Uiteenlopende sienings oor Jona-konferensie

Ons probeer via hierdie platform se verskeie afdelings (Verklarings, Briewe, Rubrieke) asook in die jongste gedrukte uitgawe van Kerkbode (omslagdatum 4 Maart 2022) die volle spektrum van reaksies toon wat die beplande “Queering the prophet”-konferensie tot dusver tot gevolg gehad het. 

Van ’n lidmaat se skok op grond van die beskrywing van die invalshoek van die geleentheid wat aangebied word deur die Gender-eenheid van die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie. “Die verontheiliging van ’n historiese Bybelse karakter en die minagting vir die Woord van God skok my tot in my siel,” skryf Henrietta Klaasing van Randfontein. Tot ’n akademikus se kommer. “My kritiek het egter alles te make met dié soort ahistoriese benadering tot Bybelinterpretasie wat in hierdie konferensie gepropageer word,” skryf prof Louis Jonker.

Van die kuratorium se perspektief: “Dit is duidelik dat die begrip ‘queering’ in akademiese kringe en by die algemene kerkpubliek verskillende betekenisse oproep,” luidens daardie liggaam se 670 woord-verklaring oor die aangeleentheid. Tot prof Charlene van der Walt se agtergrondstuk. “Oorspronklik is die term ‘Queer’ aangewend as ’n neerhalende belediging gerig op hulle wat as anders of vreemd beskou is,” skryf Van der Walt. “Queer word egter herwin as ’n term om uitdrukking te gee aan nie-normatiewe uitdrukkings van gender en seksualiteit. Alhoewel die term Queer soms aangewend word om na die spektrum van identiteitsmerkers wat in die LGBTIQA+ akroniem vervat word te verwys, is dit nie die primêre manier waarop dit aangewend sal word by die konferensie in Maart nie. By die geleentheid gaan dit nie ten eerste oor die stabiliteit van identiteitspolitiek nie, maar eerder oor die destabilisering van dit wat as normatief beskou word in die gender- en seksualiteitslandskap en die manier waarop die Bybel ingespan word om hierdie sekerhede te grondves. Queer word dus ’n werkwoord met die doel om die norm te bevraagteken en te ontmasker as slegs gedeeltelik waar of van toepassing.”


Vriende van Kerkbode: Só kan jy kerkjoernalistiek ondersteun

Die behoefte aan betroubare en gebalanseerde kerkjoernalistiek groei by die dag.

Jou ondersteuning stel Kerkbode in staat om voort te bou op ’n geskiedenis wat terugstrek tot Januarie 1849 toe die eerste Kerkbode verskyn het met die oorspronklike doel om “godsdienskennis te versprei”.

Die Kerkbode-span lewer ‘n betroubare nuus- en kommunikasiediens binne die NG Kerk om lidmate en gemeenteleiers op hoogte te hou en toe te rus. Ons bied:

  • Gebalanseerde kerknuus en stories van hoop en omgee asook lekkerlees profiele.
  • Al die amptelike skuiwe in die NG Kerk en jongste vakatures en gasrubrieke en uiteenlopende standpunte op die brieweblad.
  • Dinkstof: Teologiese besinning oor die Bybel en opinie en ontleding deur denkleiers en navorsers.

Word 'n vriend van Kerkbode