Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die duif en aronskelke beeld God se vrede en vergifnis uit in die geborduurde kunswerk wat die Engelse kunstenaar Angie Fox vir gebruik by vanjaar se Wêreldbiddag vir Vroue gemaak het. Die reënboog simboliseer hoop en God se liefde. Foto: Verskaf

Biddag neem hoop en ’n nuwe toekoms as tema

Die tema vir vanjaar se Wêreldbiddag vir Vroue fokus op God se beloftes vir hoop en lig met as teksvers “Ek weet wat Ek vir jou beplan …” uit Jeremia 29.

“Na twee jaar van ontwrigting weens Covid en die donker tye waardeur Suid-Afrika verlede jaar is met die geweld en onrus, stel die teks ons gerus en maak ons opgewonde oor die feit dat God in beheer is en bly,” sê Joa van Aarde van die nasionale kantoor wat die biddag in Suid-Afrika koördineer.

Die Wêreldbiddag vir Vroue is ’n wêreldwye ekumeniese beweging. Meer as 170 lande en streke neem deel aan die biddag wat tradisioneel elke eerste Vrydag van Maart aangebied word. Dit val vanjaar op Vrydag 4 Maart.

Die vroue van Engeland, Wallis en Noord-Ierland was verantwoordelik vir vanjaar se tema en program.

Covid het die manier waarop kerke aan die jaarlikse biddag deelneem verander. Verlede jaar se beperkings op sosiale byeenkomste het die hou van gesamentlike biddienste bemoeilik. Sommige kerke het nog op kleiner skaal fisies bymekaargekom soos die inperkings dit toegelaat het, maar die klem het na digitale platforms soos Zoom-byeenkomste, skakels na eredienste, sosiale media, ensovoorts uitgebrei, verduidelik Van Aarde. Daardeur is baie mense buite die tradisionele kerkgemeenskap bereik.

Vanjaar is die fokus steeds op die verspreiding van elektroniese programme wat in Suid-Afrika in agt tale voorsien word. Daar is ook ’n pragtige kinder- en jeugprogram beskikbaar.

“Die tema vir vanjaar kon nie op ’n meer geskikte tyd gekom het nie. God bemoedig ons en spoor ons aan om ’n verskil in ons gemeenskappe en dorpe te maak, en om vrede, versoening en liefde te verkondig. Dit is ’n dag waar ons as Reënboognasie uitreik na mekaar en oor politieke, kultuur- en kerkverskille saamkom om God te aanbid en te eer,” sê Van Aarde.

Die biddag word vanjaar vir die 92ste keer in Suid-Afrika aangebied.

Besoek Wêreldbiddag vir Vroue, Suid-Afrika se webtuiste en Facebookblad vir meer inligting en toegang tot die programme. Joa van Aarde kan by wwdpsa@gmail.com of 082 450 9305 gekontak word.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top