Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die boek bied inspirasie en prikkel dit die verbeelding oor wie en wat die kerk geroep is om te wees skryf Johan Botes in sy resensie.

Boek prikkel verbeelding oor kerkwees post-covid

Mission Moves – Cultivating Communities Of The Gospel deur Malan Nel (redakteur)

Uitgewer: OSIS Boeke, 2021

Resensent: Johan Botes

 

In ’n gesprek oor kerk-wees na Covid sê ‘n kollega: “Ons weet nog nie waar ons gaan land nie. Alles is nog in die lug.” Ek vermoed daar word in meeste gemeentes gesoek na ankerpunte of hard gewerk om die landingsbaan voor te berei, sodat ons kan land as die tipe gemeente wat ons wil wees, post-covid. Hierdie pandemie het ’n lig geskyn op baie donker realiteite wat gemeentes net nie meer kan ignoreer nie.

Mission Moves dien as ’n goeie herinnering aan wie en wat die kerk geroep is om te wees. Met goeie teologiese begronding vir die roeping van die kerk en spesiale fokus op temas soos gasvryheid, integriteit op die kansel en besinning oor ’n aantal praktiese maniere om die missionale identiteit van ‘n gemeente te vorm en te leef (preekreekse, gebruik van getuienisse ens.), bied hierdie boek inspirasie en prikkel dit die verbeelding.    

Die teologiese argumente en begronding in die verskillende hoofstukke van Mission Moves behoort nie vir meeste lesers wat belangstel in hierdie tema nuut te wees nie, maar die empiriese navorsing vanuit ’n Suid-Afrikaanse en gereformeerde oord verleen gewig aan die werk. Die verhale en praktyke van ander gemeentes wat dit regkry om saam met lidmate oor grense te beweeg, asook die teologiese en kritiese nadenke daaroor, bevestig weer dat die kerk iets het om te sê en dit moet sê. 

’n Mens vind ‘n goeie spanning tussen die “doen” en “wees” van die Missio Dei. Daar is goed wat gemeentes binne erediens-ruimtes kan doen om die missionale identiteit van hulle gemeente te vorm, maar hierdie doen-funksies vloei uit die besef dat gemeente nie anders kan as om missionaal te wees nie. Dit is die aard van die Missio Dei. Ons is nie ’n boekklub nie, maar deel van die lewende en bewegende liggaam van Christus.

Ongelukkig sal Mission Moves nie baie toeganklik wees vir lidmate wat nie gewoond is aan die skryfstyl van akademiese materiaal nie. Andersins sou dit ’n fantastiese bron vir kerkrade/lidmate wees wat wonder oor kerk post-covid. Hierdie boek help om verbeelding te skep, dit oortuig en bevestig identiteit, en roep selfs vir bekering.

  • Johan Botes is ‘n predikant by die NGK Gordonsbaai.

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top