Vryheidsdag, 27 April, is ook ons gelowiges s’n

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Freek Swanepoel, ’n mede-lidmaat, skryf:

                          Ai, dis my land,

                        dis my Suid-Afrika!

Só het ons as Penkoppe uit volle bors by die Voortrekkers gesing.

In die kerk het ons weer saam met die gemeente oor ons volk gesing,

                          deur U op aard’ geplant.

Dit het ons gevorm om die Here as Skepper en Beskikker te erken en dat ons ons mooi land en sy mense van God ontvang. Só het ons van kleinsaf ons verbondenheid en lojaliteit aan Suid-Afrika en sy leiers gehad.

As gelowiges is ons ook geleer dat ons ’n verantwoordelikheid het om vir ons land en sy mense te bid,

                   Heel eerste versoek ek dat smekinge, gebede, voorbidding

                 en dankgebede vir alle mense gedoen word,

                 vir konings en vir almal wat gesagsposisies beklee … (2 Tim 2:1-2).

Daar was immers talle dae en spesiale biddae waarop ons spesifiek vir Suid-Afrika, ons land, gebid het.

Tans ervaar ek nie dieselfde lojaliteit en ywer om vir Suid-Afrika te bid nie. Die meeste sekulêre openbare vakansiedae kom nie direk uit ons geskiedenis nie en kry nie aftrek nie, behalwe 16 Desember en Erfenisdag as ‘braaidag’.

Daar is egter een dag op ons kalender wat vir ons geskik is om as biddag en dankdag vir ons land te dien en dit is Vryheidsdag. Vir my is dit die dag wat uitstaan bo alle ander sekulêre openbare vakansiedae.

Die volgende faktore dra daartoe by dat ek 27 April as lojale burger en gelowige voorbidder ten volle kan benut om my vryhede in die land te erken en te vier. Daarom glo ek dat Vryheidsdag ook ons gelowiges s’n is.

  • Op 27 April 1994 het miljoene gelowiges téén geweld gestem en vír ’n vreedsame staatkundige oorgang in Suid-Afrika.
  • Ons beleef almal vryheid op vele terreine, veral godsdiensvryheid. Ons kon voortgaan om die vryheid in Jesus Christus as opgestane Heiland te beleef en te verkondig.
  • As NG Kerk kon ons apartheid agterlaat en op nuwe wyses mense ophef, armoede bekamp en selfs paaie herstel.
  • Daar is baie terreine waar onreg en ongelykheid en korrupsie nog die botoon vier.

U sal seker saamstem dat daar baie redes is vir dankgebede en selfs nog meer vir smekinge. Ons wil tog nie ons lojale gevoel vir Suid-Afrika heeltemal ontken nie en ons opdrag om vir die land te bid verloën nie. Daarom nooi ek u om op 27 April, so om en by 08:00, dalk met die gelui van ons kerkklok in die verte, saam met my te bid op die voetspoor van Paulus se versoek aan Timoteus. Weer help ons liedboek ons met die regte woorde:

                          Hoor ons, o Heer, wanneer ons bid

                           vir hierdie dierbaar land.

                          Gee, Here, vryheid in ons land

                           om U te loof en prys;

                           die ware vryheid van u Woord

                           aan elke mens te wys (Liedboek 282:2 + 5).

Selfs die slotdeel van ons nasionale lied roep ons op met die woorde:

                           Let us live and strive for freedom,

                           in South Africa our land.

  • Emeritus-ds Freek Swanepoel was in die voorsitterstoel by die NG Kerk se Algemene Sinode van 1994, ook gedoop die “sinode van versoening”. Hy beskryf die gebeure voor, tydens en na die sinodesitting in sy boek, Die eerste tree: Die NG Kerk en versoening, 1994-1998. Red.
Word 'n vriend van Kerkbode