Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Terwyl hierdie bydrae geskryf word, woed die oorlog tussen Rusland en Oekraïne steeds, terwyl ons Suid-Afrikaanse gemeenskap bly steier onder stygende lewenskoste, toename in armoede, ontbloting van meer korrupsie, protesaksies, misdaad, geweld, rassespanning en so meer. Die ontstellende is dat dit binne die NG Kerk oënskynlik nie veel anders daaraan toe gaan nie. Daar woed in die kerk ’n ontstellende en onverkwiklike konflik oor sake soos sinodale besluite, teologiese opleiding en Skrifinterpretasie. Talle gemeentes is onder finansiële druk, terwyl armoede binne en buite eie kring hand oor hand toeneem. Ook die NG Kerk is protesaksies nie gespaar nie, terwyl magsug, rassisme, seksisme en geweld in eie geledere die kerk ongelukkig nie gespaar word nie.
Lees ook: Leraars bied videoreeks as gratis ‘tooltjie’ vir versoening
Onder sulke omstandighede help dit nie om die spreekwoordelike mooi broodjies te bak nie. Die vraag waarmee ons as gelowiges gekonfronteer word, is: Waar is God onder hierdie omstandighede? Is die digter van Psalm 22 nie dalk reg in sy klag tot God nie, wanneer hy uitskreeu: “My God, my God, waarom het U my verlaat? Ver van my verlossing is die woorde van my gebrul!” Daar is ’n groot afstand tussen ons roep na God en God se verlossing. Wanneer ek rondom my kyk, lyk dit of God die wêreld en die kerk verlaat het, of God ons as ’t ware weggesmyt het.
Meer nog – wanneer ek Psalm 22:7-9 lees, kan ek nie help om aan ons kerk te dink nie: “Maar ek is ’n wurm en nie ’n mens nie, bespot deur die mense, verag deur die volk. Almal wat my sien, dryf met my die spot; hulle gryns en skud die kop: Wend jou tot die Here!” en “Laat Hy hom bevry, laat Hy hom red as Hy hom goedgesind is!” Hoe oordeel mense oor die kerk, maar veral oor God, wanneer hulle let op die wyse waarop ons tans met mekaar in die kerk omgaan en hoe ons as kerk na buite toe leef? Is die Here die kerk nog enigsins goedgesind?
Lees ook: Die geskenk van vreemdheid
In die navorsingsgeskiedenis is daar boeke vol geskryf oor die vraag na die eenheid van Psalm 22. Bestaan dit uit ’n afsonderlike klaaglied en ’n dank- en loflied wat aanvanklik elkeen op hulle eie gestaan het en toe later in die tradisies saamgevoeg is om een Psalm van hoop te vorm? Moet ons dit vandag steeds eerder as twee afsonderlike Psalms interpreteer? Daar is ook navorsers wat met Psalm 22 as ’n eenheid werk en dan byvoorbeeld vier stansas identifiseer deur talle onderlinge verbande uit te wys.
Moet ons nie vir die oomblik dalk volstaan met Psalm 22:10-12 se versugting waar daar oor God kragtens die metafoor van ’n Vroedvrou gepraat word nie? Dit lui: “U is immers die Een wat my uit die baarmoeder gehaal het, my op die borste van my moeder laat vertrou het. Op U is ek aangewese van die moederskoot af; van my geboorte af is U my God. Moenie ver van my bly nie, want die nood is naby; daar is immers niemand wat help nie!”
- Dr Fanie Cronjé is medeleraar by NG Kerk Lynnwood, Pretoria.