Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Queering the prophet: Jonker se reaksie ‘help Kairos Netwerk’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ds Theo Danzfuss skryf: Prof Louis Jonker se brief in Kerkbode verwys. 

Ek wil graag ons dank betuig aan die dapper professor wat eerlik genoeg was om homself te distansieer van die vals teologie wat sy eie teologiese fakulteit in aanloop tot hulle “Queering the prophet” verkondig.

Ek verwys na die brief in Kerkbode waar Louis Jonker verlede week rooi van skaamte openlik moes erken dat US se teologiese fakulteit met ’n gevaarlike soort hermeneutiek besig is. “Ek wil my dus bewustelik van hierdie konferensie distansieer wat aangebied word deur die teologiese fakulteit waarvan ek deel is.”

In gewone Afrikaans erken hy dus dat hulle besig is met dwaalleer en valse teologie.

Lees ook: Uiteenlopende sienings oor Jona-konferensie

Om seker te maak dat niemand sal dink hy is dalk aan Kairos se kant nie, slaan hy toe sommer ook so ’n paar blinde vuishoue in die lug na KN se kant.

Die stereotipiese, vernederende manier waarop hy in die artikel na KN verwys, pas hoegenaamd nie by die akademiese integriteit wat van hom as US se “uitgelese professor” verwag word nie … Aangesien dit ten diepste ’n oortreding van die negende gebod is, laat ons daardie opmerkings rustig oor aan sy gewete voor die Here.

Iemand wat tereg enkele dwalinge van die fakulteit rondom die Queering the prophet-konferensie ontmasker, maar steeds die ander dwalinge van die teologiese skool kondoneer, sal in elk geval nie inpas by KN nie. Kort na sy brief in Kerkbode sien ons al meer benoude spronge om die NG Kerk se teologiese opleiding te probeer red, maar nou is dit te laat.

Een ding is seker: Na hierdie so ’n openbare brief, het die liberales in die NG Kerk geen verweer meer nie.

Lees ook: Queering dring aan op ongemak

Nooit weer mag die AS, of ASM weer ons Skrifgetroue lidmate se besware teen die valse leringe wat by ons teologiese opleiding uitbroei, ignoreer nie.

Nooit weer mag teologiese studente wat kla oor professore se uitsprake gedreig word terwyl die dwalende dosente skotvry wegkom nie.

Nooit weer mag Kairos Netwerk van kerkskeuring beskuldig word omdat ons met ander opleidingsentra onderhandel op soek na alternatiewe gereformeerde teologiese opleiding vir ons studente nie.

Na hierdie erkenning vanuit die binnekring, is dit net blindes wat nog die afvalligheid van ons teologiese fakulteite sal ontken.

Dankie, Louis, jy het ons gehelp.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top