dit geskied met deursigtigheid en selfinsig, is dit nog in orde. Maar wanneer dit geskied sonder enige bewussyn van hoe die eie konteks ’n mens se Bybelinterpretasie inkleur, word dit gevaarlik. Dit is die soort hermeneutiek wat ons laas in die apartheidstyd gesien het.
Ek wil my dus bewustelik van hierdie konferensie distansieer wat aangebied word deur die teologiese fakulteit waarvan ek deel is.
Ek wil verder die volgende vraag stel: Kan die NG Kerk langer daarsonder klaarkom om die historiese dimensie van Bybelinterpretasie in ag te neem? Deur dit te ignoreer, word hierdie kerk uitgelewer aan die uitlegstrategieë van beide die Kairos-Netwerk en die Gendereenheid by die Fakulteit Teologie op Stellenbosch.




Dankie tog dat daar darem Een US teoloog is wat die gevare van hierdie nuwe gender teologie raaksien en kapsie maak. Amper het ek gedink dat al die teoloe daar Queer geraak het dat dit nie net die Bybel is wat hulle wil Queer maak nie. Hierdie Queer teologie bly vir my besonders queer en met my beperkte verstand kan ek nie verstaan hoe hulle Queer in die Bybel kan inlees nie!
Professor Jonker wys tereg daarop dat die historiese ontwikkeling en interpretasie van Bybelse tekste die enigste weg tot verstaan in die hede is.
Ek is baie dankbaar dat hy die moed van sy oortuiging het om hierdie stem duidelik te laat hoor.
Prof. Jan van der Watt het by ’n konferensie oor homoseksualiteit gepraat oor sommige mense se hermeneutiese sleutels. Hy het vertel dat dit “spanners” is (soos die “spanners” wat mense gebruik om motors mee reg te maak), waarmee mens alles “draai” om jou te pas. Dit gaan in wese nie oor bepaalde kwessie nie, maar oor dit wat in die Bybel ‘n absolute “NEE” is, om te buig en in ‘n “JA” te verander. Party teoloë ontwerp graag hul eie “spanners”.
Hierdie konferensie-‘onderwerp’ vermaan ons weereens dat ons as kerkrade in die praktyk mooi moet dink voordat ons enige proponent wat deur hierdie dosente ‘opgelei’ is, beroep. Teologiese opleiding moet dringend na verantwoordelike inrigtings uitgekontrakteer word, waar die studente se oog op Jesus gevestig sal word. Kerkleiding het voor God ‘n duur verantwoordelikheid om studente aan die regte opleiding bloot te stel.
Broer Bernhard, let daarop dat ek nie genderbenaderings opsigself kritiseer nie (ons het dit beslis nodig), maar wel ahistoriese uitleg soos wat dit in sommige toepassings daarvan voorkom.
Louis Jonker doen sy aansien as akademikus skade aan deur sommer net in die bondel ‘n skoot af te skiet teen die Kairos Netwerk en hulle vermeende uitlegstrategie. Voor Algemene Sinode 2019 het beswaarskrifte voor die vergadering gedien wat inderdaad die historiese dimensie van Bybel interpretasie in ag geneem het by die afwysing van die Wes-Kaapse beskrywingspunt oor SGV’s wat Jonker so a-histories soos sy kollegas op Stellenbosch en by die ander twee universiteite bepleit het.
Geagte Broer Louis: Hierdie Queer Konferensie waar hulle mense in die Bybel wil queer verklaar is vir ons gewone gelowiges net een te veel. Waarheen is die Kweekskool op pad? Wat gaan die volgende onBybelse leer wees? Geen wonder al hierdie afwykende leer het tot die ontstaan van die doleerbeweging gelei waar al hoe meer NG kerke doleer nie. Baie bly om te verneem dat jy ook doleer, of treur, oor die ahistoriese uitleg wat hieruit voortspruit. Net verbasend dat die Dekaan en ander NGK teoloe nie ook n woordjie van besorgdheid oor hierdie Queer Konferensie uitspreek nie. Of het hulle almal of queer, of pro-queer geraak???
Dr Ferdie Mulder se insigte is ook hier van toepassing. Sien gerus >> https://www.youtube.com/watch?v=t6WGdJqYXy8
“Genderbenaderings”, ook soos ‘Hoër Kritiek’ metodes, is insigself ahistories in die dekonstruksie van realiteit van Gods Woord. Met hierdie benaderings word ‘n god juis uit mense se “eie biografieë” geskep, eerder as om nederig voor die God te kniel wat homself openbaar (Ps 19; Luk 24:36-53; 2 Tim 3:12-17; Heb 1:1-4; 2 Pe 1:16-20).