Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

"JM Vorster raak komplekse etiese gesprekke van ondermeer aborsie, genadedood, die doodstraf, die huwelik, ras en seksualiteit aan, en evalueer dit vanuit hierdie teologiese perspektief van lewe," skryf dr Carike Noeth in haar resensie.

Boek poog om teologiese perspektief te bied op komplekse etiese gesprekke

Boek poog om teologiese perspektief te bied op komplekse etiese gesprekke

 

The Gift of Life. Towards an ethics of flourishing personhood deur JM Vorster 

Uitgewer: AOSIS Boeke, 2021

Resensent: Carike Noeth

In The Gift of Life kyk die skrywer deur middel van Gereformeerde teologiese etiek na die etiek van menslike florering. Vorster se siening van lewe behels dat die mens nie in besit van hul eie lewe is nie, maar aan God alleen toegeëien is. Die moderne bio-etiese siening dat ’n persoon alleenreg op hul eie lewe het, kan dus, volgens Vorster, bevraagteken word vanuit ’n teologiese etiek van lewe. 

Vorster raak komplekse etiese gesprekke van ondermeer aborsie, genadedood, die doodstraf, die huwelik, ras en seksualiteit aan, en evalueer dit vanuit hierdie teologiese perspektief van lewe. 

Die boek lees soos ’n pendulum tussen ’n meer kontemporêre- en meer tradisionele teologie, wat dit soms laat voorkom asof Vorster sommige van sy eie argumente weerspreek. Meer as tweederdes van die bronne neem nie die afgelope dekade se argumente in terme van Gereformeerde teologiese benaderings in ag nie en is by tye uit voeling met kontemporêre Suid-Afrika. Dit mag daartoe lei dat ’n leser voel dat Vorster nie die komplekse sosio-ekonomiese en sosio-politieke realiteite van Suid-Afrika vandag in ag neem nie. Daar word dikwels eerder staat gemaak op die konteks van Noord-Amerika of Europa. In die proses mis die leser invloedryke kontemporêre Suid-Afrikaanse akademici, waar veral vroue se stemme oor hierdie kwessies waardevolle bydraes kon lewer. Veral onderwerpe soos aborsie, genadedood en menslike seksualiteit het die afgelope dekade reuse gesprekvoering ontlok binne die Gereformeerde susterskerke, juis ook omdat die kontekstuele realiteit van Suid-Afrika dringende aandag genoop het. 

Die boek slaag wel by tye daarin om ’n goeie voorbeeld van Gereformeerde teologie weer te gee, soos in die verstaan van onder andere verbondenheid en menswaardigheid, wat sentrale kontemporêre kwessies in Suid-Afrika aanspreek. Ook veroordeel die outeur, ondanks sy persoonlike oortuigings, enige vorm van onder andere rassisme, xenofobie, seksisme en homofobie. Hierdie boek sal ongemak skep by beide meer kontemporêre sowel as meer tradisionele teoloë. Die gevaar is dat daar nie konsekwent gewerk word met akademiese argumentasie en meer kontemporêre gesprekvoering vanuit Gereformeerde teologiese etiek nie. 

 

R450 of gratis elektronies beskikbaar by Aosis.

 

  • Dr Carike Noeth is ’n navorsingsgenoot aan die Stellenbosch Universiteit en die eienaar van Full Circle Ethics, ’n besigheid wat opleiding, samewerking, en konsultasie in etiek bied.

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top