Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘As die NG Kerk maar net weer op kerklike wyse na Woord wil luister’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ds Theo Danzfuss van Nelspruit skryf:

Die debat of God as moeder of heilige prisma aanbid moet word, was skaars verby toe vlam dit weer op in die Vrystaatse sinode. Minstens twee sprekers by die sinode pleit dat ons God ook as moeder moet aanbid.

 

In Psalm 131 vergelyk Dawid God se liefde met ’n moeder se liefde vir haar kindjie, daarom is God volgens hulle ook ’n vrou. Selfs ’n kindjie sal weet dit is nie logies nie. Dawid aanbid tog God nie as moeder nie, hy tref slegs ’n vergelyking. As ek sê daardie man hardloop so vinnig soos ’n perd dan bedoel ek tog nie dat hy nou ’n perd is nie.

 

Die ergste was egter om te hoor hoe ’n groot klomp afgevaardigdes twee keer hande klap om hulle instemming met hierdie swak eksegese te betuig. Toe begin ek wonder of hierdie nog ’n kerkvergadering is waar kerklike sake op ’n kerklike wyse vanuit die Woord bespreek word (KO 21), en of is dit eerder ’n publieke vertoning soos die TV-program “Maak my famous” is waar die wenner deur die grootste applous bepaal word?

 

As die NG Kerk maar net weer op ’n kerklike wyse na die Woord wil luister, is die meeste van ons probleme klaar opgelos. Ons bely mos almal in Sondag 35 wat die tweede gebod vereis, naamlik: “Ons mag God … op geen ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie.” Dit is tog duidelik: Die Woord is vol voorbeelde en opdragte om God as ons Vader te aanbid. Maar, nêrens in die Bybel is daar eens een voorbeeld waar God as moeder aanbid word of ons opdrag kry om Hom as “haar” te aanbid nie. Solank ons aanhou om in kerkvergaderings met hande klap “Maak my famous” te speel sal die NG Kerk “soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer” (Ef 4:14). Dan is ons soos die liedjie sê “swerwers sonder rigting en soekers wat nooit vind … uiteindelik is almal net maar kinders van die wind”.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top