Daar is weer ’n troue by die trouplek ’n ent strand-af, sien ek toe ek en die honde oor die duin kom vir ons middagstappie. Dit is ’n Vrydagmiddag, en dit is Desember. By ons trou hulle in Desember op weeksdae ook.
Die gaste staan daar rond. ’n Paar sit al op van die houtbankies en die strandstoele op die sand. En voor is die podium onder ’n afdakkie waar die troupaartjie gaan staan – hulle en die een wat hulle trou.
Ek is vieserig, want as ek ver wil stap, moet ek by die trouplek verbygaan. Dit beteken ek sal die honde aan hulle leiband moet hou tot ons ’n hele ent daar verby is. Hulle is nie skaam nie en is pal op die uitkyk vir iets om te eet, my twee honde. Hulle sal na die trouplek toe draf, daar rondsnuffel en soek vir iets om te aas.
Hoekom gryp iemand se troue ’n mens so aan? Hoekom is jy soms selfs geïnteresseerd in mense wat jy nie werklik ken nie, se troue? Kyk maar al die trouartikels en -foto’s in tydskrifte en die koerant.
Ek is die ene oë toe ek in die trouplek se koers stap, die honde steeds aan hulle leibande. Die seremonie gaan byna begin. Party van die jonger ouens het hulle skoene en sokkies uitgetrek en hulle langbroek se pype opgerol. Maar twee of drie van die ouer mans stap in kerkerige skoene nader, hoogtrap oor die sand. Nie een dra ’n das nie.
Daar was ’n tyd toe dit ondenkbaar sou wees om sonder ’n das na ’n troue toe te gaan. Eers laataand op die onthaal, ná ’n heildronk of drie, sou party latte die das losknoop, dit om die kop bind en dans, dans, dans. Dis nou as daar wel gedans is. Terwyl ’n troue beplan is, was daar soms ’n rusie oor of daar op die onthaal gedans gaan word of nie. Die bruid se ouers is dansers en die bruidegom s’n glo dans is sonde. Wat nou?
Nou trou min paartjies nog in ’n kerk.
Dit was redelik maklik om op daardie ou troues te voorspel wie is wie: Die bruid en die bruidegom se ouers en grootouers – as hulle nog geleef het – het elk ’n skouerruiker gedra, meesal ’n angelier en ’n varingblaar, wat met ’n haakspeld vasgesteek is. En hulle was fyn uitgevat. Veral die vrouens. Die rokke is spesiaal gekoop of self gemaak.
En dan was daar die blommemeisies. En die strooimeisies. Soms ook ’n hofknapie.
Ek kan nie aan die agterkant van die trouplek verbygaan nie, maar tussen die afdakkie waaronder die bruidspaar gaan staan en die see, is genoeg plek vir my en die honde om verby te stap. Ek rek my treë, want omtrent al die trougaste sit al – en dan is daar musiek. Klink na Lady Gaga se stem. Agter my suis die branders.
’n Man in ’n wit syhemp stap vorentoe met ’n Bybel en ’n iPad by hom. Hy gaan wag by die podium onder die afdakkie. Die musiek kom uit ’n Bluetooth-luidspreker langs die podium.
Nêrens ’n angelier vasgesteek aan iemand se skouer nie. Nêrens ’n hoed op ’n vrou se kop nie.
Miskien is dit ’n ou ding, ’n diep ding, wat maak dat ’n mens nuuskierig is oor iemand wat jy nie ken nie se troue? Het die mens dalk ’n natuurlike behoefte om te deel in ander se vreugde en hulle verbintenis aan mekaar?
Die honde trek aan hulle leiband, maar ek sê, wag eers, wag, ek wil eers hier kyk.
In die voorste ry buk een van die ouer mans vooroor, trek sy een veterlose skoen uit en skud vinnig die sand uit die skoen. Die meisie skuins agter hom se arm is vol tatoeëermerke. Op meer as een voorkop rus ’n donkerbril.
Dit is ’n windstil middag. Oor die see hang losserige wolke en bokant die wolke is die son ’n helder kol. Die branders is silwer.
Dan kom twee vroue gestap uit die rigting van die trouplek se permanente tent waar die onthaal gehou gaan word. Beide dra ’n swart langbroek, ’n swart baadjie en ’n wit hemp met ’n swart strikdas. Hand aan hand stap hulle terwyl die musiek steeds speel.
Eers kyk net ’n paar van die gaste agtertoe, na die paartjie toe. Dan draai almal se kop en op baie se gesig verskyn ’n glimlag. Hier en daar lig een ’n selfoon en neem ’n foto.
Die twee gaan staan voor die podium en die musiek word stil. Op een van die strandstoele vee ’n ouer vrou trane af.
Ek kan nie hoor wat die man agter die podium sê nie, die gesuis van die branders is te hard, maar die gaste lag. Eers blaai die man die Bybel oop. Ek wonder watter teks lees hy, daar is so baie oor die liefde in die Bybel geskryf.
Later praat die man met die paartjie. Die gaste sit stil en luister. Agter hulle staan die tafels gedek in die trouplek se tent.
Kom, sê ek vir die honde. ’n Entjie verder maak ek hulle leiband los, en hulle hardloop voor my uit die silwer middag in.