Haatpos en dreigemente maak van haar vredesaktivis

’n Foto van haar as Mej Irak tesame met haar Israeli-eweknie gevolg deur ’n boodskap van welwillendheid daarby op Instagram het in 2017 ontaard in doodsdreigemente vir haar en haar familie. Dit het Sarah Idan nie ontmoedig nie, maar eerder aangespoor om ’n vredesaktivis te word.

Idan was hierdie week vir die eerste keer op besoek in Suid-Afrika en wel op uitnodiging van die Suid-Afrikaanse Raad van Joodse Afgevaardigdes (SAJBD) om by verskillende universiteitskampusse haar verhaal met ’n pleidooi vir vrede tussen Islam-nasies en Israel te vertel.

’n Verhaal wat sy ook vertel het tydens ’n onlangse ontbytontmoeting met ’n klein groepie joernaliste in Kaapstad waarheen Kerkbode ook genooi is. Dit is ’n uitnodiging wat ’n mens se nuuskierigheid geprikkel het want Idan is ’n moslem.

By die ontbyt vind ons uit die tydsberekening van hierdie 32-jarige langbeen brunet se besoek aan Suid-Afrika is glad nie toevallig nie – dit val saam met vanjaar se aanbieding van Israeli Apartheid Week wat die laaste 16 jaar wêreldwyd in meer as 200 universiteite en stede gehou word om steun vir Palestyne in die Joodse staat Israel te werf.

Na die ontbyt vlieg sy dan ook direk Johannesburg toe vir die eerste van vele optredes om met studente te praat oor haar pad van Mej Irak as Mej Heelal-deelnemer tot dié van vredesaktivis wat haar vir versoening tussen dié twee geloofsgroepe beywer met haar nieregeringsorganisasie Humanity Forward.

’n Uitdagende taak in enigeen se boeke. In sagte Engels vertel Idal toe haar storie. Hoewel sy gebore en grootgeword het in die Irakse hoofstad Bagdad, het sy na die burgeroorlog in die land na Amerika verhuis om musiek te studeer. ’n Paar jaar later het sy in 2017 die skoonheidswêreld betree as die eerste Mej Irak wat in meer as 45 jaar verkies is om haar land by die Mej Heelal kompetisie in Las Vegas te verteenwoordig. “Dit was waarskynlik omdat hulle iemand wou kies wat Engels kan praat,” verduidelik sy.

Daar raak sy bevriend met Mej Israel, Adar Gandelsman, en in die gees van welwillendheid plaas sy van hulle twee ’n selfportret op haar Instagram-profiel met die woorde “Vrede en liefde van Mej Irak en Mej Israel” gevolg deur twee hartjies.

Die gebaar ontketen ’n storm in haar geboorteland met doodsdreigemente aan haar en haar familie wat binne drie dae uit die land moes vlug. Dié belewenis het haar gemotiveer om ’n aktivis te word wat haar openlik uitspreek vir ’n einde aan die vyandigheid en anti-semisme vanaf mede-moslems teenoor Israel, selfs al kry sy nou nog dreigemente oor wat sy doen.

Sarah Idan (regs) se selfie saam met Adar Gandelsman as Mej Israel by die Mej Heelal-skoonheidskompetisie in 2017. Foto: Instagram

Sy is nie ’n politikus nie, sê Idal maar sy glo dis verkeerd dat soveel Moslem-kinders van jongs af geleer word om Jode en Israel te haat. Daarom ondersteun sy 100% vredesinisiatiewe soos die Abraham-ooreenkoms (Abraham Accords) waarin vier Arabiese state in 2020 by Jordanië en Egipte aangesluit het om vrede met Israel te verklaar. “Dit bring ’n positiewe verandering,” sê Idal wat haarself beskryf as ’n moderne Moslem wat glo God is ’n God van liefde, “‘n Mens hoef net na die natuur te kyk om te sien wie God is,” sê Idan.

Op die vraag wat vir haar uitstaan sover in haar besoek aan ons land, vertel sy dat haar besoek aan die Sharpeville-gedenkmonument op die Sondag voor Menseregtedag vir haar ’n ongelooflike ervaring was. Dit is die blydskap en mooi danse waarmee inwoners haar met haar aankoms verwelkom het wat haar verras het. “Ek het nog nooit mense wat voorheen onderdruk was met soveel vreugde sien optree nie. Dit het my so baie geleer van Suid-Afrikaners se gees,” sê Idan, die voormalige skoonheidskoningin nou menseregte-aktivis wat ook laat glip dat sy baie graag die pikkewyne aan die Kaap te siene sou wou kry, maar daar is nie nou tyd nie – so sy hoop om weer te kom, die keer op vakansie. 

Word 'n vriend van Kerkbode